Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jongste nuus oor assesserings en semesterdatums
Outeur: Prof Stan du Plessis: ICBC Chair
Gepubliseer: 05/07/2021

​2 Julie 2021

Beste kollegas en studente

Die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) het verlede week aangekondig dat die A2- en A3-assessersings ná die reses hervat sal word, en dat dit aanlyn sal geskied. Ons wil graag die volgende belangrike datums en reëlings onder julle aandag bring:

Assesserings en semesterdatums​

  • Die A2-assesserings sal van 12–27 Julie plaasvind (geen assesserings sal op 21 Julie plaasvind nie). Die A3-assessering sal van 28 Julie–7 Augustus plaasvind. Klik hier om na die roosters te kyk. Die tweede semester sal op 10 Augustus 2021 'n aanvang neem. Let asb daarop dat inligting oor die A4-assesserings later bekendgemaak sal word.
  • Studente wat assesserings in persoon onder toesig vir die eerste semester tussen 21 en 26 Junie 2021 geskryf het, sal ook in aanmerking kom vir die aanlyn A3-assesserings ingevolge die huidige reëls vir die toestaan van toegang tot A3. Die punte sal volgens die formule, soos gespesifiseer vir die spesifieke module, bereken word.
  • Die voorvereistes vir tweedesemestermodules bly onveranderd, en studente sal toegelaat word om te registreer. Let asb daarop dat studente se registrasie ingetrek sal word indien hulle nie aan die minimum vereistes voldoen ná voltooiing van die A3- en/of A4-assesserings nie. Hulle sal egter nie gepenaliseer word nie.
  • Om die integriteit van alle assesserings te verseker en om aan die vereistes van professionele liggame te voldoen, sal die uitstelling van aanlyn assesserings vir sekere modules toegelaat word ten einde assesserings in persoon onder toesig moontlik te maak.
  • Interne moderering van alle vraestelle en eksamen-antwoordstelle sal plaasvind, asook eksterne moderering vir uitgangsvlak-modules soos deur professionele liggame vereis. Vraestelle sal in Afrikaans én Engels beskikbaar wees in ooreenstemming met die Taalbeleid.
  • Dertig minute sal vir die laai en indiening van assesserings toegelaat word, en 'n nood-e-posadres sal beskikbaar wees vir die indiening van assesserings soos in 2020.

Akademiese wangedrag

Gedurende die 2020-akademiese jaar het die kantoor vir Studentedissipline 'n ongewone toename in akademiese wangedragsake ondervind waarby samespanning (waar een of meer studente mekaar gedurende aanlyn assesserings help) betrokke was. Dit het tot dissiplinêre stappe rakende samespanning teen 183 studente gelei. In vergeleke hiermee, is slegs twee studente in 2019 vir samespanning aangekla. Hierdie skerp toename kan direk aan die verskuiwing na aanlyn assesserings toegeskryf word.

Hierdie tipe wangedrag het ernstige nagevolge. Die meeste van die studente wat skuldig bevind is aan samespanning, het die punte vir die betrokke module(s) vebeur. Die verbeuring van punte het 'n verlies aan tyd, bykomende koste, asook die byvoeging van nog 'n akademiese jaar tot hul studies tot gevolg gehad.

Let asb daarop dat die US alle vorme van akademiese wangedrag in 'n baie ernstige lig beskou, aangesien dit die integriteit van die kwalifikasies wat die Universiteit uitreik, onder verdenking plaas. Dit sluit akademiese oneerlikheid gedurende aanlyn assesserings in. Met hierdie skuif terug na aanlyn assesserings, is die Universiteite verplig om studente dit op die hart te druk om aan die reëls vir aanlyn assesserings gehoor te gee en om hulself van akademiese oneerlikheid te weerhou, veral om medestudente te help of om vir hulp te vra.

Data en skootrekenaars

Die US sal weer selfoondata aan alle voor- en nagraadse studente verskaf. Databondels sal van MTN, Vodacom, Telkom en Cell C in Suid-Afrika aangekoop word en sal vir 'n maand vandat dit gelaai is, geldig wees. Die huidige databondels verval eersdaags en die nuwe bondels sal tussen 10 en 12 Julie gelaai word. Studente word aangemoedig om die databondels volgens die riglyne wat op die studenteondersteuningsblad verskaf word, te gebruik. 

Die Universiteit is tans ook besig om bykomende skootrekenaars aan te koop en hoop dat dit binne ongeveer drie weke afgelewer sal word. Ons moedig studente wat 'n skootrekenaar benodig, aan om per e-pos by student@sun.ac.za aansoek te doen vir toegang tot die skootrekenaar-leningsprojek.

Veiligheidsprotokols

Soos julle almal weet, ondervind Suid-Afrika tans 'n derde vlaag van COVID-19-infeksies en daarom moet ons op ons hoede bly en alle veiligheidsprotokols nakom. Dra asb julle maskers, vermy plekke waar daar 'n samedromming van mense en swak ventilasie is, handhaaf 'n veilige fisieke afstand van ander en was of ontsmet julle hande gereeld.

Om op hoogte te bly van die jongste inligting, raadpleeg asb die US se COVID-19-webblad gereeld.

Ek besef die afgelope week se besluite het studente en personeel ontwrig en ek waardeer die veerkragtigheid wat julle getoon het met die alternatiewe reëlings. Pas julself asb op en wees veilig.

Vriendelike groete

Prof Stan du Plessis

Voorsitter: IKBV​