Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente slaan ag op oproep om ingeënt te word
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 25/08/2021

​Studente van die Universiteit Stellenbosch (US) slaan ag op die oproep om hulle te laat inent teen COVID-19 ná die onlangse aankondiging dat die inentingsprogram nou ook na mense wat 18 jaar en ouer is, uitgebrei is.

Meer as 300 studente het reeds by die COVID-19-inentingsentrum by die US se Lentelus-sokkerklubhuis in Hammanshandweg op Stellenbosch aangemeld. Vrydag (20 Augustus 2021), die eerste dag wat mense van 18 jaar en ouer hulle kon laat inent, het 106 studente die instapdiens wat die inentingsentrum aan studente bied, gebruik. Maandag, 23 Augustus is altesame 244 studente by die sentrum ingeënt en Dinsdag, 24 Augustus 206 studente.  

Die inentingsprogram, wat deur die US se Kampusgesondheidsdiens bestuur word, het op 10 Augustus begin om Pfizer-inentings aan geskikte personeellede wat 35 jaar en ouer is, toe te dien.

Tans kan studente wat 18 jaar en ouer is, hulle by die instapsentrums by Lentelus (tussen 11:00 en 14:30, Maandag tot Vrydag) of by die Van der Stel-sportterrein (tussen 11:00 en 14:00, Maandag tot Vrydag) laat inent.

Lede van die publiek is ook welkom om die sentrum se dienste te gebruik.

Die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking het met van die studente gesels wat hul inspuitings by die inentingsentrum ontvang het.

Jhade Bredenkamp, 'n MSc-studente in Fisiologiese Wetenskap, ondersteun die veiligheid van die inenting en het diegene wat dink die entstof is nie veilig nie, aangemoedig om die korrekte inligting te bekom.

Caleb Cousins, 'n vierdejaar Elektroniese Ingenieurswese-student, het ook Maandag sy inenting ontvang. “Ek is opgewonde oor die inenting. Dit is die beste opsie om jouself te beskerm."

Nog twee ander studente wat reeds hul inentings ontvang het, Rochelle van Heerden en Jamie Llewellyn Lamprecht, het hul medestudente aangemoedig om verantwoordelik te wees en hul inentings te kry, en om van die maklik-toeganklike inentingsentrums wat tot die US-gemeenskap se beskikking is, te gebruik. Baie studente het gesê hulle is opgewonde oor die inenting en is nie afgesit deur die lang tou waarin hulle moes staan om hul inspuitings te ontvang nie.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US wat ook verlede maand sy inenting by die sentrum ontvang het, is bemoedig deur die goeie opkoms by die inentingsentrum.

“Die foto's van die lang toue buite die US se eie inentingsentrum by die Lentelus-sokkerklubhuis maak my ontsettend trots op ons studente en personeel wat besluit het om deel van die oplossing te wees. Soos ek reeds voorheen gesê het: 'Geen inspuiting, geen pret!'"

De Villiers het die US-gemeenskap aangemoedig om ingeënt te word.

“Ek wil diegene wat nog huiwerig is, die versekering gee: Die COVID-19-inenting – hetsy jy die Pfizer- of die Johnson & Johnson-entstof ontvang – is heeltemal veilig. Dit is getoets en goedgekeur deur gesondheidsowerhede. En die belangrikste is: Dit red lewens.

 

“Dit is waarvoor entstowwe ontwerp is en wat dit al dekades lank wêreldwyd doen. Entstowwe het gehelp om pokke uit te roei en om te voorkom dat siektes soos polio en TB ernstige siekte en sterftes veroorsaak. En nou doen dit dieselfde vir COVID-19."

Dr Pierre Viviers, Senior Direkteur by die Kampusgesondheidsdiens, moedig ook mense aan om die sentrum te gebruik. “Inentings is die vinnigste manier om kudde-immuniteit te bereik om die verspreiding van die virus te beperk en om die ramp wat dit veroorsaak het, teen te werk," sê Viviers.

  • Klik hier om meer te lees oor die US se inentingsprogram.
  • Klik hier vir meer inligting oor inentingsentrums nader aan jou tuiste.

Vir meer inligting, besoek www.sacoronavirus.co.za/active-vaccination-sites.​


Fotograaf: Stefan Els