Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorser ontvang gesogte Fulbright-navorsingsbeurs
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 01/06/2021

“Ek is meer as ingenome. Dit is beslis die gesogste (en mededingendste) toekenning wat ek al in my loopbaan ontvang het.

Dít is hoe prof Ronelle Carolissen van die departement Opvoedkundige Sielkunde by die Universiteit Stellenbosch op die nuus gereageer het dat sy as 'n Fulbright Suid-Afrikaanse navorsingsgenoot vir die 2021–2022-akademiese jaar aangewys is.

Carolissen het die Fulbright-navorsingsbeurs ontvang vir haar werk oor onder meer dekoloniale teorie, inklusiewe burgerskap, om te behoort en sosiale geregtigheid pedagogie. Sy sal drie maande (September tot middel-Desember) by die Universiteit van Massachusetts Lowell (UMassLowell) in die Verenigde Stae spandeer. Daar sal sy navorsing doen oor hierdie en ander verwante onderwerpe.

Carolissen sê hierdie toekenning is “'n besliste bevestiging van die potensiaal van my werk en dit inspireer my om my navorsingsloopbaan voort te sit. Saam met die prestige van die Fulbright kom die gewig van verantwoordelikheid om vir beide my universiteit en my land 'n ambassadeur te wees. Ek voel regtig bevoorreg om dit te ontvang, aangesien ek weet dat baie akademici wat vir die Fulbright aansoek doen, nie noodwendig Fulbright-genote word nie."

“Hierdie erkenning kom op die regte tyd, aangesien ek tans nadink oor hoe ek my bydrae tot hoër onderwys en my professie uit 'n interdissiplinêre oogpunt kan maksimaliseer."

“Carolissen sê sy glo 'n Fulbright-navorsingsbeurs sal haar verder aan uitnemende akademiese talent wêreldwyd blootstel – beide in haar Fulbright-kohort en by haar gasheerinstelling.

“Danksy Fulbright, wat vanjaar sy 75ste herdenking vier, sal ek ook by 'n uitgelese netwerk van alumni kan aansluit en toegang tot hulle kry."

Carolissen voeg by dat hierdie netwerke veral belangrik is op hierdie geskiedkundige tydstip van groot onsekerheid en groter ongelykheid wêreldwyd wat samewerkende denke en aksie benodig. “Ek sien uit daarna om by hierdie netwerke en ander netwerke te leer en tot hulle by te dra, veral tot jonger vakkundiges se loopbane waarvan sommige in my vakgebied is."

Carolissen sê sy gaan nogal besig wees gedurende haar verblyf by UMassLowell. Sy gaan saam met haar gasvrou, dr Urmitapa Dutta, aan 'n navorsingsprojek met die titel, “Negotiating belongings and citizenship in Southern contexts" werk en sal ook inleidende ontledings van data afkomstig van plekke in onderskeidelik Suid-Afrika en Noordoos-Indië doen. Hulle doelwit is om die bevindings wat na vore kom, met mekaar en met die wyer literatuur oor dekoloniale teorie en inklusiewe burgerskap in verband te bring.

Carolissen sal ook aan saam met nagraadse studente en personeel in die sielkunde en opvoedkunde aan gesamentlike kollokwiums by UMassLowell en ander tersiêre inrigtings in die omgewing deelneem. Sy sal verder ook ontwikkelings in die nagraadse gemeenskapsielkunde-programme by UMassLowell ondersoek.