Die sosialegedragsnavorser dr Lario Viljoen, wat verbonde is aan die Desmond Tutu TB-sentrum in die Departement Pediatrie en Kindergesondheid, het vir haar doktoraat bestudeer hoe vroue seks, intimiteit en gesondheid hanteer teen die agtergrond van nuwe navorsing wat toon dat antiretrovirale behandeling die verdere oordrag van MIV in intieme verhoudings kan voorkom.
Om Vrouemaand te gedenk,
vertel sy ons meer oor haar navorsing.
Jou doktorale navorsing het gehandel oor hoe vroue seks en intimiteit in 'n veranderende MIV-landskap hanteer. Vertel ons meer.
Die MIV-epidemie saai verwoesting in Suid-Afrika, en vroue word buite verhouding erg deur die siekte geraak. Navorsers het onlangs bevind dat antiretrovirale behandeling gebruik kan word om 'n geïnfekteerde persoon se virustelling te verlaag en, indien die virus genoeg onderdruk word, die verdere oordrag van die siekte te voorkom. Dié metode, wat algemeen as 'behandeling as voorkoming' (“TasP") bekend is, bied vroue in intieme verhoudings nou nuwe geleenthede om besluite oor seks en MIV-voorkoming te neem. In my doktorale studie in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie het ek ondersoek hoe vroue seks, intimiteit en gesondheid in hierdie veranderende omstandighede hanteer. Die navorsing, wat oor 18 maande met meer as 80 huishoudings in die Wes-Kaap uitgevoer is, het deel uitgemaak van 'n MIV-voorkomingsproef deur die Desmond Tutu TB-sentrum en ander, internasionale navorsingsvennote. Ek het op verskeie kwessies gekonsentreer wat deel uitmaak van vroue se ervarings. Op gemeenskapsvlak het ek ondersoek hoe die mense in die studiegebiede TasP verstaan, en hoe stigmavorme verander wanneer die MIV-landskap verskuif. Ek het ook aandag geskenk aan die tersaaklike sosiale prosesse wanneer vroue hulle MIV-status aan hulle verhoudingsmaats bekend maak, hoe vroue besluite oor seks neem, en in watter mate TasP deel is van die intieme verhale van mense in omgewings met 'n swaar MIV-las.
My bevindinge dui op 'n behoefte aan navorsing oor die beste manier om MIV-voorkomingsmetodes, gepaste stigmaverminderingsprogramme, TasP-bewusmakingsveldtogte en verhoudingsvoorligting by nasionale gesondheidsprogramme in te sluit sodat gemeenskappe soveel moontlik voordeel uit TasP kan trek.
Waarom of hoe het jy in hierdie bepaalde navorsingsgebied begin belang stel?
My akademiese belangstelling in gender kom uit my voorgraadse studiejare in die Departement Sosiologie aan die Universiteit Stellenbosch. Ek het my in 2012 by die Desmond Tutu TB-sentrum aangesluit as deel van 'n sosiaalwetenskaplike span wat aan 'n MIV-voorkomingsproef oor verskillende lande heen gewerk het. In my werk in gemeenskappe wat deur MIV-geraak word, het ek gesien hoe vroue verhoudings, intimiteit en liefde hanteer. Biomediese studies gee nie juis aandag aan die kompleksiteit van intieme verhoudings nie, en die studie van vroue se ervarings in dié verband was heel duidelik nie net nodig nie, maar belangrik in die stryd teen MIV.
Waarom dink jy is dít so 'n belangrike navorsingsgebied vir vroue in Suid-Afrika?
Vroue byt steeds die spit af wat MIV in Suid-Afrika betref. Namate MIV-behandeling en -voorkomingsmetodes voortdurend ontwikkel, is dit belangrik dat ons alles moontlik doen om te verstaan hoe hierdie tegnologieë vroue soveel moontlik kan baat op maniere wat hulle lewens en intieme verhoudings pas. Dít sluit in om nuwe maniere te ondersoek om vroue in staat te stel om gesonde liggame en gesonde verhoudings te hê.
Die COVID-19-pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?
Ek is bevoorreg dat ek die afgelope jaar en 'n half meestal van die huis af kon werk. Hoewel dit uitdagend is om 'n mens se studie, werks- en huislewe te balanseer, glo ek jy kan gemotiveerd bly deur sowel kort- as langtermyndoelwitte neer te skryf en daarmee tred te hou. En om in hierdie buitengewone omstandighede genadig te wees met jouself is nie net toelaatbaar nie, maar noodsaaklik.
Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vrouenavorsers?
Ons is bevoorreg dat 'n aantal sterk vroue die weg vir toekomstige vrouenavorsers berei het. Ons het die geleentheid en verantwoordelikheid om 'n verskil in die akademie te maak. Moenie bang wees om die moeilike vraagstukke te takel nie – jou stem, jou kennis en jou mening maak saak.