Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Uitnodiging om op tweede konsep van hersiene US Taalbeleid (2016) kommentaar te lewer
Outeur: Prof Deresh Ramjugernath
Gepubliseer: 23/07/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) se hersiening van sy Taalbeleid (2016) het die tweede fase vir openbare deelname bereik. Belangstellendes word uitgenooi om kommentaar te lewer op die tweede konsepweergawe, wat van 23 Julie tot 14 Augustus 2021 op die US se taalwebblad (www.sun.ac.za/taal) beskikbaar sal wees.

Die Taakspan vir die Hersiening van die Taalbeleid het die eerste konsep saamgestel en in Maart/April 2021 vir openbare insette gepubliseer. Voorleggings is oorweeg en ʼn tweede konsep is nou vir openbare kommentaar beskikbaar.

Soos die geval was met die eerste geleentheid vir openbare deelname, kan kommentaar op die tweede konsep slegs via die digitale platform op die US se taalwebblad ingedien word. Geen kommentaar sal ná die sluitingsdatum van 14 Augustus 2021 moontlik wees nie.

As deel van die tweede openbare deelname het die US die inligting wat die taakspan gedurende die hersieningsproses oorweeg het, aan die publiek beskikbaar gestel. Die Konteksdokument vir die hersiening van die Taalbeleid (2016) verskaf ʼn breë oorsig van die proses en tydlyn; die internasionale en nasionale konteks van die hoëronderwyssektor; die US-konteks; die implementeringskoste van verskillende taalscenario’s en die Rektoraat se siening.

In ʼn uitnodiging aan die breë Stellenbosse universiteitsgemeenskap om op die tweede konsep kommentaar te lewer, het prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig gesê dat die US se verbintenis tot meertaligheid “daarop ingestel is om mense ʼn stem te gee, ongeag die taal wat hulle praat”.

“Dit spreek tot die diversiteit van ons land en stel ons in staat om met mekaar om te gaan op maniere waarop ons nie andersins sou kon nie. Deur hul daaglikse blootstelling aan meertaligheid en respek vir mekaar se kultuurerfenis en taal op US-kampusse ontwikkel studente graduandi-eienskappe wat hulle tot betrokke landsburgers slyp met die vaardighede en ingesteldheid om saam te werk aan samebindende en verdraagsame gemeenskappe binne ʼn diverse samelewing,” het hy gesê.

Die US hersien vanjaar sy Taalbeleid (2016) as deel van die hersieningsiklus van elke vyf jaar soos wat in dié beleid voorgeskryf word. Paragraaf 10 bepaal dat die beleid “vyf jaar ná die implementeringsdatum daarvan verval” en “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar hersien moet word”. Die huidige beleid het aan die begin van 2017 in werking getree.

Volgens die US Statuut (2019) moet die US-raad die taalbeleid van die instelling bepaal met die instemming van die Senaat en in gevolge artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys (Wet 101 van 1997, soos gewysig). Die hersieningsproses is in Oktober 2020 geïnisieer. Die doelwit is om op 2 Desember vanjaar ʼn finale hersiene Taalbeleid (2021) vir goedkeuring aan die Universiteitsraad voor te lê.

Aangesien die Konstitusionele Hof in 2019 bevind het dat die Taalbeleid (2016) grondwetlik geregverdig is en dat die Universiteit se proses om die beleid te aanvaar “deeglik, uitvoerig, inklusief en behoorlik beraadslagend was”, is die huidige beleid as vertrekpunt vir die hersieningsproses gebruik.

Die hersiening sal verder gelei word deur onder meer die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024, asook die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings (2020).