Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID Diaries is 'n 'argief van vrouestemme' te midde van die pandemie
Outeur: Engela Duvenage / Image by Anton Jordaan
Gepubliseer: 17/08/2021

​Twee akademici van die Universiteit Stellenbosch (US) is die stukrag agter 'n nuwe boek wat uit 'n versameling van 35 kreatiewe essays bestaan waarin verskeie Suid-Afrikaanse vroue beskryf hoe die eerste jaar van die COVID-19-pandemie hul werk en gesinslewe, geestesgesondheid en hanteringsvermoë beïnvloed het.

Bydraes is van navorsers by die US en ander Suid-Afrikaanse instellings ontvang, asook van vroue wat in die korporatiewe sektor en by nieregeringsorganisasies werksaam is. Die essays vertel die verhaal van hoe hul eens “normale" geleefde ervarings sedertdien dramaties en selfs buitengewoon verander het, en hoe vroue verskillende lae van verlies en sorg moes hanteer.

Vir die redakteurs van die boek getiteld Covid Diaries: Women's Experiences of the Pandemic, prof Amanda Gouws, bekleër van die SARChI-leerstoel in Genderpolitiek in die US se departement Politieke Wetenskap, en me Olivia Ezeobi van die departement Ekonomie, dien die boek as 'n belangrike argief wat vrouestemme te midde van die ontvouende gesondheidskrisis en die gepaardgaapde statistieke dokumenteer.

“Dit is 'n boek oor vroue, 'n stuk geskiedenis, maar in vroue se eie stemme, hul eie geleefde ervarings," verduidelik Ezeobi, 'n dosent en doktorale kandidaat wie se navorsingsbelangstelling feministiese ekonomie is.

“Om 'n​ stem te laat opklink' is 'n kardinale feministiese ideaal. Vroue se stemme word so dikwels stilgemaak, of hul verhale word uitgewis. Hierdie boek skep die ruimte vir 'n stem," voeg Gouws by.

Die stories is in vyf afdelings verdeel: “The Political is Personal", “The Personal is Political", “A Woman's Work is Never Done", “Of Motherhood and Care" en “The Body on the Front Line".

Die afdelings gaan oor wat die politieke omstandighede waarin die staat van inperking plaasgevind het, vir mense op 'n persoonlike vlak beteken het, vroue se groeiende sorglas gedurende die pandemie, en die verergerde uitwerking van die pandemie op ander gesondheidsverwante kwessies soos geestesgesondheid, veroudering en kanker, asook hoopvolle en opbeurende verhale.

Die redakteurs sê hulle hoop die boek sal katarties en selfs terapeuties wees vir baie lesers, aangesien hulle hul eie ervarings in sommige van die essays sal herken.

“Wat my getref het van al die verhale, is hoe mooi dit geskryf is. Die taalgebruik in sommige van die verhale is só mooi dat jy as't ware die skrywer se ervaring kan sien en kan voel. Dit kom van 'n plek diep binne, van onseker wees op wyses wat op 'n manier in taal uitgedruk moes word," sê Gouws.

Ezeobi beskryf sommige van die essays as “brutaal eerlik en kwesbaar". “Die essays gaan oor geleefde ervarings. Dit is die werklikhede vir hierdie vroue, of vir die vroue saam met wie of vir wie hulle werk as aktiviste en raadgewers. Die waarde is om die menslike alledaagse sy van die invloed van COVID-19 en die inperking in vroue se eie stemme te ervaar."

Haar gunstelingverhaal is dié van Jabulile Mpanza, 'n senior bestuurder by 'n siekefonds, oor haar 79-jarige gogo (“To be aged, black and terrified"), aangesien Ezeobi haar ma en haar oorlede ouma daarin gereflekteer sien.

“Loretta Williams se essay is ook spesiaal vir my, want sy is die enigste een van die skrywers wat, sover ek weet, positief getoets het vir COVID-19 terwyl sy haar verhaal geskryf het. Loretta, wat by 'n nieregeringsorganisasie in die Swartland werk, het openlik geskryf oor haar aanvanklike ontkenning en hoe sy een van die mense geword het wat vir lank nog ná infeksie aan COVID-simptome gelei het," verduidelik Ezeobi.

Vir Gouws het die essays deur US-sielkundeprofessor Lou-Mari Kruger (oor die selfdood van 'n pasiënt se ma), parlementêre gendernavorser me Joy Watson (oor haar pa se afsterwe) en US-geskiedkundige prof Sandra Swart (oor die terugkeer van diere na stede in die afwesigheid van mense) 'n snaar aangeroer.

Dit is die eerste keer dat die twee akademici van die US, wat 'n gedeelde belangstelling in feministiese teorie en aktivisme het, saamwerk. Ezeobi het groot behae geskep in die geleentheid en sê sy hoop ander senior akademici sal Gouws se voorbeeld volg om werklike samewerking tussen gevestigde navorsers en hul minder ervare kollegas te bewerkstellig.  

Ezeobi moes met die uitbreek van die pandemie aanpas by tuiswerk terwyl sy ook gehaltesorg aan haar kleuter moes verskaf. Sommige dae moes sy selfs in haar motor gaan sit en werk om essays na te sien of om vergaderings op MS Teams by te woon, aangesien sy nie haar eie kantoorruimte gehad het nie. Haar essay, “A room of my own", is deur 'n essay deur Virginia Woolf geïnspireer.

Gouws was op haar beurt op studieverlof terwyl sy steeds na nagraadse studente omgesien het. Sy moes ook haar man se kankerbehandeling – of die gebrek daaraan binne die verskillende vlakke van inperking – hanteer. Sy skryf in haar essay, getiteld “Things we lost in the pandemic", oor haar worsteling met die verlies aan oënskynlike alledaagse dinge soos die sorgvrye drukkies van vriende of om iemand se glimlag te sien.

“Dit werp ook 'n refleksie op hoe ons in 'n digitale wêreld ingedwing is om 'kuborge' – die samesmelting van mens en masjien – te word. Ek redeneer dat hierdie pandemie 'n regstelling is vir die mens se verwaarlosing van die planeet, van etiek van sorg in 'n geïntegreerde ekostelsel," sê sy.

  • Die boek is uitgegee deur Imbali Akademiese Uitgewers en is by alle vooraanstaande boekwinkels beskikbaar. Die publikasie daarvan is moontlik gemaak deur die Nasionale Navorsingstigting se befondsing van die SARchI-leerstoel in Genderpolitiek. Vir meer inligting, stuur 'n e-pos aan me Olivia Ezeobi (olivia@sun.ac.za) of prof Amanda Gouws (ag1@sun.ac.za). Voorlesings uit die boek sal binnekort as potgooie beskikbaar wees op die SARChI-leerstoel se blog: https://amandagouws.squarespace.com/
  • Covid Diaries is opgedra aan vroulike werkers in die voorste linie ter erkenning van hul dapperheid, asook aan prof Gouws se dogters en me Ezeobi se ouers.