Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Ontwrigting van bestaande geweldsiklusse nodig
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 26/08/2021


Dr Selina Palm vervul verskeie funksies, onder meer dié van 'n opvoedkundige, kurrikulumontwerper, jeugleier, fasiliteerder van genderbillikheid, feministiese teoloog en sosiologienavorser. Hierdie uiteenlopende rolle word alles aangevuur deur haar uitsonderlike toewyding aan die bevordering van interseksionele maatskaplike geregtigheid.

Vanuit die Eenheid vir Godsdiens- en Ontwikkelingsnavorsing in die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch (US), beywer dr Palm haar vir die ontwrigting van bestaande maatskaplike stelsels wat 'n negatiewe uitwerking het op pogings om 'n goeie lewe vir alle genders en ouderdomme te skep. Sy konsentreer veral op kwesbare kinders, vroue, persone met gemarginaliseerde seksualiteite​​ en diegene met gestremdhede.

Sedert sy haar aan die begin van 2017 by die Fakulteit aangesluit het, pas sy haar interdissiplinêre kennis toe om 'n wye verskeidenheid dilemmas met betrekking tot godsdiens, kultuur, ontwikkeling, menseregte, maatskaplike geweld, geregtigheid sowel as seksuele en voortplantingsgesondheid en -regte te ondersoek.

As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, het sy ons meer oor haar werk vertel.

Vertel ons meer oor jou navorsing.

Ek werk in die Eenheid vir Godsdiens- en Ontwikkelingsnavorsing, 'n interdissiplinêre eenheid in die Fakulteit Teologie. Ek gebruik 'n feministiese lens vir my navorsing, wat ten doel het om plek te maak vir diegene wat dikwels van studies en die samelewing uitgesluit word, sodat hulle óók kan deelneem en oor hulle verhale en ervarings kan praat op 'n manier wat 'n ander tipe toekoms vir ons Afrika-samelewing kan skep.

Ek wil verstaan hoe verskillende vorme van maatskaplike geweld oorvleuel, byvoorbeeld maatskaplike geweld teen vroue, kinders, queer persone, en diegene met gestremdhede, veral in hulpbronarm-en konflikverwante omgewings. Ek bestudeer alle godsdienste en kulture deur 'n kritiese dog konstruktiewe lens om die verskuiwing van maatskaplike norme en die behandeling van verskillende groepe te ondersoek.

Ek werk oor verskillende geloofsgemeenskappe en vyf vastelande heen, met van klein organisasies in Kaapstad tot groter instansies op internasionale vlak. Die doel van my werk is om 'n aantal skadelike praktyke wat meisies​ se welstand bedreig, waaronder kinderhuwelike, stop te sit, en om geloofsrolspelers as belangrike bondgenote by die proses te betrek.  

Waarom of hoe het jy in hierdie bepaalde navorsingsgebied begin belang stel?

Voordat ek my by die US aangesluit het, ek het jare lank as 'n praktisyn op voetsoolvlak met kwesbare kinders en persone met MIV en vigs in Oos- en Suider-Afrika gewerk. Ek was in daardie tyd getuie van verskillende soorte familieverwante geweld en seksuele stigma in families en gemeenskappe, wat dikwels vasgevang was in bose kringlope van tussengenerasiemishandeling, armoede en ander uitdagende dilemmas. Ek het soveel vrae gehad oor wat ons moet leer en beter verstaan om hierdie maatskaplike patrone op 'n volhoubare manier te verander. Nou wil ek met my werk 'n brug probeer bou tussen die teorie en praktyk, tussen die akademie en voetsoolvlak-aktivisme, en tussen sekulêre en godsdienstige sienings.

Waarom dink jy is dít so 'n belangrike navorsingsgebied vir vroue/meisies in Suid-Afrika (of wêreldwyd)?

Statistieke van geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika is deesdae van die hoogste ter wêreld. Soveel hiervan het sy oorsprong in ons lang koloniale verlede van oorvleuelende ongelykhede, en in die tussengenerasietrauma in mense se lewens. Ons moet geweldskringlope doelbewus ontwrig deur aandag te gee aan waarom manlikheid en vroulikheid op 'n sekere manier voorgestel word. Ons moet ook genderbelaaide maatskaplike norme bevraagteken wat baie vroue steeds uitbeeld as minder werd as mans, of wat hulle vaskeer in huise van knegskap, in plaas daarvan dat vroue en mans sáám floreer in huishoudings van vryheid. Ons het baie goeie wette in die land, maar die wette verskil hemelsbreed van wat mense daagliks op voetsoolvlak ervaar. In dié opsig kan Suid-Afrika belangrike navorsingsbydraes lewer tot die wêreldwye gesprek, wat nog gedekoloniseer moet word.

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveer?

Baie van my navorsingsprojekte moes halfpad van koers verander. Aan die begin van 2020 het ek en my kollega, dr Elisabet le Roux, byvoorbeeld pas begin met 'n Photovoice 2.0-projek met vrouestudente by die US om die dryfvere vir die kampusverkragtingskultuur hier te ondersoek. En skielik was daar niemand op kampus nie. So, ons moes heelwat aanpassings maak. Nietemin toon my navorsing keer op keer hoe belangrik dit is om buigsaam en aanpasbaar te wees.

Ondanks al die hartseer en spanning, glo ek hierdie pandemie bied ons almal ook moontlikhede om sterker en beter anderkant uit te kom. Ons hoef nie terug te keer na 'n normaal wat dikwels onveilig was vir vroue en kinders nie; ons kan aanbeweeg na 'n 'nuwe normaal'. Maatskaplike norme kan verander: Kyk net hoe het Suid-Afrikaners en die wêreld binne 'n skrale jaar aangepas om hierdie jongste krisis die hoof te bied. Suid-Afrika is ook 'n leier in die studie van die dubbele pandemies van COVID-19 en geweld teen vroue en kinders. As deel van my betrokkenheid by die Kring van Besorgde Afrikavroueteoloë, stel ons juis vandeesmaand (Augustus 2021) die boek A Time Like No Other bekend, wat handel oor die ervarings van gewone vroue en meisies in Suid-Afrika wat met hierdie dubbele pandemies saamleef. Dis daardie verhale van gewone mense in die burgerlike samelewing wat op soveel maniere opstaan en vorentoe tree wat my hoop gee. 

Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag.

Ek doen graag in my vrye tyd Afro-Latynse dans, veral Kizomba, wat uit Angola kom. My pa het kleintyd saam met sy suster in die strate van Johannesburg gedans. Wanneer ek dans, voel ek besonder na aan my Afrika-voorgeslagte, so dis 'n tipe selfsorg. Dit help my ook my kop afskakel en net in my lyf wees, wat iets is waarmee akademici dikwels sukkel. En laastens bring dit my op 'n feestelike en vreugdevolle manier nader aan vele ander genders, wat vir my 'n noodsaaklike balans bied met my feministiese navorsing oor geweldsvoorkoming, wat by tye ontsettend negatief kan voel.

Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vrouenavorsers?

Eerstens, om te onthou dat vroulike selfsorg 'n feministiese handeling is; om te glo dat navorsingsmetodologieë 'n werktuig vir ontwrigting kan wees, en om die deug van leergierigheid aan te leer.

Tweedens is dit vir my persoonlik belangrik om te lees, om skeppende navorsing te doen, en om nie net op dekonstruksietake en negatiewe dinge te konsentreer nie. Om gemeenskaplike visies vir alle genders en ouderdomme te skep gaan daaroor om die stelsels te ontwrig wat aan sommige meer waarde heg as aan ander; nie om deel te word van die stelsel en die nuwe 'baas van die plaas' te probeer wees nie.

Derdens frustreer dit my wél om te sien hoe feministiese bewegings onder mekaar stry oor kwessies soos sekswerk, geweld teen seuns, of transregte. Ons moet interseksionele vertrouensalliansies bou om robuus oor hierdie komplekse kwessies te gesels, en na maniere soek om na mekaar se verhale te luister. As ons bewegings van binne begin uitmekaarval, kry patriargie, wat ook vele mans en seuns skade aandoen, immers al hoe meer mag.

  • Dr Selina Palm het al verskeie publikasies, van navorsingsreferate en tydskrifartikels tot verslae en boekhoofstukke, die lig laat sien. Klik hier vir 'n oorsig van haar werk.
  • Vir haar bydrae as medeskrywer van die VN-vroueprogram se onlangs gepubliseerde navorsingspublikasie “Engaging faith-based and traditional actors for VAWG prevention", klik hier.