Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gebalanseerde lewens- en studiebenadering US se top GR-kandidaat se resep vir sukses
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 16/07/2021

Hanne Mertens, 'n alumna van die Universiteit Stellenbosch (US), skryf haar sukses as die top-presteerder in die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) se eerste professionele eksamen (Aanvanklike Toets van Bevoegdheid (ATB)) van 2021 toe aan 'n gebalanseerde en konsekwente lewens- en studiebenadering.

Die ATB, wat in April vanjaar afgelê is, is die eerste van twee SAIGR-eksamens wat individue moet slaag om as geoktrooieerde rekenmeesters (GRs) in Suid-Afrika te kwalifiseer.

Mertens, wat haar Honneurs-BRek-graad cum laude in 2020 geslaag het, verduidelik só haar suksesresep: “Balans is alles. Van die groter prentjie tot die details – balans tussen 'werk' en 'speel', pouses en leertyd, tussen teorie en praktiese oefening, tussen die spandeer van tyd aan afdelings wat jy geniet of goed in is en afdelings wat nie jou beste of gunsteling is nie. Balans het my gehelp om fisiek en emosioneel gesond te bly en om my alles in alle aspekte van die lewe te gee.

“Wanneer ek studeer, stel ek 'n konstante maatstaf vir myself – dit is om soveel van die werk as moontlik te verstaan, eerder as om net die inligting vir die volgende toets in te stop – en om van die begin af hierby te hou. Ek het op universiteit baie ure as tutor vir rekeningkundemodules spandeer en deur dit aan ander te verduidelik, het ek 'n waardering vir die werk gevind."

Ná voltooiing van haar opleidingskontrak en wanneer sy as GR kwalifiseer, sien Mertens haarself in die finansiële konsultasie- en raadgewende dienstesektor aangesien sy baie lief is vir die finansiële ontleding en mens-gedrewe sy daarvan.

“Maar ek hou al my opsies oop en ek oorweeg dit ook om te doseer of om 'n meestersgraad te doen," sê sy. “Terwyl ek grootgeword het, het ek besef daar is baie veranderings wat ek graag in die sakewêreld wil sien, en deur hard te werk en sukses te behaal, kan ek op 'n plek kom waar ek 'n invloed op mense kan hê en hierdie veranderinge kan aanbring."

Die Baaise (Gqeberha) boorling wat aan die Hoërskool Pearson gematrikuleer het as die Oos-Kaap se beste graad 12-leerder, werk tans as 'n kandidaat-ouditeur by Deloitte VK.

Akademiese sukses

Nóg vier kandidate van die US het onder die top 10 landwyd geëindig en het almal die eksamen met lof (75% of meer) geslaag: Sadiyah Wahab (6de plek), Cameron Rencken (8), Cayley Tarr (9) and Stefano Filippi (10).

Altesame 314 studente van die US se Skool vir Rekeningkunde (SvR) se 2020-HonsBRek-klas het die eerste eksamen in April afgelê. Dit is die meeste van al 16 residensiële universiteite en private instellings wat by die SAIGR geakkrediteer is om voornemende geoktrooieerde rekenmeesters op te lei en maak die SvR die grootste residensiële verskaffer landwyd wanneer dit op hierdie grondslag gemeet word.

Die SvR se 2020-HonsBRek-klas het 'n 96%-slaagsyfer in vanjaar se ABT-eksamen behaal, wat hoër is as die 81% in 2020. Die SvR is gesamentlik tweede op die ranglys saam met die Universiteit van Kaapstad (UK). Die Universiteit van Pretoria het heel bo geëindig met 'n 100%-slaagsyfer. Die algehele nasionale slaagsyfer vir eerste pogings was 70%.

Die US het ook die grootste algehele slaagsyfer landwyd behaal met 301 kandidate wat geslaag het. Die UK was tweede met 231 kandidate wat geslaag het.

Die slaagsyfer van die US se swart, bruin en Indiër-kandidate was min of meer gelyk aan dié van wit kandidate met 94% swart, 94% bruin, 91% Indiër en 96% wit studente wat geslaag het.

Prof Pieter von Wielligh, Direkteur en Visedekaan: Skool vir Rekeningkunde aan die US, het die volgende kommentaar gelewer: “Die uitmuntende prestasie van ons HonsBRek-studente in die ATB beklemtoon nie net die gehalte van die onderrig van die SvR op 'n baie konkrete en sigbare wyse nie, maar ook die gehalte van die studente wat die skool lok. Die Skool is trots op die uitstekende prestasie van sy 2020-honneursklas wat nou die sakeleiers van die toekoms is – en dít te midde van al die uitdagings wat akademici, studente en alumni sedert Maart 2020 weens die COVID-19-pandemie ondervind het. Dit is werklik 'n merkwaardige prestasie."

Prof Ingrid Woolard, Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het die volgende te sê gehad: “ Ek is ongelooflik trots op hierdie uitslae. Dit is wonderlik om hierdie eksterne bekragtiging te ontvang dat ons die top residensiële universiteit vir rekeningkunde-onderrig is. Ons personeel werk ongelooflik hard om toe te sien dat ons studente die beste moontlike grondslag ontvang ten einde die professionele eksamens suksesvol te kan aflê."

Die Instituut het in 'n verklaring gesê baie studente het die uitdagings en negatiewe uitwerking van die COVID-19-pandemie in geleenthede omskep. 

“Hierdie kandidate moes oneindig baie struikelblokke oorkom om te slaag, en het hulle uitstekend van hul taak gekwyt," het die hoof-uitvoerende beampte van SAIGR, Freeman Nomvalo, gesê.

---------

Prof Stiaan Lamprecht, gesamentlike programleier van die Skool vir Rekeningkunde se HonsBRek-program:Ons is ongelooflik trots op die akademiese prestasies van ons studente in die jongste ATB-eksamen. Ons het nog altyd geweet die Skool vir Rekeningkunde is geseënd met begaafde studente, maar 2020 het ook hierdie jong sakeleiers van die toekoms se volharding en deursettingsvermoë getoon te midde van moeilike omstandighede. Lof kom ook die toegewyde span dosente toe wat onverpoosd gewerk het om akademiese materiaal in aanlyn aanbiedings te omskep, asook die uitgebreide institusionele ondersteuning wat ons ontvang het om 'n blitsige oorskakeling na die aanlyn leeromgewing moontlik te maak."

Prof Kobus van Schalkwyk, gesamentlike programleier van die HonsBRek-program en Adjunkdirekteur: Leer en Onderrig by die Skool vir Rekeningkunde: “Hierdie prestasie wat ons HonsBRek-studente behaal het, is selfs nog merkwaardiger indien die interne slaagsyfer van die 2020-HonsBRek-kohort in ag geneem word. Die slaagsyfer was een van die hoogstes wat ooit deur 'n HonsBRek-kohort behaal is, wat nog meer betekenisvol is gegewe die uitdagings wat die COVID-19-pandemie vir studente en personeel ingehou het."