Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Is die sleutel tot gewigsverlies dalk in die speseryrak?
Outeur: Logan Smith & Hanél Sadie-Van Gijsen
Gepubliseer: 24/08/2021

Studies wat dusver gedoen is, toon dat speserye soos borrie, rissies, kaneel, gemmer en knoffel nie help om liggaamsgewig te verminder nie, maar dat dit wel ander gesondheidsvoordele inhou wat kan help om diabetes en hartsiektes in toom te hou. Só meen Logan Smith & dr Hanél Sadie-Van Gijsen van die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing (CARMA) in ʼn meningsartikel vir Health24 (24 Augustus 2021).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Logan Smith & Hanél Sadie-Van Gijsen*

Vetsug word as 'n wêreldwye gesondheidskrisis erken, en meer as 50% van Suid-Afrikaners is oorgewig. Dit verhoog die risiko vir hartsiektes, beroertes en diabetes. Daar is egter positiewe aanduidings dat die impak van vetsug verminder kan word deur geliefde en algemeen beskikbare speserye, insluitende borrie, rissies, kaneel, gemmer en knoffel. Hierdie speserye en geurmiddels bied goedkoop en veilige ondersteuning van gewigsverlies-medikasies en dieetplanne, en kan help om metabolise versteurings te verbeter. 

Navorsing oor borrie (Curcuma longa) en die aktiewe bestanddeel kurkumien het getoon dat dit verskeie gesondheidsvoordele inhou, insluitende anti-oksidant, anti-inflammatoriese en anti-diabetiese effekte, asook voordele vir hart-en breingesondheid. Ongelukkig lyk dit nie of borrie kan help met gewigsverlies nie. 'n Sistematiese oorsig en meta-analise van 21 ewekansige proewe het bevind dat kurkumien-gebruik slegs 1 tot 2 kg gewigsverlies kon bewerkstellig in vetsugtige persone met metaboliese sindroom, terwyl ander proewe bevind het dat kurkumien nie gewigsverlies-voordeel inhou nie. Die persone wat aan hierdie studies deelgeneem het, het òf borrie-poeier òf kurkumien-kapsules gebruik, in doserings wat gewissel het van 70 – 3000 mg per dag, en die lengte van die proewe het gewissel tussen kort (vier weke) tot baie lank (agt maande).

Die goeie nuus is dat verskeie van die proewe getoon het dat kurkumien cholesterolvlakke kon verbeter en inflammasie kon verminder, wat dus tot voordeel kan wees vir persone met diabetes en hartvatsiektes. Kurkumien vorm egter slegs 'n klein breukdeel van borrie-poeier, en dus sal òf baie groot hoeveelhede borrie-poeier òf kleiner hoeveelhede suiwer kurkumien ingeneem moet word om hierdie metaboliese voordele te kan geniet.  

Rissies (genus Capsicum) word deur sommige van ons geniet en deur ander gevrees, maar wetenskaplikes bestudeer nou al 'n geruimde tyd die effektiwiteit van rissies om liggaamsvet te verbrand. Sommige studies het voorgestel dat kapsaïsien, die rooiwarm aktiewe bestanddeel van rissies, 'n gevoel van versadiging kan aanhelp, wat dus voedsel-inname kan verminder, maar ander navorsers het gereken daardie “vol" gevoel is bloot as gevolg van omgekrapte spysvertering. Hoe dit ook al sy, dit lyk nie of hierdie effekte help om betekenisvolle gewigsverlies teweeg te bring nie.

'n Meta-analise van ses kort (4 tot 12 weke) proewe op kapsaïsien, met doserings tussen 3 mg per dag en 135 mg per dag, kon slegs 'n gemiddelde van 500g gewigsverlies aantoon, hoewel 'n paar ander studies aangedui het dat effens groter gewigsverlies (1.5 tot 2 kg) bereik sal kan word deur kapsaïsien met ander produkte soos gemmer en groen tee te kombineer. Gemmer op sy eie kon ook slegs minimale gewigsverlies (minder as 1 kg) in oorgewig persone teweegbring, maar dit het wel vastende bloedsuikervlakke verminder, en ook insuliensensitiwiteit en cholesterolvlakke verbeter, hoewel dit verrassend genoeg geblyk het dat laer hoeveelhede gemmer (tot en met 1 gram per dag) meer effektief was as groter hoeveelhede.   

Kaneel, wat geoes word van verskillende boomspesies in die Cinnamomum genus, is nog 'n spesery wat al 'n geruime tyd oorweeg word vir gebruik teen vetsug. Kliniese proewe op kaneel vir gewigsverlies word egter meestal in persone met tipe 2-diabetes uitgevoer. Die gekombineerde resultate van 18 proewe bevind het dat kaneel-inname (tipies tussen 1 mg en 3 mg per dag) oor 'n verloop van twee tot vier maande wel vastende bloedsuikervlakke kon verlaag. Ongelukkig het kaneel-inname geen effek op liggaamsgewig, middel-omtrek, of ander merkers van diabetes soos insulienweerstandigheid gehad nie. Die goeie nuus is dat 'n meta-analise van 13 proewe gevind het dat kaneel-inname cholesterolvlakke van persone met tipe 2-diabetes kon verbeter. Die effek van kaneel op liggaamsgewig en cholesterolvlakke in andersins gesonde persone is egter nog nie in kliniese proewe getoets nie. Daarmee saam is dit belangrik om te onthou dat kaneel 'n giftige bestanddeel, koemarien, bevat, waarvan die vlakke wissel afhangende van die spesifieke Cinnamomum spesie en die metode waarop die kaneel voorberei is. Hier is dit dus nie 'n geval van “'n bietjie is goed (en lekker), dus moet meer beter wees" nie!

Nog 'n geliefde geurmiddel in kos is knoffel (Allium sativum), wat sedert antieke tye gebruik word om enigiets van kanker tot verkoue te probeer behandel. 'n Analise van 13 kliniese proewe het bevind dat knoffel weinig effek op liggaamsgewig gehad het, maar dat dit wel 'n klein maar betekenisvolle vermindering in middel-omtrek teweeg gebring het. Dit is ʼn aanduiding dat knoffel dalk spesifiek die metaboliese gevaarlike middel-vet kan aanspreek. Een studie op 40 pasiënte met vetsug en metaboliese sindroom het ook aangedui dat die inname van vars knoffel twee keer per dag hul hoë bloeddruk en hoë vastende bloedsuikervlakke kon verlaag, en ook hul middel-omtrek kon vermider.

Oor die algemeen, selfs wanneer die data van al hierdie proewe gekombineer word, is dit duidelik dat die effektiwiteit van hierdie speserye en geurmiddels om liggaamsgewig te verminder maar nog net in klein hoeveelhede mense (meestal minder as 'n duisend oor die wêreld heen) getoets is. Hierdie proewe het aangetoon dat speserye nie help om liggaamsgewig te verminder nie, maar dat dit wel ander gesondheidsvoordele inhou wat kan help om diabetes en hartsiektes aan te spreek. Dit is ook moontlik dat kombinasies van hierdie speserye meer effektief sal kan wees vir gewigsverlies, hoewel dit nog nie in proewe getoets is nie. Onthou net dat hierdie produkte nie medikasie wat deur jou dokter voorgeskryf is, kan vervang nie; ten beste kan hulle metaboliese ondersteuning bied en terselfdertyd ook jou maaltye opkikker.

*Logan Smith en Dr Hanél Sadie-Van Gijsen is verbonde aan die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing (CARMA) in die Afdeling Mediese Fisiologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.