Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mens kan meer by diere, insekte leer oor uitwerking van klimaatsverandering
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 12/07/2021

Indien ons meer aandag gee aan hoe voëls, hase en termiete hul plaaslike leefruimtes omvorm in reaksie op veranderende klimaatsomstandighede, sal ons beter kan voorspel watter uitwerking klimaatsverandering in die toekoms op hulle sal hê. 

Só meen 'n groep navorsers* van die Universiteite van Montana en Wyoming in die VSA, die Universiteit van Tours in Frankryk en die Universiteit Stellenbosch (US) in Suid-Afrika. Hulle het 'n studie gedoen oor hoe diere se vermoë om op klimaatsverandering reageer, waarskynlik afhang van hoe goed hulle hul habitatte aanpas, soos byvoorbeeld die manier waarop hulle neste en gate bou.

Die bevindings van hul navorsingstudie het onlangs in die hoogs invloedryke vaktydskrif, Trends in Ecology and Evolution verskyn.

“Dit is uiters belangrik dat ons voortdurend ons vermoë verbeter om die uitwerking van klimaatsverandering te voorspel en teen te werk. Een manier om dit te doen, is deur beter te verstaan hoe diere hul eie kleinskaalse ervarings van klimaat op die vlak van individuele lede in 'n populasie beïnvloed," sê een van die navorsers, prof John Terblanche van die US se departement Bewaringsekologie en Entomologie.

Terblanche en sy medeskrywers noem dat dit vir bioloë belangrik is om te verstaan hoe diere hul lewensruimtes plaaslik omvorm in reaksie op klimaatsveranderlikheid ten einde die voorspellende krag van tipiese kontemporêre klimaatsveranderingsmodelle te verbeter.

“Die sleutel tot die voorspelling van die uitwerking van klimaatsverandering op spesies is om hierdie modelle te verbeter en, met hoë vlakke van presisie, toekomstige uitwerkings te voorspel, insluitende hoe spesiereekse mag verskuif en wat die relatiewe risiko van uitwissing vir verskillende dierespesies is."

Hulle voeg by dat om te weet watter spesies saam met klimaatsverandering sal floreer, is dit uiters belangrik om die uitbreking van plae op gewasse of hoe siekte-oordraers risiko's vir die mens verander, te verstaan.

“Klimaatsverandering sal 'n uitwerking op die verspreiding van siekte-oordraers en die gesondheid van marine- en aardbiome regoor die wêreld hê. Dit sal ook 'n invloed daarop hê of landbou en visvang kan voortgaan om menslike populasies te ondersteun soos in die verlede die geval was."

Die navorsers wys in hul studie ook daarop hoe diere unieke maniere gevind het om hulself teen uiterste klimaatstoestande te beskerm.

“Baie diere grawe gate, bou neste vir hulself of hul kleintjies, bou wonings vir hele kolonies (miere en termiete), laat plante gal produseer, bou blaarmyne, of pas eenvoudig die struktuur of tekstuur van hul plaaslike omgewings aan.

“Voëls bou byvoorbeeld neste om eiers en kuikens in koeler weer warm te hou, maar pas ook die nes se isolasie aan om die kleintjies in baie warm toestande koel te hou. Soogdiere soos hase of muise slaap of hiberneer in ondergrondse gate wat stabiele, matige temperature bied en vermy bogrondse toestande wat dikwels buite die gat baie meer ekstreem is.

“Ons het ook gesien hoe termiete en miere grondhope bou wat wind- en sonenergie vasvang om lugstroming deur die kolonie aan te dryf, wat die temperatuur, relatiewe humiditeit en die suurstofvlak wat deur die kolonie ervaar word, stabiliseer."

Die navorsers sê hierdie aanpassings, wat as uitgebreide fenotipes bekend staan, filtreer klimaat in plaaslike stelle toestande onmiddellik rondom die organisme in – die 'mikroklimaat' wat baie belangrik is om die uitwerking van klimaatsverandering beter te verstaan.

“Twee kenmerke van mikroklimate is belangrik. Eerstens verskil mikroklimate tipies baie van die omliggende klimate, wat beteken dat die klimaat in 'n gebied baie min inligting kan verskaf oor wat diere in hul mikrohabitat ervaar. Tweedens word uitgebreide fenotipes, omdat dit geboude strukture is, dikwels aangepas in reaksie op plaaslike klimaatsverskille en potensieel in reaksie op klimaatsverandering."

Die navorsers doen 'n oproep vir 'n hernude poging om die rol wat uitgebreide fenotipes speel in hoe organismes klimaatsverandering ervaar beter te verstaan. “Ons het 'n beter begrip nodig van die mate waartoe diere hierdie strukture kan aanpas in reaksie op veranderende klimaatstoestande," sê Terblanche.

“Nog 'n belangrike uitdaging is om te verstaan hoe buigsaam uitgebreide fenotipes is en hoe vinnig hulle oor tyd kan ontwikkel. In hierdie stadium het ons eintlik geen idee óf hierdie prosesse met klimaatsverandering kan byhou nie," voeg die hoofskrywer, Art Woods, van die Universiteit van Montana by.

  • Bron: Woods, HA; Pincebourde, S; Dillon, ME; & Terblanche, JS 2021. Extended phenotypes: buffers or amplifiers of climate change? Trends in Ecology and Evolution: doi.org/10.1016/j.tree.2021.05.010 1

*Art Woods (Universiteit van Montana), Sylvain Pincebourde (Universiteit van Tours), Michael Dillon (Universiteit van Wyoming) en John Terblanche (Universiteit Stellenbosch).

​SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Prof John Terblanche

Departement van Bewaringsekologie en Entomologie

Fakulteit AgriWetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 9225

E-pos: jst@sun.ac.za

​UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za