Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Poliandrie teiken die kern van patriargie
Outeur: Lize Mills & Amanda Gouws
Gepubliseer: 03/06/2021

Mans reageer heftig wanneer poliandrie ter sprake kom omdat dit die kern van patriargie uitdaag en hul monopolie oor  vroue se seksualiteit, huishoudelike en versorgingsarbeid en eiendom kan breek. Só meen dr Lize Mills (Departement Privaatreg) en prof Amanda Gouws (Departement Politieke Wetenskap) in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (1 Junie).

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Lize Mills en Amanda Gouws*

In Suid-Afrika is daar mans wat ingevolge die poligene huwelikspraktyk wat wettig is in die land, soveel as tien vroue het. Maar wanneer vroue meer as een man wil hê, ook genoem poliandrie, is die duiwel los. Of dit is wat die reaksie op die blote melding van die feit dat “aktiviste aangedui het dat gelykheid vereis dat poliandrie wetlik erken moet word as 'n huweliksvorm" in die Groenskrif, uitgegee deur die departement van Binnelandse Sake in Mei vanjaar, getoon het. Dit is meestal mans wat hieroor ontsteld is. Sommige beweer poliandrie “sal gesinswaardes vernietig", “het nog nooit bestaan nie" en sal meer DNS-toetse benodig om die vaderskap van 'n kind te bepaal.

'n Vrou kan dus nooit toegelaat word om meer as een man te hê nie, wat nog van tien. Net so sal huweliksmaats van dieselfde geslag nie meer as een lewensmaat kan hê nie. Wat vir die een geld, kan nie vir die ander een geld nie. Dít beteken Suid-Afrika moet artikel 9 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, ignoreer, asook die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, 2000 (Wet 4 van 2000), die Protokol tot die Afrika-handves vir Mense- en Volkeregte op die Regte van Vroue in Afrika, en die Konvensie oor die uitwissing van alle vorms van diskriminasie teen vroue, 1979 (CEDAW) wat almal vroue se gelykheid bevestig, aangesien die maatskaplike euwels wat sal volg, te erg sal wees om te verduur.

Die voordele van poliandrie dui daarop dat die mag regdeur die huwelik of verhouding versprei word, aangesien daar nie net een, enkel (manlike) gesagsfiguur is nie. Eiendom word gewoonlik kollektief besit, wat beteken niemand word by die besit van eiendom uitgesluit nie, self wanneer een van die mans sou sterf. Hierdie huwelike is ook ekonomies meer welvarend, aangesien vroue nie ekonomies net van een man afhanklik is nie. Vaderskap is nie gevestig in wie die kind se pa is nie, maar in die kennis dat enigeen van die mans die pa kan wees. Daarom is vaderskap 'n sosiale en kollektiewe kwessie en die mans is meer betrokke by die grootmaak van die kinders. Kinders en eiendom behoort aan gesinne, en nie aan individue nie. Wat vroue betref, gee dit aan hulle meer agentskap (besluitnemingsvermoë) en beheer oor hul seksualiteit en hul liggame.  

So waarom reageer mans so heftig wanneer dit kom by poliandrie? Ons argument is dat poliandrie diep bedreigend is, want dit daag die kern van patriargie uit. In die meeste heteroseksuele verhoudings het 'n man die monopolie oor sy vrou se seksualiteit, huishoudelike en versorgingsarbeid en haar eiendom, en hy het 'n reg op die kinders wat in die huwelik gebore word. Poliandrie ondermyn hierdie magsverhoudings, voorkom beheer oor vroue se seksualiteit en vergroot vroue se agentskap, terwyl dit terselfdertyd vereis dat mans na hul kinders omsien.

Poligamie en poliandrie is dus nie simmetriese stelsels nie, want poligamie gee mans toegang tot meer as een vrou om sy seksuele behoeftes te bevredig, met die voordeel dat hy 'n klomp vroue het wat sy kinders grootmaak – gewoonlik met baie min hulp van sy kant af. Navorsing toon dat poliandrie, aan die ander kant, meer gelykmakend is, groter sorggelykheid verseker en daar meer harmonieuse verhoudings tussen al die betrokke partye is.

Deur poliandrie te wettig, sal niemand in so 'n huwelik ingedwing word nie. Dit sal 'n persoonlike besluit wees, net soos huwelike tussen dieselfde geslag 'n persoonlike besluit is. Dit is tyd dat Suid-Afrikaners wat steeds teen huwelike tussen dieselfde geslag en nou poliandriese huwelike gekant is, nadink oor hul ingesteldheid wat baie seksisties, homofobies, ongrondwetlik en beledigend is.

*Dr Lize Mills is 'n Senior Dosent by die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteite Stellenbosch (US). Prof Amanda Gouws beklee die SARChI-leerstoel in Genderpolitiek aan die US.

  • Hierdie is 'n uittreksel uit die volledige meningsartikel van dr Lize Mills en prof Amanda Gouws. Klik hier om die volledige artikel te lees.