Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kreatiewe gebruik van ruimtes in skole kan prestasie aanhelp
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 19/05/2021

Transformerende leierskap en die kreatiewe gebruik van ruimtes in skole kan help om leerders se prestasies te verbeter, hul emosionele welwees te bevorder, en hulle tot in matriek in die skool te hou.

Dít is een van die kernboodskappe van ʼn nuwe boek deur dr Johann Burger, ʼn distriksonderwysbestuurder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), en prof Aslam Fataar van die departement Opvoedingsbeleidstudie aan die Universiteit Stellenbosch. Burger het in 2017 sy doktorale studie onder leiding van Fataar voltooi.

Die boek, getiteld Skoolleierskap en die skep van produktiewe leerruimtes in skole, toon aan hoe twee skoolhoofde van diverse skole – een in ʼn stedelike werkersklasgebied en die ander  in 'n plattelandse middelklasgebied – deur middel van unieke leierskap en die gebruik van spesifieke ruimtes in skole, uitstekende leeromgewings skep wat hul leerders en onderwysers inspireer en motiveer om uit te blink in dit wat hulle doen.

Die skrywers noem dat die skoolhoofde fisiese, geestelike en sosiale ruimtes geskep het deur onder meer kunswerke, lig, kleur, klank, kaarte en diagramme deel van die leerruimtes te maak.

“Die een skool het 'n sekere sosiale ruimte wat uit verskeie sitplekke onder skadubome bestaan in emosionele sones omskep. Daar is tussen ses en tien sitplekke waar die leerders, weg van die speelgrond se gewoel of geraas, in 'n redelike stil ruimte kan sit en met mekaar kan gesels en sosialiseer.

Een van die skoolfhoofde het ʼn sosiale projek geïnisieer deur 'n 'restaurant' by die skool op te rig om leerders emosioneel en sosiaal vir die toekoms voor te berei."

Volgens die skrywers wys die boek ook hoe beperkte hulpbronne en ruimtes in skole benut kan word om leeromgewings te skep wat verhoudings tussen onderwysers en leerders bevorder op grond van respek, deernis en opvoedkundige waardigheid. Verder bied dit insae oor die moontlikheid van innoverende en inspirerende leierskap in die daarstelling van opvoedkundige ruimtes.

“Hierdie boek fokus op die probleem van swak prestasie in die meerderheid van Suid-Afrika se skole. Dit behandel die kwellende vraag oor hoe om die onderwys te verbeter by skole wat swak presteer.

“Ons stel voor dat skoolleierskap een sleuteldimensie in die verbetering van skole is en dat sodanige leierskap van kardinale belang is om leeromgewings te skep om skoolprestasies te verbeter."

Die skrywers is van mening dat nuutgeskepte en produktiewe leerruimtes 'n positiewe invloed op leerders sal hê en sê dit sal hulle besiel en opgewonde maak oor skoolgaan.

“Hulle prestasie sal verbeter en hulle sal vir langer tye in die skoolstelsel behoue bly. Leerders se emosionele en sosiale behoeftes sal meer aandag kry, en hul dissipline en gedrag sal verbeter. Hulle sal ook meer gemotiveerd wees om produktiewe bydraes tot hul eie lewens, hul gemeenskappe en ons land in die toekoms te lewer."

Die skrywers wys daarop dat produktiewe leerruimtes in skole nie iets is wat spontaan tot stand kom nie. Dit verg agentskap en leierskap.

“Ongeag op watter ruimte daar vir leer en onderrig besluit word, moet daar deurgaans fyn besin word oor hoe om die potensiaal wat in die verskillende leerruimtes opgesluit lê, in die beste belang van die leerders of studente te ontsluit, aangesien dit 'n direkte invloed op die leeruitkomste en akademiese prestasies kan hê."

Die skrywers meen hul boek kan as hulpbron of roetekaart dien vir enige student, opvoeder, onderwysdistrikspersoneellid of enigiemand anders wat by die onderrig en opvoeding van mense betrokke is en na verbeterde leeruitkomste streef.

Hulle en die twee skoolhoofde sal, in samewerking met die WKOD, 'n reeks skool- en onderwysdistrik-gebaseerde opleidingswerskwinkels hou waartydens daar op die konseptuele en praktiese dimensies van skoolleierskap wat met die skep van gesonde leeromgewings verband hou gefokus sal word.

  • Skoolleierskap en die skep van produktiewe leerruimtes in skole word deur African Sun Media uitgegee en kan aanlyn gekoop word by Google Books, ITSI, Amazon en Takealot.

Foto:  ʼn Voorbeeld van ʼn klaskamer wat in ʼn kreatiewe ruimte omskep is om leerders se emosionele- en sosiale behoeftes aan te spreek.


SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Prof Aslam Fataar

Departement Opvoedingsbeleidstudie

Fakulteit Opvoedkunde

Universiteit Stellenbosch

E-pos: afataar@sun.ac.za

OF

Dr Johann Burger

E-pos: johannburger01@gmail.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za

​