Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetenskap alleen kan nie boggelrugdolfyne red nie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 05/08/2021

Daar is minder as 500 Indiese Oseaan-boggelrugdolfyne (Sousa plumbea) oor in Suid-Afrikaanse waters. Wetenskap alleen sal hulle nie kan terugbring van die randjie van uitwissing nie – ons het ook 'n bewaringsbestuursplan nodig waarby verskeie belanghebbers betrokke is om hul getalle aan te vul.

Dit is volgens die SouSA Consortium, 'n nuwe en hoogs samewerkende formele netwerk van 17 wetenskaplikes en kundiges in omgewingsbewaring van 11 verskillende instellings (insluitende vennote uit die akademie, niergeringsorganisasies (NRO's) en toerisme) van regoor Suid-Afrika, oor die bewaringstatus van die onbekende boggelrugdolfyn wat langs die suid- en ooskus van Valsbaai tot Kosibaai voorkom.

Volgens die Internasionale Unie vir Natuurbewaring en die nasionale Rooilys van Soogdiere van Suid-Afrika is die boggelrugdolfyn die eerste en tot op hede die enigste bedreigde seesoogdier wat in Suid-Afrikaanse waters voorkom. Daarom het die konsortium* 'n ontleding van al die sterk punte, swakhede, geleenthede en bedreigings (oftewel SWOT-ontleding) onderneem om hulle te help om stappe te bepaal wat nodig is om die bewaring van hierdie dolfyne te verbeter. Hulle het die ontleding gedoen omdat die omvang, relatiewe sterkte en wisselwerking van die bedreigings wat hierdie spesie in Suid-Afrikaanse waters beïnvloed, steeds nie goed verstaan word nie en dit baie moeilik is om duidelike aksies volgens prioriteit te bepaal.

Die bevindings van hul navorsingstudie het onlangs in die vaktydskrif Frontiers in Marine Science verskyn.

“Hoewel omgewingsfaktore sekerlik 'n rol in die dalende getalle van die spesie in ons waters speel, is dit 'n uitdaging om individuele bedreigings en oplossings te bepaal, aangesien die Suid-Afrikaanse marine-omgewing besig is om beduidende veranderinge te ondergaan wat dikwels die gevolg van menslike aktiwiteite soos konstruksie aan die kus en besoedeling is. Daar is ook groot veranderinge aan die verspreiding en beskikbaarheid van prooi-spesies," sê die hoofskrywer en medeprofessor in die departement Patologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) en die Bayworld-navorsing- en opleidingsentrum in Port Elizabeth, prof Stephanie Plön.

“Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat geen enkele oorsaak vir die vinnig afname geïdentifiseer kon word nie en dat die kumulatiewe uitwerking van verskeie stressors wat moeilik is om presies te bepaal en om te versag, die bevolkingsgetalle beïnvloed."

Shanan Atkins van die Skool van Diere-, Plant- en Omgewingswetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand voeg die volgende by: “Die vernaamste sterk punt wat ons in ons ontleding geïdentifiseer het, is die diversiteit van spesialisvaardighede binne die konsortium, terwyl die grootste swakheid die hantering van veelvoudige invloede en die skakeling met beleidsvormers en befondsers is."

“Die feit dat die Indiese Oseaan-boggelrugdolfyn se 'bedreigde' status nasionaal en internasionaal formeel erken word, bied 'n belangrike geleentheid om stappe te fasiliteer rakende oorsigbestuur," sê dr Els Vermeulen van die Soogdier-navorsingsinstituut by die Fakulteite van Natuur- en Landbouwetenskappe aan die Universiteit van Pretoria.SouSA Consortium Team Photo Jan 2020.jpg

Die konsortium is vol hoop dat onlangse verwikkelinge soos die nuutverklaarde Belangrike Marinesoogdiergebiede belangrike instrumente sal bied wat 'n verskuiwing vir die bewaring van die spesie kan help fasiliteer.

Die veelvoudige en kumulatiewe invloede van menslike aktiwiteite in die kusstrook is egter die grootste bedreiging vir die bewaring van die Indiese Oseaan-boggelrugdolfyn.

Een voorbeeld hiervan is “Operasie Phakisa" wat moontlik die geraasvlak wat deur mense in die oseane veroorsaak word, gaan verhoog. Operasie Phakisa is 'n inisiatief wat daarop gemik is om ekonomiese groei in die marine-omgewing te stimuleer en om die Oseaan-ekonomie te ontwikkel.

“'n Voorbeeld hiervan is ongereguleerde groei van nywerhede onder ekonomiese bevele sonder dat die moontlike negatiewe invloed wat toenemende aktiwiteite in die marine-omgewing op die seelewe sal hê, behoorlik verstaan word. Groei in sektore soos olie- en gas-eksplorasie, seevervoer, hawe-ontwikkeling en vissery/akwakultuur sal geraasvlakke in die oseaan verhoog, bykomende besoedeling bring en kan onbedoelde habitatverdeling tot gevolg hê," sê medeskrywer dr Gwenith Penry van die Instituut vir Kus- en Marinenavorsing by die Nelson Mandela-universiteit.

“Die konsortium werk aan interdissiplinêre deelname en skakeling op hoë vlak om te verseker dat moontlike skadelike uitwerkings op die gepaste wyse versag word," voeg sy by.

Die konsortium hoop ook dat hul studie die grondslag vir 'n bewaringsbestuursplan sal vorm wat die gesonde vloei van gene in die bevolking sal verseker, asook bevolkingsegregasie sal voorkom en die gehalte van habitat in kritieke kusgebiede sal verbeter.

Plön benadruk dat 'n verskuiwing in ons denke nodig gaan wees om die Indiese Oseaan-boggelrugdolfyn van uitwissing te red. Hierdie verskuiwing behels dat ons eerder ons denke moet verskuif van die beskouing van hierdie diere as “brandwagte" wat voorwaarskuwings verskaf na “aanwysers" van die gesondheid van die marine-omgewing. 

Sy sê die konsortium sal voortgaan om met die regering te skakel om die Indiese Oseaan-boggelrugdolfyn as 'n prioriteitspesie vir bewaring te verklaar.

“In vergeleke is daar tans sowat 1 792 swart renosters en 700–1 050 cheetahs oor," sê drr Tess Gridley en Simon Elwen van SeaSearch Navorsing en Bewaring en die US.

“Ons beplan om meer met belanghebbers (die publiek, regering, wetgewers, semi-staatsinstellings, opvoeders, ens.) in gesprek te tree en te skakel deur meer uit te reik en meer opvoedingsgeleenthede. Ons wil ook 'n belanghebbervergadering met genooide bewarkingskundiges asook kundiges uit die sektore wat 'n bedreiging vir die spesie inhou, soos toerisme, kusontwikkeling, ens, belê om ons betrokkenheid by oorsigbestuur en beleid te vergroot," sê Plön.

“Die ingewikkelde faktore wat hierdie spesie in Suid-Afrikaanse waters beïnvloed, hou baie uitdagings in en ten einde realistiese en doeltreffende oplossings vorentoe te vind, het ons alle hande aan dek nodig!"

*Hierdie studies is deur wetenskaplikes en bewaringskundiges van die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit Stellenbosch, Nelson Mandela-universiteit, SeaSearch Navorsing en Bewaring, die Oseane-navorsingsinstituut, die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut, Iziko Suid-Afrikaanse Museums en die Dyer-eiland Bewaringstrust onderneem.

  • BRON: Plön, S. et al 2021. Science Alone Won't Do It! South Africa's Endangered Humpback Dolphins Sousa plumbea Face Complex Conservation Challenges. Frontiers in Marine Science 8: 642226. DOI: https://doi.org/10.3389/fmars.2021.642226
Hooffoto: Indiese Oseaan-boggelrugdolfyne deur dr Els Vermeulen. Foto 1: Lede van die SouSA-konsortium. 

SLEGS VIR MEDIANAVRAE
Prof Stephanie Plön
Departement van Patologie, Universiteit Stellenbosch
Bayworld-navorsing- en opleidingsentrum, Port Elizabeth
Tel: 084 224 8420
Sel: 076 379 1067 (slegs WhatsApp)
E-pos: stephanie.ploen@gmail.com

UITGEREIK DEUR
Martin Viljoen
Bestuurder: Media
Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921
E-pos: viljoenm@sun.ac.za