Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Implikasies van aangepaste COVID-risikovlak 4 vir US
Outeur: Prof Stan du Plessis: ICBC Chair
Gepubliseer: 27/06/2021

Beste kollegas en studente

Na aanleiding van president Cyril Ramaphosa se toespraak gisteraand (27 Junie 2021) en die aankondiging van die aangepaste risikovlak 4 (van 28 Junie tot 11 Julie), het die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) van die Universiteit Stellenbosch (US) 'n noodvergadering gehou om die implikasies vir die personeel en studente van die US te bespreek. Die volgende besluite is geneem:

Studente:

  • Die huidige A2-eksamens in persoon, asook alle ander aanlyn assesserings is onmiddellik opgeskort. Alle nagraadse assesserings is ook uitgestel.
  • Die beplande reses word vervroeg en begin vandag (28 Junie) en duur tot 9 Julie 2021.
  • Die A2- en A3-assesserings sal ná die reses hervat word en sal aanlyn geskied. Verdere inligting oor die A4-assesseringsgeleentheid sal in 'n latere stadium bekend gemaak word.
  • Alle kontakklasse op die Tygerberg-kampus is opgeskort en sal aanlyn verskuif. Alle kliniese werk sal voortgaan.
  • Die Rekenaargebruikersareas (RGA's) word gesluit en toegang tot die biblioteek is beperk. Spesiale reëlings vir rekenaartoegang kan deur jou fakulteit getref word.
  • Studenteadministrasiedienste sal aanlyn beskikbaar wees en geen dienste sal in persoon in Admin A gelewer word nie.

Hierdie reëlings geld nie vir studente van die US se Fakulteit Krygskunde nie. Die Dekaan van Krygskunde sal in oorleg met die fakulteit se belanghebbendes besluit oor wanneer en hoe assesserings sal plaasvind.

Ons moedig studente aan om gedurende die resestydperk van twee weke in die koshuise aan te bly en om hul beweging te beperk. In ooreenstemming met die president se toespraak, word sosiale byeenkomste nie toegelaat nie en geld 'n aandklokreël van 21:00–04:00.

Personeel:

In die lig van die president se versoek, moedig ons personeel aan om so ver moontlik van die huis af te werk. Slegs take wat nie aanlyn verrig kan word nie, moet in persoon verrig word. Dit moet in ooreenstemming met bestaande protokols vir die terugkeer na kampus gedoen word.

Ons besef die aangepaste risikovlak 5 kan sommige personeel se verlofplanne moontlik beïnvloed. Ons versoek egter dat lynbestuurders en werknemers maniere vind om steeds rusperiodes en verlof vir personeel te verseker.  

Ek besef ook die verskuiwing na aanlyn assesserings wanneer ons die A2-assesserings hervat, gaan groot druk op personeel plaas. Hierdie kollegas het herhaaldelik meer as hul plig gedoen om die suksesvolle voltooiing van ons akademiese jaar te verseker en ek wil weer 'n beroep op hul samewerking doen waar ons nou die toenemende bedreiging van die derde vlaag die hoof moet bied.

Ander sake:

Let asb daarop dat sodra ons die gepubliseerde regulasies ontvang, ons bykomende inligting sal verskaf insake die gebruik van ons handels- en sportgeriewe, reisreëlings en ander sake wat 'n invloed op die US-gemeenskap mag hê. Personeel wat oor reispermitte vir sakedoeleindes beskik, kan tot verdere kennisgewing voortgaan om dit te gebruik.

Ons versoek personeel en studente om waaksaam te bly en om hulle deel by te dra om die verspreiding van COVID-19 te voorkom. Dra asb julle maskers, vermy plekke waar daar 'n samedromming van mense en swak ventilasie is, handhaaf 'n veilige fisieke afstand van ander en was of ontsmet julle hande gereeld.

Baie dankie vir julle samewerking en begrip oor die dringende aard van hierdie besluite wat geneem is aan die hand van die wetenskaplike inligting wat ons tot ons beskikking het en ons verbintenis om in die beste belang van ons Universiteitsgemeenskap op te tree.

Om op hoogte te bly van die jongste inligting, raadpleeg asb die US se COVID-19-webblad gereeld.

My beste wense vergesel ons personeel en studente. Pas julself asb op en wees veilig.

Prof Stan du Plessis

Voorsitter: IKBV