Vislyn en nette het 'n groot impak op Kaapse pelsrobbe (Arctocephalus pusillus pusillus), die algemeenste mariene soogdier wat aan die kuslyn van Suid-Afrika en Namibië waargeneem word, waar hulle endemies is.
Alhoewel hul bevolkingsgetalle as gesond beskou word, veroorsaak plastiekbesoedeling, en veral vislyn en nette, erge beserings en kan dit 'n stadige, pynlike dood tot gevolg hê.
Dit is die eerste resultate van 'n projek wat sedert 2018 die impak van besoedeling op Kaapse pelsrobbe in Namibië ondersoek. Navorsers en omgewingskundiges van die Universiteit Stellenbosch, die Namibië Dolfynprojek en Sea Search, asook Ocean Conservation Namibia, is betrokke by die monitering van die impak van plastiekbesoedeling op die diere. Die eerste bevindings van dié projek is vandeesweek in die vaktydskrif Marine Pollution Bulletin gepubliseer.
Die studie het getoon dat dit meestal kleintjies en jeugdige robbe is wat hoofsaaklik deur vislyn om die nek verstrengel word. Van die twee kolonies wat by Walvisbaai en Kaap Kruis gemonitor is, is ongeveer een uit 500 diere geaffekteer. Sedert 2018 het 'n span vrywilligers, onder leiding van Naudé Dreyer van Ocean Conservation Namibia, 191 van die 347 verstrengelde diere wat gedokumenteer is, suksesvol gehelp om los te kom.
Omdat die span in Afrika werk, met beperkte hulpbronne, het hulle ook die mees doeltreffende en bekostigbare metodes vir die insameling van data ondersoek. Hulle het bevind dat fotografiese skanderings van die kolonies 'n vinnige en akkurate metode was om data te versamel oor verstrengelde individue en die materiaal waarin hulle vasgevang is.
Dr Tess Gridley, mede-direkteur van die Namibië Dolfynprojek en 'n buitengewone senior dosent aan die US se Departement Plant- en Dierkunde, sê plastiekbesoedeling en veral verlore vislyne en weggooi visnette het 'n groot invloed op die seelewe: “Sodra hierdie robbe verstrengel is, staar hulle 'n baie pynlike en onsekere toekoms in die gesig: dit word moeiliker om kos te vind, en soos die wonde dieper word, beperk dit hul vermoë om te beweeg en dikwels lei dit tot hul dood. Beleidsverandering kan help, soos finansiële aansporing om verlore lyne te herwin, die verantwoordelike wegdoen van nette en volhoubare alternatiewe vir plastiek".
Stephanie Curtis, 'n nagraadse student verbonde aan die Namibië Dolfynprojek en hoofskrywer van die artikel, sê die impak van plastiekbesoedeling op die oseane is verwoestend: “Robbe moenie op hierdie manier ly net omdat ons nie ons eie gemors kan beheer nie".
Volgens dr Simon Elwen, mede-direkteur van die Namibië Dolfynprojek en ook verbonde aan die US se Departement Plant- en Dierkunde, is pelsrobbe veral kwesbaar om so verstrengel te raak: “Hulle is baie nuuskierige en speelse diere en sal voorwerpe in die water ondersoek. Maar omdat hulle so 'n dik pels het, raak die lyne maklik verstrengel in die dik pels. "
Naudé Dreyer van Ocean Conservation Namibia sê die projek is steeds aan die gang: “Sedert die begin van 2021 het ons reeds meer as 600 pelsrobbe in slegs twee kolonies gehelp om van vislyne en nette ontslae te raak. Hierdie is net die punt van die ysberg. Dit is noodsaaklik dat studies soos hierdie die gevolge van plastiebesoedeling op seediere beklemtoon en verandering ten goede meebring".
Foto's, video en 'n pdf van die artikel is beskikbaar by https://drive.google.com/drive/folders/1TIJEkkX6Y_QR-Eb4dWt55zG9am3t3udr?usp=sharing
Media onderhoude
Dr Tess Gridley
Mede-direkteur van die Namibië Dolfynprojek en Sea Search, en buitengewone senior dosent in die Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch
E-pos: nam.dolphin.project@gmail.com.
Sel: +27(0)794292702
Landlyn : +27 (0) 21 788 1206
Mr Naudé Dreyer
Ocean Conservation Namibia
E-pos: info@ocnamibia.org
Sel: +264 (0) 81 149 7377
Dr Simon Elwen
Mede-direkteur van die Namibia Dolphin Project en Sea Search en 'n navorsingsgenoot in die Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch
E-pos: Simon.Elwen@gmail.com
Sel: +27(0)711395951
Landlyn : +27 (0) 21 788 1206