Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inge Lotz Stigting skenk R1 miljoen aan US se eenheid vir bio-etiek
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 19/05/2021

Die Inge Lotz Stigting, wat deur haar pa, prof Jan Lotz, geloods is nadat die 22-jarige US-student wat tragies vermoor is, het R1 miljoen geskenk aan die Eenheid vir Bio-etiek.

Die Eenheid is geleë in die Sentrum vir Toegepaste Etiek in die Departement Filosofie van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe onder die leierskap van prof Anton van Niekerk, wat spesialiseer in bio-etiek, die filosofie van godsdiens en filosofie van die menslike wetenskappe. Van Niekerk is ook die Direkteur van die Sentrum, wat bestaan uit vier eenhede – die Eenheid vir Bio-etiek, die Eenheid vir Omgewingsetiek, die Eenheid vir Besigheidsetiek en Publieke Integriteit, en die Eenheid vir Sosiale en Politieke Etiek.

Die skenking, sê Van Niekerk, “stel die Eenheid in staat om areas te verken wat ons andersins weens finansiële beperkinge nie sou kon doen nie."

Inge Trust (5).png

Prof Lotz is 'n bekende radioloog en emeritus-professor in die Afdeling vir Radio-diagnose aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die US. Hy het 'n MPhil in Bio-etiek aan die eenheid behaal, met dr Susan Hall as sy studieleier.

“Oor die jare het my interaksies met prof Lotz toegeneem en het ons verskeie gesprekke gehad oor sy belangstellings," sê Van Niekerk.

“Tydens ons meer onlangse gesprek vanjaar het prof Lotz aangedui dat sy stigting belang sou stel om meer betrokke te raak by die werk van die eenheid. Maar ek was heeltemal verras toe hy aanbied om 'n skenking van R1 miljoen te maak aan die eenheid. Hierdie skenking stel ons in staat om 'n aantal nuwe navorsingsprojekte aan te pak, een waarvan 'n studie is oor menslike verheffing waaraan ek werk saam met sommige van my kollegas en nagraadse studente, sowel as ander projekte. Een van hierdie projekte behels die ondersoek van die morele kwessies wat spruit uit die regering se voorgestelde Nasionale Gesondheid-versekeringskema, waaruit vraagstukke oor morele en etiese kwessies sal ontstaan." 

Bykomend hoop die eenheid om deel van die befondsing aan te wend vir nagraadse beurse.

Bio-etiek, verduidelik Van Niekerk, is een van die oudste sowel as een van die jongste akademiese dissipline wat in die Westerse beskawing ontstaan het. Dit is die dissipline wat die Griekse mediese filosoof Hippokrates gelei het om die Hippokratiese Eed te formuleer, 'n eed (in aangepaste vorm) wat tot vandag deur medici afgelê word om hul toewyding tot die etiese versorging van pasiënte te toon. Ten spyte van die eed, sê Van Niekerk, is etiek vir vele eeue nie baie ernstig opgeneem nie en slegs aan mediese studente geleer as 'n toevoeging tot die kurrikulum.

“Maar soos ons kennis toeneem het, het mediese personeel begin om geweldige mag te verkry oor siekte, gesondheid en selfs die dood. En die geskiedenis het ons geleer waarheen hierdie soort mag kan lei."

Die Tuskegee Sifilis Eksperiment, sê Van Niekerk, is so 'n voorbeeld. In hierdie geval is 'n mediese eksperiment uitgevoer in Tuskegee, Nieu-Mexiko, om te bepaal of penisillien 'n effektiewe behandeling is vir sifilis. Die projek, wat 600 swart mans betrek het en in 1932 begin is, het vir 40 jaar geduur, hoewel penisillien reeds in 1947 geïdentifiseer is as 'n effektiewe behandeling vir sifilis. Uit die individue wat deelgeneem het in die kontrolegroep en slegs plasebo's ontvang het – dit ten spyte daarvan dat penisillien reeds bewys is as effektief – het 128 gesterf weens komplikasies van sifilis en sifilis self.

“Dit was heeltemal duidelik dat penisillien gewerk het as behandeling. Daar was egter sommige dokters wat geargumenteer het dat hulle die “natuurlike progressie" van die siekte wou volg. Aangesien dit reeds duidelik was dat penisillien werk, was die motivering onoortuigend, maar is dit vir 'n lang tyd voortgesit. Die eksperiment is voortgesit met staatsgeld totdat Nixon die President van die Verenigde State geword het. Dit was duidelik 'n immorele eksperiment. Omdat staatsgeld vir die navorsing gebruik is, was Nixon as President verplig om in die openbare om verskoning te vra vir hierdie optrede," verduidelik Van Niekerk.

“Dit was toe dat mense begin besef het dat gesondheidswerkers nie noodwendig morele engele is nie, maar ook morele monsters kan word in die strewe na kennis wat op immorele wyse verkry word."

Vooruitgang in tegnologie en medisyne in die loop van die 20ste eeu, sê van Niekerk, het baie etiese vrae meegebring en het 'n groot rol gespeel in mediese behandeling en selfs in hoe ons die dood definieer.​

“Een van die hooffaktore wat verander het hoe ons dink oor die dood, was toe prof Chris Barnard 'n hart oorgeplant het. Ons moes onsself afvra: kan ons seker wees dat die pasiënt wie se hart vir 'n oorplanting verwyder is, werklik dood is? Gevolglik is die kriteria vir die bepaling van die dood verander. Elke nuwe ontwikkeling in tegnologie vereis dat ons nuwe vrae vra oor die etiek wat mediese besluitneming beïnvloed."

Al hierdie voor​beelde, sê Van Niekerk, motiveer hoekom skenkings soos dié van die Inge Lotz Stigting so noodsaaklik is.

“Ons is uiters geëerd om hierdie skenking te ontvang en opgewonde oor die moontlikhede wat dit vir ons open in bio-etiek. Ek wil prof Lotz, wie se betrokkenheid by die eenheid gelei het tot hierdie skenking, persoonlik bedank, asook die stigting se Raad van Trustees wat die skenking moontlik gemaak het."

Foto: 'n Skenking van R1 miljoen is deur die Inge Lotz Stigting gemaak aan die Eenheid vir Bio-etiek in die Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch. Inge Lotz (foto) was 'n student van die Universiteit Stellenbosch wat tragies vermoor is op die ouderdom van 22. (Verskaf)