Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
AUDA-NEPAD stel sentrum van uitnemendheid bekend om plaaslike Afrika-innovasies uit te bou
Outeur: AUDA-NEPAD, CSIR & SU
Gepubliseer: 22/06/2021

In 'n unieke drieledige vennootskap het die Afrika-unie se ontwikkelingsagentskap (AUDA-NEPAD), die Suid-Afrikaanse Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) en die Universiteit Stellenbosch (US) die AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (WTI) bekend gestel om innovasies eie aan die vasteland verder te ontwikkel en te kommersialiseer.

Dit is een van vyf sentrums van uitnemendheid waarmee die Afrika-unie (AU) die vasteland se kennis en wetenskapsgegronde innovasies wil benut om die implementering van Agenda 2063 te ondersteun en te bespoedig. Die ander vier sentrums konsentreer onderskeidelik op landelike hulpbronne en voedselstelsels, klimaatsveerkragtigheid, die ontwikkeling van menslike kapitaal en instellings, en verskaffingskettings en logistiek.

Die doel van die WTI-sentrum is om die navorsings- en wetenskapvermoëns van Afrika met beleid- en implementeringswerk te verbind en sodoende op die ontwikkelingsbehoeftes van die vasteland te reageer.

Meer as 40 plaaslike innovasies is reeds geïdentifiseer. Die innovasies spruit uit lank bestaande programme van die US en WNNR, en is alles wyd beproefde en bewese tegnologieë of praktyke wat gereed is om oor die hele vasteland uitgebou en/of gekommersialiseer te word. Dit bied 'n wye verskeidenheid oplossings op gebiede soos gesondheid, hernubare energie, landbou, water en sanitasie om lande in die nadraai van die COVID-19-pandemie te ondersteun.

“Die opbou van Afrika se wetenskap-, tegnologie- en innovasievermoë vir versnelde en volhoubare groei en ontwikkeling is 'n strategiese prioriteit vir Suid-Afrika se nuwe dekade plan vir wetenskap, tegnologie en innovasie. Suid-Afrika is dus verheug om die nuwe Sentrum vir Uitnemendheid aan te bied, waarmee die Departement van Wetenskap en Innovasie sal saamwerk, en voortbou op ons historiese ondersteuning vir pan-Afrika-wetenskaplike programme. Die Sentrum vir Uitnemendheid sal ook dien as katalisator vir verbeterde en verdiepte samewerking in Afrika, om te reageer op die uitdagings wat Covid-19 bied en geleenthede soos die nuwe kontinentale vrye handelsgebied in Afrika te benut," Daan du Toit namens Dr. Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie

 

Volgens dr Ibrahim Mayaki, uitvoerende hoof van AUDA-NEPAD, het die COVID-19-krisis getoon dat wetenskap, tegnologie en innovasie deurslaggewend is om die verwoestende impak van die pandemie teen te werk. “Die vasteland moet nou sy blik inwaarts rig en sy eie innovasies ontwikkel, versterk en uitbou wat die pandemie kan help bestry en groter veerkragtigheid in die era ná COVID kan bou. AUDA-NEPAD is trots daarop om, deur die WTI-vennootskap met die WNNR en die US, as 'n pypleiding tussen Afrika-innoveerders en regerings en kliënte te dien om oplossings eie aan ons vasteland uit te brei en te lokaliseer. Ons sentrums van uitnemendheid sal kernsektore wat deur die pandemie geraak word van vernuwende en aanpasbare oplossings volgens skaal voorsien."

“Met die skep van hierdie sentrum begin 'n enorme selfopgelegde taak, naamlik om na innovasies op die vasteland te gaan soek," het dr Thulani Dlamini, uitvoerende hoof van die

 

WNNR, gesê. “Trouens, ons sal nie net daarna gaan soek nie, maar ook seker maak dat dit die driedubbele uitdaging van werkloosheid, armoede en ongelykheid in Afrika help verlig. Ons vennootskap met AUDA-NEPAD en die Universiteit Stellenbosch sal die vasteland se navorsings-, ontwikkelings- en innovasievermoë 'n hupstoot gee, en bydra tot die ontwikkeling en toepassing van tegnologieë vir sosio-ekonomiese transformasie in Afrika."

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, is optimisties oor die potensiaal van die WTI-sentrum. “Ek is werklik opgewonde oor wat tans op Afrikabodem deur Afrikasamewerking en -vennootskappe gebeur. As ons saamwerk, is daar geen einde aan wat ons kan bereik nie. Dit is allermins vergesog om te dink dat Afrika sy eie agenda kan bevorder en sy enorme potensiaal in werklike produkte en dienste kan omskep wat 'n positiewe verskil maak in die lewens van die 1,3 miljard mense wat hier woon," het hy gesê.

Die AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie bied 'n kontinentale platform vir die ondersteuning en verkryging van finansiering en ander hulpbronne om bewese innovasies van navorsings- en vennootorganisasies uit te bou, te versprei en te lokaliseer. Die sentrum sal Afrikagedrewe kennis en navorsing met ander kennis- en navorsingsekosisteme oor die hele vasteland verbind. Boonop sal dit innoveerders alternatiewe maniere bied om kliënte met hulle nuwe oplossings te bereik.

Die innovasiekatalogus is hier te kry.

Vir verdere inligting:

AUDA-NEPAD: Abiola Shomang, abiolaa@nepad.org

WNNR: David Mandaha, DMandaha@csir.co.za

US: Refiloe Nkhasi, interweb@sun.ac.za

 

Meer oor AUDA-NEPAD

Die Afrika-unie se ontwikkelingsagentskap (AUDA)-NEPAD is die tegniese liggaam van die Afrika-unie wat prioriteitsprogramme en -projekte vir die streek en vasteland fasiliteer en koördineer, en vennootskappe, hulpbronmobilisering, navorsing en kennisbestuur bevorder. Deur AUDA-NEPAD ontvang Afrikalande unieke geleenthede om hulle eie ontwikkelingsagenda te beheer, nouer saam te werk, en doeltreffender met vennote elders ter wêreld te skakel. Vir verdere inligting, gaan na www.nepad.org.

Volg AUDA-NEPAD op sosiale media:

Twitter: @NEPAD_Agency

Facebook: @nepad.page

YouTube: AUDA-NEPAD

 

Meer oor die WNNR

Die WNNR, 'n entiteit van die Suid-Afrikaanse Ministerie van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, is een van die voorste organisasies vir wetenskaplike en tegnologienavorsing, -ontwikkeling en -implementering in Afrika. Dit is in 1945 kragtens 'n wet as 'n wetenskapsraad gestig, en onderneem toegespitste en multidissiplinêre navorsing en tegnologiese innovasie sowel as nywerheids- en wetenskaplike ontwikkeling om alle Suid-Afrikaners se lewensgehalte te verbeter. Vir verdere inligting, gaan na www.csir.co.za.

Volg die WNNR op sosiale media:

Twitter: @CSIR

Facebook: CSIRSouthAfrica

Instagram: CSIRSouthAfrica

LinkedIn: Council for Scientific and Industrial Research (CSIR)

YouTube: CSIRNewMedia

 

Meer oor die Universiteit Stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch (US) is 'n toonaangewende openbare hoëronderwysinstelling in Suid-Afrika wat in 2018 sy eeufees gevier het. Met 'n wye verskeidenheid plaaslike en internasionale vennote en belanghebbendes is dit die US se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word, en wat kennis tot diens van die samelewing bevorder. Op die ranglyste verskyn die instelling konsekwent onder die beste drie universiteite in Suid-Afrika en Afrika, en die voorste 1% ter wêreld. Vir verdere inligting, gaan na http://www.sun.ac.za/afrikaans/Pages/default.aspx.

Volg die US op sosiale media:

Twitter: @StellenboschUni

Facebook: StellenboschUniversity

Instagram: stellenboschuni

LinkedIn: Stellenbosch University

YouTube: Stellenbosch University