Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kundigheid en leierskap besorg prof Jordan top posisie by FUNDISA
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 06/05/2021

Prof Portia Jordan, uitvoerende hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Verpleeg- en Verloskunde, is die nuwe raadsvoorsitter van die Forum vir Verpleegkundedekane aan Suid-Afrikaanse Universiteite (FUNDISA).

Jordan het vroeër vir twee termyne as tesourier en uitvoerende raadslid gedien en is in Februarie in haar huidige hoedanigheid aangestel. Tans is 21 universiteite landwyd lid van dié forum.

Volgens Jordan beoog sy, in oorleg met die uitvoerende raad van FUNDISA en die hoofde van verpleegskole landwyd, die bevordering, ondersteuning, ontwikkeling en skepping van 'n transformatiewe landskap vir vakkundigheid, onderrig en kliniese praktyk in die verpleegkunde.

“Die afgelope twee jaar het die verpleegkundeprofessie nuwe voor- en nagraadse kwalifikasies bekendgestel wat daarop gemik is om gegradueerde sowel as spesialisverpleegkundiges in diverse velde te produseer. Dit is 'n absolute voorreg om deel van hierdie transformasie te wees en ander verpleegskole te ondersteun in die voorbereiding van kerngroepe verpleegkundiges wat gehaltesorg aan pasiënte sal verskaf," sê Jordan.

Haar werk as voorsitter behels onder meer skakeling en samewerking met rolspelers soos die Suid-Afrikaanse Verpleegkunderaad, verpleegkolleges en -verenigings, en die Suid-Afrikaanse Komitee van Gesondheidswetenskappe-dekane.

Jordan het verpleegkunde aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth studeer. Nadat sy hoofsaaklik in intensiewe sorg gewerk het, was sy dosent en later departementshoof by die Departement Verpleegkunde van die Nelson Mandela-universiteit. In Maart 2019 is sy in haar huidige pos by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die US aangestel.

Jordan het onder meer 'n doktorsgraad in verpleegkunde, ʼn meestersgraad in besigheidsadministrasie, ʼn meestersgraad in kritiekesorgverpleging (cum laude), ʼn diploma in verpleegonderrig (cum laude) en ʼn diploma in nierverpleegkunde verwerf.

Haar navorsing fokus op die implementering van beste praktyke en bewysgebaseerde riglyne in kritiekesorgeenhede ten einde pasiëntveiligheid te bevorder, veral in meganies geventileerde pasiënte.

Sy het reeds verskeie eweknie-geëvalueerde artikels op hierdie gebied gepubliseer. Daarbenewens was sy mederedakteur van die boek “Foundation of Nursing Practice: Fundamentals of Holistic Care", waartoe sy drie hoofstukke in twee uitgawes bygedra het.

Volgens Jordan streef FUNDISA na 'n verenigde platform wat uitnemendheid in verpleeg- en verloskunde asook innoverende leierskap by hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika en buite die landsgrense najaag.

Die forum tree as konsultant vir verskeie projekte in die gesondheidsorgprofessie op, insluitend opleiding, kapasiteitsbou, projekbestuur, die ontwikkeling van vakkundigheid in verpleegkunde deur 'n platform vir die publikasie en verspreiding van navorsing te bied, mentorskap, werksessies en die aanbied van wetenskaplike konferensies. In sy rol as konsultant is FUNDISA vir Covid-19-opleiding aan nagenoeg 1 500 verpleegkundiges landwyd verantwoordelik, sê Jordan, wat tans ook visevoorsitter van die Ministeriële Advieskomitee vir Covid-19 is.

Deur middel van die PLUME-projek dra FUNDISA ook grootliks tot navorsing in hoëronderwysinstellings by. In samewerking met die Nasionale Navorsingstigting (NNS) word akademici in verpleegskole die land oor gehelp om navorsingsprogramme te ontwikkel en te lei, navorsingsbeurse te bekom en vir NNS-graderings te werk.

Verskeie ander projekte wat verpleeg- en verloskunde bevorder, word deur FUNDISA op die vasteland van Afrika gekoördineer en geïmplementeer, sê Jordan.

Daarbenewens steun die forum die aktiwiteite, mentorskap en ontwikkeling van leierskap in die geledere van verpleegkundestudente aan universiteite deur middel van die studenteorganisasie SANSA, 'n FUNDISA-komitee met studente aan die hoof.

“Dit is 'n eer om die raadsvoorsitter van FUNDISA te wees. Dit bied aan my die geleentheid om 'n bewaker en pleitbesorger te wees deur die bevordering van verpleegkunde as professie in Suid-Afrika en buite die land se grense."


Foto-erkenning: Damien Schumann