Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Toppresteerders in chemie en polimeerwetenskap
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 17/08/2021

2019 en 2020 se toppresteerders in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap is op Vrydag 13 Augustus 2021 tydens 'n aanlyn prysuitdeling beloon vir hulle harde werk.  

Michael-Phillip Smith en Emile de Wet het die gesogte Merck-toekenning ontvang as die beste finalejaarstudente in onderskeidelik 2019 en 2020. Beide studente het uitsonderlik presteer oor al vier hul studiejare. Hulle het al hulle modules met 'n gemiddeld van 80% en hoër geslaag. Michael is tans besig met MSc-studies onder die studieleiding van Prof Bert Klumperman en Emile is besig met sy HonsBSc-graad.

Emile het ook 'n boekprys ontvang as die beste tweedejaarstudent in 2019, met 'n gemiddeld van 87%. Kyla Raoult was die beste tweedejaarstudent in 2020 met 'n gemiddeld van 83%.

Kayla Heinrich het die SMM-toekenning ontvang as 2020 se beste HonsBSc-student in Chemie. Om vir hierdie toekenning in aanmerking te kom moet die beste presteerder 'n gemiddeld van 75% of hoër behaal.

In die Tekstiel en Polimeerwetenskapstroom, het Julie Jevon die Mattie Jooste-prys, die Bernina-prys, sowel as die Truida Louw-boekprys ontvang vir haar prestasies. Haar pryse sluit ook prysgeld ter waarde van R20 000 in.

Volgens prof Peter Mallon, hoof van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, trek die departement deurgaans van die beste leerders in Suid-Afrika. Bykomend hiertoe werk die departement ook hard ten einde die beste chemie-graduandi te kan lewer wat ook gesog is in die industrie.

Prof Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, het die studente geluk gewens met hulle uitstekende prestasies wat selfs merkwaardiger is gedurende 'n 2020 wat met vele uitdagings gepaard gegaan het. Sy het ook die chemie-dosente geluk gewens vir hulle onderskeie bydraes tot die studente se akademiese prestasies.