Ingevolge 'n werksooreenkoms tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en die Onafhanklike Eksamineringsraad-Internasionaal (IEB-Internasionaal) sal die Universiteit as gehalteversekeraar optree vir 'n Afrika-gerigte skoolverlaterskwalifikasie wat internasionaal aangebied sal word.
Die kwalifikasie, die Internasionale Sekondêre Sertifikaat (ISS), sal vanaf 2022 beskikbaar wees, en die eerste eksamens sal teen die einde van daardie jaar plaasvind. Die IEB-Internasionaal ISS is gelykstaande aan die IEB Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat tans in Suid-Afrika en buurlande aangebied word.
Die US se Eenheid vir Internasionale Kwalifikasiekontrole (SU-UIC), wat in 2019 bekend gestel is en vanuit die Afrikasentrum vir Akademieskap funksioneer, sal die eksterne gehalteversekering van die ISS-kwalifikasie behartig. Dít strook met die SU-UIC se oorhoofse doel, naamlik om sowel 'n eksterne as interne gehalteversekeringsrol te vervul ten opsigte van internasionale en buitelandse kwalifikasies van skool- tot nagraadse vlak.
Prof Sarah Howie, direkteur van die SU-UIC, sê die IEB-Internasionaal ISS is 'n bekostigbare, eg Afrika-alternatief vir ander internasionale skoolverlaterskwalifikasies van eksamineringsliggame buite Afrika. “Dít is 'n baie opwindende geleentheid vir die US om deel te wees van die baanbrekerswerk op die vasteland ten opsigte van alternatiewe internasionale skoolverlaterskwalifikasies wat 'n Afrika-gerigte benadering tot kurrikulums en assessering bied. Die IEB word wêreldwyd as een van die voorste innoveerders vir die verbetering van eksamenstelsels en -prosesse beskou."
Die ooreenkoms met IEB-Internasionaal, die internasionale afdeling van die Suid-Afrikaanse IEB, het in Maart 2021 'n aanvang geneem. Daarvolgens bestaan die US se rol uit die jaarlikse vestiging en handhawing van konsekwente, gepaste akademiese standaarde op individuele vakgebiede, bevestiging dat die IEB gepaste gehalteversekeringsprosesse toepas om geloofwaardige jaarlikse eksamens af te neem, en die versekering dat die sertifikasie geldig en waarlik onafhanklik is.
Die ISS is geskep ná nasionale regulasiewysigings wat verhoed dat die IEB NSS voortaan buite Suid-Afrika aangebied word, verduidelik prof Howie. Daarom het buurlande wat tot dusver die NSS aangebied het 'n alternatief nodig gehad. En aangesien Umalusi (die Suid-Afrikaanse owerheid vir onderwysgehalteversekering) nie by magte is om as gehalteversekeraar van 'n internasionale skoolverlaterskwalifikasie buite Suid-Afrikaanse grense op te tree nie, is die US genader.
“Die IEB-Internasionaal ISS is deur Universiteite Suid-Afrika (USAf) geëvalueer, en internasionale kandidate wat die kwalifikasie op meriete- of gevorderde vlak behaal, en 'n plek by 'n Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstelling aangebied word, sal aan die minimum vereistes vir toelating tot graadstudie voldoen," sê Howie.
Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, het die ooreenkoms verwelkom. “Dit bevorder nie net die US se Visie 2040 om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder nie. Dit brei ook die US se reikwydte uit om skoolverlaters internasionaal, en veral in Afrika, in te sluit, en versterk ons statuur as 'n voorkeuruniversiteit."
Volgens Howie het verskeie skole in Namibië en Eswatini sowel as 'n aantal afstandsleerverskaffers reeds belangstelling getoon om die IEB-Internasionaal ISS-kwalifikasie aan te bied.
Die ISS-komitee vir gehalteversekeringsoorsigbestuur het op 3 Junie 2021 hulle eerste ontmoeting gehad. Hierdie komitee sal toesig hou oor die gehalteversekering van die vernaamste ISS-prosesse, die ISS-verwante werk van die SU-UIC, sowel as die funksionering van die twee werkskomitees belas met onderskeidelik kurrikulum en assessering, en standaardisering.
Die komitee, met prof Klopper aan die stuur, bestaan uit dr Sizwe Mabizela, Visekanselier van Rhodes-universiteit, voormalige raadsvoorsitter van Umalusi; prof Mbulungeni Madiba, Opvoedkunde-dekaan by die US; dr Derek Swemmer, bestuurskonsultant oor die hoër onderwys, en voormalige registrateur van die universiteite van die Vrystaat en Witwatersrand; me Penny Vinjevold, voormalige adjunkdirekteur-generaal van Verdere Onderwys en Opleiding in die Departement van Basiese Onderwys, en dr Nan Yeld, bestuurder van die Implementeringsvoorbereidingsplan vir die Raad op Hoër Onderwys se nuwe Gehalteversekeringsraamwerk vir Hoër Onderwys in Suid-Afrika, en voorheen verantwoordelik vir die eenheid wat die Nasionale Normtoetse vir universiteite opstel. Anne Oberholzer, die uitvoerende hoof van die IEB, en prof Howie dien as ex officio-lede.