Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Grys walvis stel nuwe afstandsrekord op
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 09/06/2021

In Mei 2013 het mariene bioloë verstom gestaan oor die nuus dat 'n grys walvis vir die eerste keer ooit suid van die ewenaar aan die kus van Walvisbaai in Namibië waargeneem is.

Was hierdie walvis moontlik 'n oorblyfsel van 'n Atlantiese bevolking wat volgens vermoede al lankal tot uitwissing gejag is? Die laaste waarneming van 'n grys walvis was klaarblyklik in die 1740s. Of was dit 'n aanduiding van die begin van 'n nuwe bevolking in dié area?

Nou het navorsers verbonde aan die Durham Universiteit in die Verenigde Koninkryk (VK) en die Universiteit Stellenbosch in Suid-Afrika (SA), dié alleenlopende grys walvis se geboorteplek as die Noordelike Stille Oseaan geïdentifiseer. Hul bevindings is vandag (9 Junie 2021) in die vaktydskrif Biology Letters gepubliseer.

Terwyl grys walvisse daarvoor bekend is dat hulle van die wêreld se langste migrasies onderneem, het hierdie Namibiese grys walvis elke rekord in die boek gebreek deur 'n beraamde 27 000 km vanaf sy geboorteplek te reis – bykans halfpad rondom die wêreld.

Prof Rus Hoelzel, 'n evolusionêre bioloog van die Durham Universiteit en hoofouteur van die artikel, het die volgordebepaling van die hele genoom van die walvis gedoen ten einde die uitdaging van sy herkomsbepaling te kon oorkom: “Dit identifiseer sy geboorteplek onomwonde  as die Noordelike Stille Oseaan. Wat ons egter nié weet nie, is of hierdie merkwaardige lang migrasie slegs 'n toevallige rondlopery is, en of sy voorkoms in die Atlantiese Oseaan 'n voedingsuitstappie verteenwoordig, wat moontlik gemaak is deur 'n deurgang deur Arktiese pakys."

Vroeg in die negentiende eeu is grys walvisse rondom Korea en Japan bykans tot uitwissing gejag, maar die bevolking in die oostelike deel van die Noordelike Stille Oseaan was minder erg daardeur geraak. In die Atlantiese Oseaan is die geskiedenis nog onduidelik, maar daar is fossielrekords wat uit die pleistoseen dateer, voeg hy by.

Mede-outeur en bioinformatikus Fatih Sarigol, ook van die VK, sê hulle sou verkies het om met meer as een monster te werk, of om só 'n migrasie met 'n GPS-opsporingstoestel te dokumeteer: “Niemand kon voorsien dat hierdie walvis die Suid-Atlantiese Oseaan sou besoek nie. Vir sulke onverwagse geleenthede in die wetenskap moes ons van buitengewone metodes gebruik maak om sy herkoms te kon vasstel."

Dr Simon Elwen en Dr Tess Gridley, direkteure van die Namibiese Dolfynprojek en navorsingsgenote in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch, sê hulle het dadelik geweet dat hierdie waarneming 'n ongewone gebeurtenis was: “Gedurende die twee maande wat die walvis in Walvisbaai gebly het, het ons so veel as moontlik inligting ingesamel. Dit het die neem van genetiese monsters behels, asook gedetailleerde foto's, aangesien grys walvisse op grond van hulle merke geïdentifiseer kan word."

Hulle het geweet dat die genetiese materiaal hulle sou help om vas te stel van watter bevolking die walvis vandaan kom, en hoe ver dit gekom het. Tot dusver het die foto-identifikasie van die grys walvis nog geen passing opgelewer nie.  

Volgens die navorsers het die waarneming in die Suid-Atlantiese Oseaan, in kombinasie met 'n handvol ander waarnemings in die Noord-Atlantiese Oseaan oor die afgelope dekade, aangedui dat die spesie aan die beweeg is.

Migrasie van grys walvisse van die Stille Oseaan-bevolking kan ook toegeskryf word aan menslike bedrywighede: “Ons glo dat die mees waarskynlike reisroete van die Namibiese walvis, via die Arktiese Oseaan was, 'n deurgang wat slegs moontlik gemaak is as gevolg van die afname in ysvloei wat toegeskryf kan word aan klimaatsverandering in onlangse jare."

Die artikel, “Natal origin of Namibian grey whale implies new distance record for in-water migration", is op 9 Junie 2021 in Biology Letters gepubliseer.

Dit is aanlyn beskikbaar by https://royalsocietypublishing.org/journal/rsbl

Perslêer hier beskikbaar:

https://drive.google.com/drive/folders/1RRBJPNvXFayRSxbWzxyGRO_hrOpujNGH?usp=sharing

Meer oor die Namibiese Dolfynprojek

Die Namibiese Dolfynprojek is 'n navorsings- en bewaringsprojek wat in Walvisbaai en Lüderitz in Namibië werksaam is. Dit word bestuur as deel van die Sea Search niewinsgewende navorsings- en bewaringsgroep en betrek wetenskaplikes en spesialiste van verskeie Suid-Afrikaanse en insternasionale universiteite en institute. Belangstellende studente kan 'n internskap by die Namibiese Dolfynprojek en Sea Search doen ten einde belangrike veldwerkvaardighede aan te leer.  

Meer oor die Universiteit Stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch is een van Suid-Afrika se toonaangewende tersiêre instellings wat gegrond is op navorinsingsuitsette, studentesukseskoers en geëvalueerde wetenskaplikes. Dit word internasionaal erken as 'n akademiese instelling van uitnemendheid. As navorsingsvennoot van keuse, is die Universiteit Stellenbosch deel van verskeie internasionale akademiese netwerke.

http://www.sun.ac.za/english

Meer oor Durham Universiteit

Durham Universiteit is een van die wêreld se toonaangewende universiteite wat 86ste op die QS Ranglys van Universiteite lê. In die Verenigde Koningkryk is Durham vierde geplaas op die Guardian University Guide. Dit is 'n universiteitskollege wat bestaan uit vier fakulteite, 26 departemente of skole en 17 kolleges. Daar is meer as 4 300 personeellede en 20 000 studente. Dit is die derde oudste universiteit in Engeland en is in die historiese dorp, Durham geleë.

​​Media-onderhoude

Dr Simon Elwen

Mededirekteur van die Namibia Dolphin Project/Sea Search en navorsingsgenoot, Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch

E-pos: nam.dolphin.project@gmail.com

Sel: +27(0)71 1395 951

Landlyn: +27 (0) 21 788 1206

 

Dr Tess Gridley

Mededirekteur van die Namibia Dolphin Project/Sea Search

E-pos: nam.dolphin.project@gmail.com

Sel: +27(0)79 429 2702

Landlyn : +27 (0) 21 788 1206

 

Prof Rus Hoelzel

Departement van Biowetenskappe, Durham Universiteit

E-pos: a.r.hoelzel@durham.ac.uk

Foto: S. Golaski