Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Visekanseliers is universiteite se hooffondswerwers
Outeur: Karen Bruns
Gepubliseer: 26/07/2021

Om toegang tot die hoër onderwys te skep bly 'n enorme finansiële uitdaging. Juis dáárom vervul visekanseliers, as universiteitsleiers, 'n belangrike rol as hulle instellings se hooffondswerwers, skryf Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, in ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian (23 Julie 2021).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Karen Bruns

'n Bokser, 'n dominee, 'n polisiebeampte, 'n sielkundige, 'n bedelaar en 'n Nobelpryswenner stap in by 'n inhuldigingsplegtigheid in 'n universiteitsouditorium. Die senaatsvoorsitter vra: “Is dit iemand se idee van 'n grap? Waar is ons nuwe visekanselier?"

Die voorsitter van die aanstellingskomitee sê: “Nee, dis nie 'n grap nie. Ons kon nie een persoon kry wat aan ál die leierskapsvereistes voldoen nie, so toe stel ons hulle maar almal aan, en dít boonop binne begroting."

Dié staaltjie word dikwels vertel, maar bly waar.

As leiers van hoëronderwysinstellings, het universiteitsvisekanseliers ontelbare verantwoordelikhede, onder meer om die hoogste standaarde van akademieskap en onderrig by hulle instellings te verseker. Deesdae is internasionaal gerigte universiteite egter groot en komplekse organisasies, wat beduidende leierskap verg. Hedendaagse universiteite het immers die groter prentjie in die oog, is oor geografiese gebiede versprei en kultureel divers, word internasionaal gereken, vervul nasionaal 'n vlagskiprol, is navorsingsintensief én dikwels (dog nie altyd nie) “wêreldklas".

Gevolglik het visekanseliers se werksomskrywings die afgelope paar jaar baie vinnig baie lank geword. Om visekanseliers met die nodige vaardighede én binne begroting te werf is deesdae besonder uitdagend. Met die studentegeldkrisis, die tempo van transformasie, die droogte en beurtkrag, tragiese gevalle van geslagsgebaseerde geweld teen studente, kommer oor die bekostigbaarheid van die staat se studentegeldbystand (NSFAS), en nou ook COVID-19 en die verskuiwing na aanlyn leer, is dit vanselfsprekend dat visekanseliers hulle nie meer uitsluitlik by die akademie kan bepaal nie.

Sowel akademici as professionele steundienstepersoneel moes blitsvinnig by die nuwe aanlyn onderrigmetode aanpas. Hoewel hierdie oorgang geruime tyd reeds bespreek is, het die COVID-19-pandemie die oorskakeling verhaas.

Dit was moeilik, maar die menslike vermoë om die veranderinge feitlik oornag te implementeer was nié ons grootste uitdaging nie. Ons heel grootste kwessie is steeds hoe om die hoër onderwys te finansier.

Die gewigtige finansiële uitdaging is die gevolg van subsidiebesnoeiings (omdat die staatskas vir massiewe gesondheidsorgkoste moes voorsiening maak) en studente se onvermoë om studiegeld te betaal (as gevolg van die ekonomiese krisis). Weens landwye werksverliese neem die “ontbrekende middel"-kohort voortdurend toe. Dis nóú belangriker as ooit vantevore om hierdie studente finansieel te ondersteun.

Dít bring my by wat tans stellig visekanseliers se belangrikste rol is: dié van hooffondswerwer. Die finansiële lewensvatbaarheid van ons universiteite berus op visekanseliers se vermoë om geld in te samel.

Fondswerwing is een van die veeleisendste en sigbaarste rolle van universiteitsleiers, en hulle kan verwag om uitermate baie tyd aan privaat fondswerwing te bestee. 'n Amerikaanse studie van 2012 het getoon dat universiteitsleiers dáár maandeliks gemiddeld 3,85 dae weg van die kampus deurbring om te reis en geld in te samel, maar tot soveel as 20 dae 'n maand as daar tyd is.

Fondswerwing is uitdagend en veeleisend. Wanneer visekanseliers met moontlike persoonlike skenkers in gesprek tree oor die toekoms van die universiteit, moet hulle 'n baie duidelike begrip hê van hulle instellings se oorhoofse strategie. Hulle moet kan verwoord wat hulle universiteite se prioriteite is, waarom hulle sekere filantrope in die besonder gekies het, en waarom belegging in hulle instellings positiewe gevolge sal hê.

Moontlike skenkers is meestal uiters suksesvol op hulle gebied, en vra indringende en by tye ook ongemaklike vrae. As visekanseliers nie hulle universiteit se sogenaamde “teks" soos die palm van hulle hand ken nie, kan hulle lelik vasval. 'n Duidelike institusionele strategie is dus nie genoeg nie; ons fondswerwing moet met ons strategie strook.

Deur uit te gaan en individue en organisasies te vra om ons te ondersteun, stel ons hulle aan die universiteit bekend, en bring hulle hopelik nader aan ons instelling. Universiteite vind baie baat by skenkers se advies, en trek boonop heelwat voordeel uit hulle netwerke en kontakte. Party bied selfs aan om hulle tyd aan die universiteit af te staan en in adviesrade te dien, as mentors op te tree en aan gesprekke tussen die akademie en die bedryf deel te neem. Hulle ondersteuning is 'n reuse inspuiting vir die universiteit se moreel en – hier's 'n geheime wenk – die meeste skenkers is fassinerende geselskap!

Sedert ons visekanselier, prof Wim de Villiers, in 2015 aangestel is, het die Universiteit Stellenbosch R1,7 miljard in filantropiese bystand bekom. Meer as driekwart van alle skenkings is van trusts en stigtings, individue en maatskappye.

Deur ons visekanselier se betrokkenheid kon ons sedert 2015 ons getal nasionale en internasionale alumnikerne verdubbel, wat ons in staat stel om netwerke vir ons oudstudente te voorsien. De Villiers het ons portuurfondswerwingsprojekte gelei deur aan verskeie wedlope en fietswedrenne deel te neem om geld vir voedselsekerheid op ons kampusse in te samel – ons #Move4Food-veldtog.

Meer as 'n derde van die R1,7 miljard wat ingesamel is, is aan beurse en studentebystand toegeken, en 'n deel is vir onderrig, infrastruktuur, navorsing en gemeenskapsdiens aangewend. Met strategiese finansiering het ons nuwe navorsingsentrums en onderriggeboue op ons kampusse gebou en die diversiteit van ons akademiese en navorsingspersoneel verhoog.

Ons internasionale skenkers maak sedert 2015 'n al hoe groter persentasie van totale skenkers uit: Van 'n aanvanklike 13%, het internasionale skenkers teen die aanvang van die pandemie tot 19% aangegroei.

Dít is die beduidende impak van visekanseliers aan die voorpunt van universiteite se plaaslike en internasionale fondswerwingspogings. Universiteite takel die wêreld se dringendste kwessies deur onderwys en navorsing, en skenkings bied die noodsaaklike finansiering daarvoor.

As hulle universiteite se hooffondswerwers, kan visekanseliers die leiding neem om studente toegang te bied, hulle instellings die toekoms in te neem en – soos Nelson Mandela gesê het – die volgende geslag leiers met 'n kragtige wapen toe te rus.

  • Karen Bruns is die senior direkteur van Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge by die Universiteit Stellenbosch.