Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USVroue: Bemagtig vroue om gelyke vennote in die samelewing te wees
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 19/08/2021

​Vir dr Tasneemah Cornelissen-Nordien, 'n maatskaplikewerkpraktisyn, het haar werk nog altyd daaroor gegaan om kwesbare mense te help.

Voordat sy haar as 'n dosent in die Departement Maatskaplike Werk by die Universiteit Stellenbosch (US) aangesluit het, het sy jare lank gemeenskapswerk gedoen by organisasies soos Resources Aimed at the Prevention of Child Abuse and Neglect (RAPCAN), Big Brothers Big Sisters of South Africa, en Youth Outreach. Haar werk het hoofsaaklik oor ondersteuning vir seksueel mishandelde kinders gehandel, wat toe ook die onderwerp word van haar PhD wat sy in 2019 behaal het.

As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, het sy ons meer van haar werk vertel.

Vertel ons meer van jou navorsing.

My navorsingsbelangstellings hou hoofsaaklik verband met kinders. My PhD het spesifiek oor seksueel mishandelde kinders gehandel, en die gebrek aan dienste tot hulle en hulle versorgers se beskikking.

Waarom of hoe het jy in hierdie bepaalde navorsingsgebied begin belang stel?

Voordat ek by die US begin werk het, was ek 'n maatskaplike werker in die hof vir seksuele misdrywe. Daar het ek pynlik bewus geword van die behoefte aan bemagtigingsdienste vir seksueel mishandelde kinders, sowel as ondersteuning vir hulle versorgers. Daar was 'n duidelike tekort aan dienste – nie net vir slagofferondersteuning by die hof gedurende die verhoor nie, maar ook vir heling en herstel. So, toe ek met my PhD begin, wou ek graag die aard van die beskikbare ondersteuning bepaal. My navorsing het die gebrek én dringende behoefte aan steundienste bevestig, veral in landelike gebiede.

Waarom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsgebied vir vroue/jong meisies in Suid-Afrika (en wêreldwyd)?

Seksuele mishandeling van kinders is deesdae algemeen in die samelewing, en dikwels is meisies die slagoffers. My navorsing het ook getoon hoe veral meisies gedwing word om hulle seksualiteit te gebruik om 'n bestaan vir hulleself en hulle gesinne te maak, en sodoende die slagoffers van seksuele mishandeling word. Dit gebeur meestal in verhoudings met sogenaamde “blessers", waarin jong vroue kwansuis finansieel en materieel “baat vind" by seksuele verhoudings met ouer mans. Meisies en vroue moet dus bemagtig word om nie afhanklik te wees van hulle manlike eweknieë nie, maar om gelyke vennote in die samelewing te wees. Waar koestering, opvoeding en versorging 'n prioriteit is, word seksualiteit nie as 'n kommoditeit beskou nie. 

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou gemotiveerd in hierdie tyd?

Die lyn tussen die werk en die huis het aansienlik vervaag en alles het weliswaar verander. Ek het nog altyd my werks- en huislewe apart probeer hou om te keer dat die werk met my verantwoordelikhede as ma en huweliksmaat inmeng, maar nou is my huis 'n werk-, vermaak- en speelplek, 'n skool, 'n dag- en nasorgfasiliteit, en veral ook 'n plek van veiligheid.

So, wat hou my gemotiveerd? Meestal my dogters. Imaan (8) en Abrar (3) hou my op my tone. Die twee is lewenslustig, energiek en het 'n wil van hulle eie. Ek wil vir hulle die beste voorbeeld stel wat ek moontlik kan, en wys dat vroue sterk is en enigiets kan bereik wat hulle graag wil, solank hulle daarvoor werk. Terselfdertyd het dogters egter ook ondersteunende en liefdevolle mans in hulle lewens nodig, hetsy pa's, oupas of ooms – mans wat nie deur sterk vroue geïntimideer word nie.

Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag.

Ek is skaam, en 'n groter introvert as wat die meeste mense dink. Ek verkies om agter die skerms te werk, en waardeer my man se bydraes baie.

Wat is jou boodskap vir die volgende geslag vrouenavorsers?

Stel jou eie doelwitte, jaag jou eie belangstellings na, en moet nooit jou prestasies of sukses met ander s'n vergelyk nie. Jou prestasies is jou eie.

 Klik hier vir meer oor dr Cornelissen-Nordien se navorsingswerk.