Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mededingende menslike waardes maak natuurbewaring meer kompleks
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 19/08/2021

Natuurbewaring kan op sy beste maar uitdagend wees. En wanneer jy nog mededingende menslike waardes ook byvoeg, word die beskerming van veral bedreigde spesies nog meer ingewikkeld.

“Ons waardes bepaal hoe ons met bedreigde spesies omgaan, en ons oortuigings weerspreek en ding met ander mee. Ons waardes bepaal ook of ons bedreigde spesies verbruik of bewaar, of ons ekstraktiewe of ontspannende ekonomiese aktiwiteite waarby bedreigde spesies betrokke is, ondersteun, of ons waarde aan die dooie of lewendige dier heg, en of ons enigsins omgee," sê die natuurliefhebber Lindsay Mandy wat onlangs haar meestersgraad in Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

Sy het navorsing gedoen oor huidige bewaringsmetodes in Suider-Afrika (Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek en Suid-Afrika) en veral op leeus en aasvoëls gefokus omdat die bewaring van hierdie diere deurspek is met politieke probleme en ons tyd nou min raak om hulle te red.

Mandy het in haar navorsingstudie probeer bewys dat die bewaring van bedreigde natuurlewe 'n ingewikkelde maatskaplike, ekonomiese en politieke natuurlike hulpbron-konflik geword het. Sy meen om dit te hanteer, moet ons ook op die mededinging tussen teenstrydige menslike waardes wat inherent “sleg" is in hul aard, fokus. Dit is die sogenaamde Slegteprobleemteorie (oftwel, Wicked Problem Theory).

“Slegte probleme dring onder meer deur politieke grense, instellings, sakesektore. Dit verklaar waarskynlik waarom stropers in staat is om wetstoepassers altyd een voor te wees, waarom toenemende verantwoordelikheid op nieregeringsorganisasies geplaas word en waarom daar in die rigting van teenstropingspogings op voetsoolvlak beweeg word."

Volgens Mandy kan ons ons nie net op die natuurwetenskappe verlaat om die probleem op te los nie, aangesien hulle dikwels die intrinsieke en toksiese rol van menslike waardes in die skepping en volhou van konflik oor bedreigde spesies onderskat.

“Wanneer gemeenskappe hul eie bekommernisse oor die gebrek aan onderwys en werksgeleenthede, armoede en hongersnood in die gesig staar, neem bewaring dikwels 'n ondergeskikte plek in. Volhoubare ontwikkelingsinisiatiewe het ook gemeenskappe moeg gemaak en het nie hul beloftes gestand gedoen nie."

Sy sê ons het meer as net wetenskaplike ontledings nodig om die ingewikkeldhede van sosiale, tradisionele, godsdienstige, morele en sentimentele bande gekoppel aan die uitbuiting van aasvoëls en leeus te hanteer.

“Ons moet besef dat verskillende belangegroepe wat in die streek werk, deur politieke, finansiële, morele en ekologiese dryfvere aangemoedig word en probeer om openbare aksie en beleide ten gunste van hul doelwitte te beïnvloed.

“Hulle skep probleme deur bewaring te politiseer, deur munt te slaan uit bedreigde spesies vir publisiteit en finansiële gewin, en deur gepolariseerde openbare persepsies aan te moedig."

Mandy voeg by dat vae regsgrense misdadigers in staat stel om wetgewing wat diere beskerm te manipuleer, en hulle moedig politieke geskille oor die posisie van beskermde spesies in wetgewing aan.

Sy sê bewaring het 'n groter kans om te werk wanneer gemeenskappe ekonomies daarby baat dat diere aan die lewe gehou word, die simboliese waarde van die spesies lewe bevorder, en wanneer alle belanghebbers ewe betrokke voel.

“Aan die ander kant werk bewaring nie wanneer gemeenskappe afsydig is, wanneer hulle voel 'n dooie dier het meer waarde, waar skuiwergate in wetgewing onwettige aktiwiteite moontlik maak, en wanneer politici nie toepaslike wetgewing kan deurvoer nie. Dit is ook uiters moeilik om bewaring in beskermde gebiede te polisieer, veral langs landsgrense waar die meeste stropery plaasvind."

Hoewel dit nie maklik is om probleme op te los wat met mededingende menslike waardes en bewaring verband hou nie, sê Mandy dit moenie ons daarvan weerhou om 'n beter begrip te ontwikkel oor waarom mense kies om wilde diere, veral bedreigde spesies, dood te maak en die wet te verontagsaam nie.

“Ons moet die sosio-ekonomiese faktore uitpluis wat belanghebbers se besluite en hoe dit hul belangstelling of geen belangstelling om bewaring te steun nie, beïnvloed. Wat natuurbewaring betref, moet ons op só 'n manier kommunikeer dat mense kan sien hoe 'n beskermde (lewendige) dier van groter ekonomiese waarde is in die lang termyn (deur toerisme, ens.) as die kort-termyn ekonomiese waarde van die dooie dier."

Dit is ook belangrik om te kyk na hoe bewaring en maatskaplike ontwikkeling simbioties kan plaasvind, voeg sy by.