Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
DeepMind se hernieude verbintenis gee verdere hupstoot aan kundigheid in masjienleer in Afrika
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 03/06/2021

DeepMind, 'n Londense wêreldleier in kunsmatige intelligensie-navorsing en die toepassing daarvan in die werklike wêreld, het sy verbintenis tot die ondersteuning van nagraadse studente op die gebied van toegepaste wiskunde, statistiek, elektriese en elektroniese ingenieurswese en rekenaarwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), hernu.

Ses beurse is beskikbaar vir studente wat 'n tweejaarlange MSc in Toegepaste Wiskunde of Rekenaarwetenskap, of 'n MIng in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, wil volg en twee beurse is beskikbaar vir studente wat aanvaar is om vir 'n PhD in Toegepaste Wiskunde, Rekenaarwetenskap, Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, Wiskundige Statistiek of Statistiek in te skryf. Hierdie is bykomend tot die beurse wat reeds in 2021 toegeken is.

In 2020, het die US die eerste universiteit in Afrika geword om hierdie beurse van DeepMind te ontvang. DeepMind is in 2010 in Londen gestig en die DeepMind-studiebeurse vorm deel van 'n groter inisiatief deur die maatskappy om deelname aan wetenskap te verbreed en die breër navorsingsekosisteem te ondersteun, insluitend Afrika.

Jacobie Mouton, wat vanjaar haar MSc-graad in Rekenaarwetenskap begin het en deel uitmaak van die eerste groep ontvangers van die studiebeurse, glo dat hierdie geleentheid 'n veel ryker en afgeronde nagraadse ervaring sal verseker, wat 'n beduidende invloed op haar toekomstige loopbaan sal hê.

“Dit is 'n baie opwindende geleentheid vir my om my navorsingsvaardighede te verbeter en my kennis van die baie relevante veld van masjienleer uit te brei. En nie net dit nie, ek kry ook die kans om met ander navorsers en professionele persone in die bedryf te kommunikeer deur middel van die DeepMind-mentorprogram en geborgde konferensiebywoning."

Aansoeke vir die nuutste beurse het reeds aanlyn geopen by http://mlai.sun.ac.za/dms. Ontvangers word deur Universiteit gekies en begin hul kursusse in 2022.  Die DeepMind‑beursstudieprogram gee talentvolle studente uit groepe tans onderverteenwoordig in masjienleer, ingesluit vroue, die ondersteuning wat hulle nodig het om aan vooraanstaande universiteite te studeer. Studiegelde word ten volle betaal en DeepMind‑mentors voorsien ontvangers van leiding en ondersteuning. Benewens finansiële ondersteuning kry beursontvangers die geleentheid om wêreldkonferensies en bedryfsgeleenthede by te woon en direk by mentors binne DeepMind te leer.

“Die feit dat DeepMind hul beursstudieprogram aan die Universiteit Stellenbosch uitbrei, getuig van hul verbintenis tot die bou van kundigheid in masjienleer in Afrika. Verlede jaar was ons oorweldig deur die groot belangstelling van studente, met meer as 200 aansoeke uit 31 Afrikalande," sê Willie Brink, medeprofessor in Toegepaste Wiskunde en koördineerder van die DeepMind-beurstoekennings aan die US.

“Dit is beslis bemoedigend om te leer van die bestaande talent en opgewondenheid oor die hele vasteland wanneer dit kom by masjienleer. Ek is geïnspireer om steeds geleenthede vir nagraadse studente in Afrika te vind, en ek sien uit daarna om die 2022-groep DeepMind-studente in Stellenbosch te verwelkom!"

  • Aansoeke vir die 2022 DeepMind-beurse aan die Universiteit Stellenbosch is tans oop (klik hier: http://mlai.sun.ac.za/dms) en sluit op 31 Julie 2021.  
  • Vir verdere navrae, kontak gerus vir prof Willie Brink by wbrink@sun.ac.za