Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderwysers het hulp nodig om leergestremdhede in klaskamer te identifiseer
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/06/2021

Minder as die helfte van Suid-Afrikaanse skole het vertroue in hul vermoë om visuele, gehoor- of leerprobleme by leerders vas te stel.

“Opvoeders se swak vermoë om probleme by leerders vas te stel, beteken dat baie leerders met minder ooglopende gestremdhede ongeïdentifiseer in sal bly in skole. Die gevolg is dat baie leerders met gestremdhede nie die nodige ondersteuning sal ontvang om ten volle aan leer deel te neem nie," sê Nicola Deghaye, 'n doktorale student binne die Navorsingsgroep oor Sosio-ekonomiese Beleid (ReSEP) in die departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US). 

Deghaye het in 'n onlangse studie, wat as 'n besprekingsdokument van die departement Ekonomie en die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die US verskyn het, aspekte van gestremdheidsondersteuning en -toegang, asook onderwysers se opleiding vir die insluiting van leerders met gestremdhede in ons openbare skole ondersoek. Sy sê 'n gebrek aan data oor hierdie kwessies het aanspreeklikheid vir beleidsimplementering belemmer en het ook begroting vir insluiting bemoeilik. 

Deghaye het as deel van haar studie die 2017 Skoolmoniteringsopname (SMO) ontleed en hierdie resultate met die 2011-opname vergelyk om te bepaal of enige vordering met die implementering gemaak is. Die SMO is een van twee nasionaalverteenwoordigende data-opnames wat aanwysers verskaf oor gestremdheidstoegang en onderwysers se gereedheid om leerders met gestremdhede in openbare skole in te sluit. Sy het ook die 2017-opname met die Departement van Basiese Onderwys se Siftings-, Identifikasie-, Assesserings-, en Ondersteuningsbeleid (SIAS) van 2014 en belowende aanwysers van insette en prosesse op skool- en onderwyservlak vergelyk om sleutelmetinggapings te identifiseer.

Deghaye sê haar ontleding het getoon dat hoewel verskeie skole 'n onderwyser het wat opgelei is om leerders met leerprobleme te identifiseer of te ondersteun, leer baie van die huidige opleidingsprogramme nie opvoerders hoe om hul onderrigmetodes of die inhoud van die kurrikulum aan te pas om diverse leerders doeltreffend te bereik nie. 

“Terwyl die verhouding van skole met ten minste een onderwyser wat tot 'n mate opgelei is in die identifisering van leerversperrings of ondersteuning aan leerders tot 74% gestyg het, het slegs 57% van daardie onderwysers die kritiese onderwerp van kurrikulumdifferensiasie gedek. Slegs 43% is opgelei om assesserings aan te pas om leerversperrings aan te spreek (soos om aan leerders bykomende tyd te gee, om meer konkrete vrae aan sekere leerders te stel, of om sekere leerders mondelinge eksamens te laat aflê).

“Dit is kritiese vaardighede wat alle onderwysers nodig het om in staat te wees om onderrigmateriaal en -metodes aan te pas om leerders met leerprobleme of -gestremdhede in 'n gewone klaskamer te akkommodeer.

“Opvoeders wat opgelei is om leerders met probleme of gestremdhede te identifiseer of te ondersteun, sal waarskynlik leerversperrings met groter vertroue aanspreek."

Deghaye sê haar studie het ook bevind dat meer skole skoolgebaseerde ondersteuningspanne op die been gebring het.

Skoolgebaseerde ondersteuningspanne bestaan uit 'n groep opvoeders in 'n skool wat gereeld vergader om onderwysers te ondersteun om leerders wat om watter rede ook al sukkel, te identifiseer. Die span help die onderwyser om ondersteuningsplanne vir leerders op te stel en te implementeer en skakel met die distrik waar bykomende ondersteuning of 'n formele assessering benodig word.

“Ons het aansienlike vordering gemaak met die vestiging van skoolgebaseerde ondersteuningspanne in skole en meer van hierdie spanne ontvang ondersteuning van hul onderskeie distrikte. Ons het ook uitstekend gevorder met die verskaffing van rolstoel-toeganklike toilette."

Ongelukkig vind vordering met skoolgebaseerde ondersteuningspanne asook met gestremdheidsondersteuning en die opleiding van onderwysers om gestremdheidsinsluiting te bevorder, nie gelyk oor al die provinsies plaas nie, sê Deghaye.

“In 2017 het slegs 39% van skole in Limpopo skoolgebaseerde ondersteuningspanne in plek gehad. Slegs 'n paar skole in KwaZulu-Natal het tussen 2011 en 2017 skoolgebaseerde ondersteuningspanne op die been gebring.

“Op hulle beurt was dit minder waarskynlik dat skoolgebaseerde ondersteuningspanne in Limpopo en die Oos- en Noord-Kaap ondersteuning van die distrik sou ontvang as spanne in Noordwes. Skoolgebaseerde ondersteuningspanne in Limpopo se kans om ondersteuning van die distrik te ontvang, was byvoorbeeld 44% minder as dié in Noordwes.

“Skole in Gauteng, die Vrystaat en die Wes-Kaap het 'n groter kans as skole in ander provinsies gehad om ten minste een opgeleide onderwyser te hê. In 2017 het meer spesialiste (soos sielkundiges, terapeute en leerondersteuningopvoeders) of gesondheidsdienste skole in die Wes-kaap besoek as in enige ander provinsie."

Volgens Deghaye hou hierdie provinsiale ongelykhede waarskynlik met die ongelyke befondsing van inklusiewe onderrig tussen provinsie verband.

Sy sê skole moet bemagtig en gehelp word om skoolgebaseerde ondersteuningspanne te vorm.

“Samewerking tussen die skolegesondheidsprogram en skoolgebaseerde ondersteuningspanne moet vergroot word as deel van die verbetering van onderwysers se begrip van die siftingsproses."

Deghaye sê haar bevindings oor die oorblywende gapings in toeganklikheid van skole sal baie akkurater begrotings vir die implementering van hervormings op skoolvlak toelaat.

Sy voeg by dat verdere data benodig word oor die toeganklikheid tot leermateriale en ingesteldheidshindernisse in gewone skole, asook oor ondersteuning wat in spesiale skole verskaf word.

Foto met vergunning van Freepik.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Nicola Deghaye

E-pos: nicola.deghaye@gmail.com

UITEGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za