Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jare van opleiding verseker alumna van 'n plek in SA Olimpiese hokkiespan
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 18/08/2021

Tarryn Glasby het in 2013 die jongste persoon geword wat gekies is om Suid-Afrika te verteenwoordig in die o.21 SA nasionale hokkiespan by die Junior Wêreldbeker-toernooi in Indië. Sedertdien was daar vele opwindende ontwikkelings in Glasby se persoonlike en professionele lewe.

Glasby het onlangs die groen en goud gedra toe sy Suid-Afrika verteenwoordig het by vanjaar se 2020 Somer Olimpiese Spele in Tokio, Japan, 'n prestasie wat volgens haar “dissipline oor tyd vereis want resultate kom nooit in 'n kort tyd nie, dit vereis jare se opleiding".

As jong meisie het sy ingeskryf by die El Shaddai Christelike Skool in Durbanville, Kaapstad. Glasby het deelgeneem aan die meeste sporte wat die skool aangebied het – swem, netbal, atletiek en, natuurlik, hokkie. Haar  passie het ontwikkel soos wat sy meer op hokkie gefokus het, en die resultaat spreek vanself. Teen die tyd dat sy graad 12 gehaal het, het sy gekwalifiseer vir die Junior Wêreldbeker-span en dit het haar gelei na die Universiteit Stellenbosch (US).

“Toe ons op Stellenbosch geoefen het vir die Wêreldbeker was ek mal daaroor. Ek het besluit om na die Universiteit Stellenbosch toe te gaan weens hokkie," vertel Glasby.

Sy het haar droom nagevolg om by Maties te studeer en vir hulle hokkiespan te speel toe sy ingeskryf het vir 'n BCom-graad in Finansiële Bestuur in 2014.

“Ek het daarin geslaag om my akademiese kursuswerk te voltooi omdat alles perfek uitgewerk het – wanneer ons 'n hokkiekamp gehad het, het dit nooit in 'n toetsweek geval nie," sê sy.

Sy loof ook die algemene ondersteuning wat die US aan atlete bied, wat haar gehelp het om sowel haar studies as haar sport-loopbaan vol te hou. Een so 'n voorbeeld is toe sy toegelaat is om haar graadkursus met 'n jaar te verleng ten einde Suid-Afrika te verteenwoordig in die Junior Wêreldbeker in haar derde studiejaar.

Terwyl sy in Heemstede gewoon het tydens haar eerste jaar moes sy die meeste koshuis-aktiwiteite misloop weens haar hokkie-verpligtinge. Gevolglik het sy uit die koshuis getrek na 'n woonstel tot sy haar studies voltooi het. Na sewe jaar saam met haar lewensmaat is Glasby in 2021 getroud en hoewel sy steeds professioneel bekend staan onder haar nooiensvan Glasby het sy haar man se van aangeneem en staan nou ook bekend as Tarryn Lombard.

Afgesien daarvan dat sy Suid-Afrika internasionaal verteenwoordig, werk sy ook heeltyds vir twee hokkie-handelsmerke as handelsmerk-bemarkingsbestuurder. Haar werkgewers gee haar die aanpasbaarheid wat sy benodig om te oefen en deel te neem as professionele hokkiespeler.

“Ek is so geseënd om hierdie werk te hê," voeg Tarryn by.

Gevra watter advies sy sou geen aan opkomende atlete, sê sy: “Ek sal hulle aanmoedig om die hele proses te geniet."

Glasby sê dat sy haar beste hokkie speel wanneer sy dit geniet.

“Wanneer jy harde werk aanwend vir iets wat jy werklik geniet, sal jy die resultate sien." 

Foto: @tarrynglasby