Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Dramowski opgewonde oor nuwe leiersrol in pediatrie by TBH
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 24/06/2021

Prof Angela Dramowski, ʼn spesialis in aansteeklike pediatriese siektes in die Departement Pediatrie en Kindergesondheid, is onlangs aangestel as die Hoof: Kliniese Eenheid (Algemene Pediatrie) by die Tygerberg-hospitaal. Volgens haar is dié aanstelling “ongetwyfeld" die hoogtepunt van haar loopbaan.  

Bekend vir haar passie om infeksievoorkoming- en beheerpraktyke (IVB) en gesondheidsberoepe-onderwys te verbeter, sê Dramowski sy sien uit daarna om ʼn span van pediatriespesialiste te lei met die oogmerk om positiewe verandering te skep en die dienste wat hulle bied te verbeter.

“Dit is reuse-eer en ʼn voorreg om hierdie geleentheid gegun te word. Die kollegas is ʼn dinamiese, ervare groep pediaters met vele talente en die verpleegpersoneel verskaf uitstekende sorg vir ons pasiёnte. Ons is boonop ʼn onderwyseenheid. Hierdie gaan ʼn baie diverse pos wees wat vaardighede in kliniese sorg én onderwys en navorsing sal verg," het Dramowski gesê.

“Dit is hierdie diversiteit en die geleentheid om my stel vaardighede uit te brei wat die pos aantreklik gemaak het, asook die geleentheid om dienste te verbeter wat ons aan kinders en gesinne bied."

Dr Granville Marinus, Mediese Bestuurder: Pediatrie en Kindergesondheid by die Tygerberg-hospitaal, het gesê “ons is uiters gelukkig om ʼn Hoof: Kliniese Eenheid vir Algemene Pediatrie van hierdie kaliber te werf. Benewens haar buitengewone talente, verstaan sy duidelik haar algehele leierskaprol op die gebied van goeie kliniese bestuur, en veral die belang van samewerking met sleutel-rolspelers en die bevordering van beter gesondheidsorg vir kinders oor ons Metro-Oos-platform en ons provinsie heen".

Dramowski het gesê die aanstelling sal vir haar ʼn oorgang na ʼn meer holistiese leierskapposisie meebring. “Ek het die afgelope dekade kliniese navorsing gedoen as mede-professor in aansteeklike siektes by die Universiteit Stellenbosch. Al was ek in die departement, was my kliniese en onderwysrol nie so groot nie, derhalwe is hierdie ʼn wonderlike geleentheid om die volle stel vaardighede byeen te bring en my loopbaan as klinikus, onderwyser en navorser te ontwikkel. 

“My oorkoepelende taak sal wees as leier van die span wat al hierdie dissiplines lewer om dienslewering in algemene pediatrie te verbeter.

“Die opwindendste aspek van my nuwe rol is om ʼn gedeelde visie te prakseer van waarheen ons met kinderdienste wil gaan, nie net vir Tygerberg nie, maar ook vir die wyer gemeenskap."

Dramowski, wat in Durban grootgeword het, het in 1995 Kaapstad toe getrek om geneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad te studeer. Ná haar voorgraadse studies het sy in die Verenigde Koninkryk gereis en as ʼn locum in neonatologie en pediatrie gewerk, waarna sy na Suid-Afrika teruggekeer het om haar gemeenskapsdiens te doen.

“Gedurende hierdie tyd het ek as mediese beampte by die Rooi Kruis-hospitaal gewerk, waaroor ek mal was, en dit was hierdie ervaring wat my laat besluit het om as ʼn pediater te spesialiseer."

Sy is daarna na die Unversiteit van die Witwatersrand, waar sy haar pediatriese opleiding by die Chris Hani Baragwanath- en Charlotte Maxeke-hospitale voltooi het.

“My tyd daar het saamgeval met die hoogtepunt van die MIV-epidemie, toe baie kinders weens vigs-verwante komplikasies gesterf het. Dit het regtig my belangstelling in aansteeklike siektes aangevuur. Ek het in 2008 na Kaapstad teruggekeer om saam met prof Mark Cotton, die uitmuntende pediatriese MIV-kundige, te werk. Daarna het ek in aansteeklike siektes gesubspesialiseer en die volgende dekade navorsing oor verskeie aansteeklikesiekte-onderwerpe gedoen, maar veral oor infeksievoorkoming, ʼn navorsingsgebied wat in Suid-Afrika afgeskeep word. Infeksie is een van die algemeenste komplikasies van hospitalisasie en lei dikwels tot voorkombare sterftes by kinders én volwassenes.

“Dit het my passie en navorsingsfokus geword en ek is steeds daaraan toegewy om maniere te vind om die veiligheid van pasiёnte en personeel-beroepsveiligheid te verseker, wat verlede jaar met Covid-19 ʼn globale vraagstuk geword het," het sy gesê.

Haar talle prestasies sluit in dat sy in 2013 ʼn Internasionale Ambassadeurstoekenning van die Vereniging vir Gesondheidsorgepidemiologie van Amerika (SHEA) ontvang het, en in 2018 ʼn Ontluikende Globale Leier-loopbaantoekenning van die VSA se Nasionale Institute van Gesondheid (NIH). Sy het ook die skryfproses van die boek Infection Prevention and Control gelei.

Dramowski het hulde aan ʼn paar uitstekende mentors op haar pad gebring. “Niemand bereik ʼn posisie van leierskap sonder om opgetrek te word deur mense wat die pad voorheen gestap het nie."

Wanneer sy nie werk nie, geniet Dramowski voetslaan, die buitelewe en natuurlewefotografie. “Ek help ook uit met ʼn Cub Scout-spannetjie met 7- tot 11-jariges, wat baie pret is en sorg dat ek op en wakker bly."

Die inspirasie vir haar lewe is die filosoof Rumi, vir sy vasberadenheid “om na die beginsels van menswees terug te keer. Ek probeer die mensheid sien in elke mens in elke scenario waarmee ons te doen kry. Dit is my vertrekpunt in elke gesprek – om te verstaan waar iemand vandaan kom, om te alle tye onbevooroordeeld te wees, alle kante van ʼn argument aan te hoor en ʼn gedeelde doelwit te vind. Ek weet dit sal die sleutel wees om verandering teweeg te bring en om almal met wie ek in hierdie nuwe pos saamwerk, agter ʼn gemeenskaplike visie te verenig."