Drie nagraadse studente in die Departement Mikrobiologie by die Universiteit Stellenbosch (US) het toekennings ontvang by die aanlynkonferensie van die Suid-Afikaanse Vereniging vir Mikrobiologie wat van 4 tot 6 Mei 2021 gehou is.
Dominique Rocher het die prys vir die beste mondelinge aanbieding gewen vir haar praatjie oor die genetiese modifikasie van die gis, Saccharomyces cerevisiae, vir die hidrolise van laminarien uit bruin makroalge. Haar navorsing wat sy vir haar HonneursBSc-projek gedoen het, het getoon dat seewier wat met ensieme behandel word, waardevolle komponente soos suikers vrystel, wat weer in die produksie van bio-etanol gebruik kan word. Die werk is vroeër vanjaar in die vaktydskrif Algal Research gepubliseer. Dominique, wat onder die studieleiding van Prof Marinda Viljoen-Bloom werk, neem tans aan the JICA-program in Omgewingswetenskappe by die Tsukuba Universiteit in Japan deel en sal haar navorsing oor die hidrolise van makroalge voortsit wanneer sy na die US terugkeer.
Caylin Bosch, 'n PhD-student in Prof Alf Botha se laboratorium, was een van die naaswenners in die mondelinge voordrag-kategorie. Haar praatjie het gehandel oor haar navorsing op die transkriptomiese reaksie van die opportunistiese patogene gis, Cryptococcus neoformans, by lae stikstofvlakke. Sy het bevind dat lae stikstoftoestande (soos dit in die natuur voorkom) die uitdrukking van gene betrokke by die virulensie en antifungusverdraagsaamheid van die gis moduleer. Haar bevindings lewer insig in die oorlewing van C. neoformans in stikstof-arm ekologiese nisse en stel voor dat vooraf-aanpassing by hierdie toestande 'n invloed op die patobiologie van hierdie gis kan hê. Haar werk is onlangs vir publikasie in FEMS Yeast Research aanvaar.
Kirstie Schwerdtfeger het die prys vir die beste plakkaat-aanbieding gewen vir haar Honneurs BSc-projek oor verskillende promotor-intron-kombinasies vir verbeterde amilase-uitdrukking in Saccharomyces cerevisiae. Sterk promotors kan die transkripsie van 'n rekombinante geen daadwerklik verbeter en hoër proteïenvlakke lewer, wat selfs verder verbeter is met die invoeging van promotor-intronvolgordes. Sy sit tans haar werk vir haar MSc-studies voort onder die studieleiding van Prof Viljoen-Bloom.
Die SAVM se aanlynkonferensie is deur 159 nagraadse studente en navorsers van tersiêre en navorsingsinstellings in Suid-Afrika en Namibië bygewoon. Die Departement Mikrobiologie het 'n sterk teenwoordigheid by die konferensie gehad, met 14 studente en navorsers wat die nege navorsingslaboratoriums in die department verteenwoordig het.
Op die foto bo, van links na regs: Dominique Rocher, Kirstie Schwerdtfeger en Caylin Bosch.