Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verbind tot bevordering van vakkundigheid en navorsing regoor Afrika
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 27/05/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se ywer ten opsigte van internasionalisering en hoe dit ingebed is in samewerking regoor die vasteland van Afrika, was die fokus van sy Afrikadagvierings op Dinsdag, 25 Mei 2021.  

Die tema van die virtuele herdenkingsgeleentheid was Leveraging Stellenbosch University's partnerships to advance knowledge and innovation in service of society.

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering by die US, het gesê Afrikadag is 'n geleentheid om na te dink oor wat die vasteland reeds bereik het, oor die potensiaal waaroor dit beskik en die rol wat wetenskap, tegnologie en die akademie speel om die vasteland te laat vooruitbeweeg.

Sy het bygevoeg dat daar binne die Suid-Afrikaanse konteks, waar misdaad en sedeloosheid gedy, 'n geleentheid vir akademici is om 'n oomblik stil te staan en na te dink oor die bydraes wat hulle kan lewer en die integriteit wat hulle tot die proses kan toevoeg.

“Ons dink dikwels aan ons vasteland as 'n plek waar daar net uitdagings is om te bowe te kom, maar daar is ook baie geleenthede en soveel potensiaal. Terwyl ons vandag Afrikadag vier, kry ons – van spelers in die bedryf regoor alle sektore tot diegene in die onderwys – die geleentheid om hierdie uitdagings met Afrika-oplossings aan te spreek. En ons kan dit slegs deur samewerking en vennootskappe regkry – ons kan dit nie op ons eie doen nie. Ons is inderdaad sterker saam."

Klopper het 'n paar samewerkingsgeleenthede en vennootskappe beklemtoon wat volgens haar 'n sleutelrol in die US se verbondenheid tot die bevordering van vakkundigheid en navorsing regoor Afrika speel. Dis sluit onder meer die Periperi U-netwerk ('n akroniem vir Partners Enhancing Resilience for People Exposed to Risks) in, wat na 12 universiteite regoor Afrika versprei het. Daar is ook die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (African Research Universities Alliance – ARUA) waar die US deel van 'n netwerk van 16 universiteite in Afrika suid van die Sahara is. ARUA se doel is om die gehalte van navorsing op die vasteland te verbeter.

Dr Nico Elema, bestuurder van die US se Sentrum vir Samewerking in Afrika, het 'n oorsig van sommige van hul vennootskappe en samewerking met Afrikalande gegee.

Volgens Elema het die US tans 33 bilaterale institusionele- en fakulteitsooreenkomste met lande in Afrika. Hulle het ook van 2010 tot 2021 297 Afrika-samewerkingstoekennings (Africa Collaboration Grants – ACG) toegestaan. Die toekennings word aan nagraadse studente, postdoktorale genote en US-personeel toegestaan wat as gasheer optree vir een of meer van die US se institusionele bilaterale vennote in Afrika of een of meer vir navorsing, werksessies en konferensies besoek.

Hy het gesê die US het ook onlangs 'n vennootskap met die Afrika-unie-ontwikkelingsagentskap (AUDA-NEPAD) en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) gesluit om 'n nuwe Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie te vestig.

Die AUDA-NEPAD Sentrum vir Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (AUDA-NEPAD SvU in WTI) se taak sal wees om AUDA-NEPAD se mandaat te implementeer om voorrang-streeks- en kontinentale projekte te koördineer en deur te voer ten einde streeksintegrasie te bevorder om die verwerkliking van Agenda 2063 te bespoedig en om die vermoëns van Afrika-lidlande te versterk.

Die AUDA-NEPAD SvU in WTI se doelwit sal dus die identifisering, integrasie en implementering van beproefde wetenskaplike en tegnologiese innovasies van beide die WNNR en die US en ander medevennootorganisasies wees. Dit sal ook innovasies vir nasionale/streeksontwikkelingsbeplanning en implementeringsprosesse as ontwikkelingsoplossings inspan en aan mekaar verbind wees met die doel om die implementering uit te brei en daardeur wetenskaplike, bewysgebaseerde ontwikkelingsbesluite en oplossings te bewerkstellig.

“Op die ou einde sal ons met ministers van lande kan praat en hulle bewus maak van ons navorsing, innovasies en tegnologieë en oor waar hulle inpas en hoe hulle hul Agenda 2063-aspirasies aanspreek," het Elema gesê.

Volgens hom het die sentrum 38 aanvanklike innovasies geïdentifiseer wat gerig is op die Agenda 2063-impakgebiede van industrialisasie en welvaartskepping; gedeelde vooruitgang en getransformeerde lewensmiddels; menslike kapitaalontwikkeling en getransformeerde instellings; en die bestuur van natuurlike hulpbronne en omgewingsveerkragtigheid. Hierdie innovasies kom uit programme in die US- en WNNR-klusters wat reeds lank aan die gang is, en verteenwoordig wydgetoetste en bewese tegnologieë of praktyke. Dit sluit in diagnostiese en waarnemingstelsels om die uitbreek van siektes te bestuur, afstandwaarneming vir presisielandbou, die ontwikkeling van COVID-19-entstowwe, teks-na-spraak-tegnologie en klimaatsverandering-praktykgemeenskap.

“As 'n trilaterale vennootskap tussen AUDA-NEPAD, die WNNR en die US, is ons doelwit om drie tot vyf aanvanklike innovasies teen die einde van die jaar te identifiseer waarmee ons kan vorentoe beweeg, kan uitbrei en regoor die vasteland in werking kan stel," het Elema gesê. ​