Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die implikasies van COVID-riskovlak 2 vir die US
Outeur: Prof Stan du Plessis: ICBC Chair
Gepubliseer: 04/06/2021

4 Junie 2021

Terugvoer vanaf die IKBV 


Beste kollegas en studente

'n Streng waarskuwing om waaksaam te bly teen die bedreiging van COVID-19, is Donderdag, 3 Junie 2021 by die vergadering van die US se Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) op Stellenbosch aan ons gerig deur prof Juliet Pulliam, Direkteur van die DWI-NNS Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA) wat by die Universiteit Stellenbosch (US) gesetel is.

Sedert ons vorige vergadering, het Suid-Afrika na aangepaste risikovlak 2 verskuif. Prof Pulliam het bevestig dat ons steeds vinnig na 'n derde golf van infeksies op pad is. Hoewel die toenamekoers ietwat verlangsaam het, bly Stellenbosch steeds in die “hoë risiko"-kategorie, met meer as 29 weeklikse insidente per 100 000 lede van die bevolking.

Soos ek in my vorige skrywe genoem het, is dit nou die tyd om tot aksie oor te gaan. Ek wil elkeen bedank wat gehoor gee aan die waarskuwings. Julle optrede het vrugte afgewerp en die vlak van infeksies op Stellenbosch het gestabiliseer, maar op hierdie hoë vlak kan ons nie ons waaksaamheid verslap nie.

Terwyl ons gereed maak vir die eksamens (21 Junie tot 24 Julie), is dit uiters belangrik dat ons 'n masker dra, plekke vermy waar daar swak ventilasie en 'n samedromming van mense is, 'n veilige fisieke afstand van ander handhaaf en ons hande gereeld was.

Let asb ook op die aangepaste aandklokreël wat van 23:00 tot 04:00 geld. Kampussekuriteit sal nie studente huis toe kan vergesel gedurende hierdie tye nie. Personeellede wat gedurende hierdie tye moet reis of buitekant moet wees vir bedryfsdoeleindes, moet weer aansoek doen vir die nodige permit.

Leer en onderrig

Die IKBV het die uitwerking van vlak 2 op die US se benadering tot leer en onderrig vanjaar, insluitende vir die komende assesseringstydperk, deeglik oorweeg.

Ons het eerstens daarop gelet dat ons sektor as 'n geheel deur voorskrifte oor die bestuur van die 2021-akademiese jaar beheer word, soos op 29 Maart deur die departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) gepubliseer is. Omdat plaaslike omstandighede verskil, dra ons almal die verantwoordelikheid om te verseker dat studente, personeel en besoekers aan ons kampusse gesondheidprotokols en sosiale afstandskeppingmaatreëls streng nakom.

Op grond van insette wat van ons verskillende werkstrome ontvang is, het die IKBV besluit om vir die res van die semester en die jaar met ARTLA (aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering) voort te gaan. Fakulteite het 'n mate van buigsaamheid om sekere modules ten volle aanlyn aan te bied, maar slegs ná deeglike oorweging.

Weens die pandemie bevind onsself natuurlik in 'n hoogs veranderlike situasie en omstandighede kan op kort kennisgewing verander. Maar soos dinge nou is, is ons vol vertroue dat ons die nodige reëlings en protokols getref het om veilig voort te gaan.

Die komende A2- en A3-assesserings sal, soos beplan, van 21 Junie tot 24 Julie voortgaan – meestal in persoon op kampus onder toesig.

Let asb daarop dat niemand by 'n eksamenlokaal toegelaat sal word sonder 'n masker nie, en indien iemand dit gedurende die eksamen sou afhaal, sal die persoon gevra word om die lokaal te verlaat. Studente moet ook hul “groen status" wat hulle van Higher Health se daaglikse risikobepalingstoepassing, HealthCheck (https://healthcheck.higherhealth.ac.za) op hul foon ontvang het, toon. Oneerlikheid hieroor kan tot dissiplinêre stappe lei. Studente sal ook verhoed word om assesserings in persoon af te lê indien hulle beduidende COVID-verwante simptome toon.

Op kampus

Ons IT-afdeling doen alles in hul vermoë om WiFi-verbindings op kampus optimaal te maak, maar studente moet asseblief seker maak dat hulle die korrekte prosedure volg om by Eduroam te registreer en in te skakel. Verkeerde registrasie veroorsaak aansienlike onstabiele WiFi-verbindings.

Die Vergrote Leerruimtes-projek (ELS) vorder goed, ondanks uitdagings om kritieke onderdele te bekoms weens 'n wêreldwye tekort aan materiale. Agt lokale is reeds voltooi en indien alles volgens plan verloop, behoort 67 lokale teen die einde van September voltooi te wees.

Die protokol vir die bespreking van lokale, die aanbied van geleenthede en om vergaderings in persoon te hou, is bygewerk om dit met die huidige vlak 2 te laat ooreenstem. Klik hier om na die protokoldokument te gaan.

 Ons verwelkom personeel en studente se waaksaamheid om te sorg dat alle US-omgewings hul plig doen. Indien jy enigsins bekommerd is oor COVID-protokols wat nie nagekom word nie, meld dit asb aan by die persoon wat verantwoordelik is vir die betrokke fasiliteit – byvoorbeeld die dekaan of fakulteitsbestuurder. Jy kan ook 'n WhatsApp-boodskap na 082 808 2333 stuur vir die aandag van die US se hoof-voldoeningsbeampte.

Inentings

Met die nasionale COVID-19-inentingsprogram wat goed op dreef is, het ons Afdeling Menslike Hulpbronne verskeie navrae van personeel ontvang oor die tipe verlof waarvoor hulle moet aansoek doen vir hierdie doel. 'n Kategorie, “Leave of Absence: Vaccination" sal hiervoor geskep word. Meer inligting sal in 'n afsonderlike skrywe verskaf word.

Kom ons doen dit vir mekaar

Kollegas, studente, die risiko van COVID-19-infeksies bly hoog en daarom moet ons waaksaam bly, en alle protokols nakom om te voorkom dat die pandemie vinnig versprei. Dit is belangrik dat ons almal 'n gedeelde verantwoordelikheid sal aanvaar om mekaar veilig te hou.

Vir die jongste inligting, raadpleeg asb die US se COVID-19-webblad gereeld.

Pas julle asb op en wees veilig,

Prof Stan du Plessis

Voorsitter: IKBV