Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe boek bied interessante blik op globale ekonomiese geskiedenis
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 03/05/2021

Hoe het Einstein gehelp om Eskom te skep? Waarom kan 'n Indonisiese vulkaan die Groot Trek verduidelik? Wat het wyle Koning Zwelithini en Charlemagne gemeen?

Dít is maar net van die interessante vrae wat prof Johan Fourie van die departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch in 'n nuwe boek wat onlangs verskyn het, ondersoek.

Die boek, getiteld Our Long Walk to Economic Freedom, is uit 'n Suid-Afrikaanse hoek geskryf en is 'n toeganklike ekonomiese geskiedeniswerk wat strek vanaf die mens se migrasie uit Afrika 100 000 jaar gelede tot by die COVID-19-pandemie.Longwalk.JPG

Fourie probeer om deur kort en maklik leesbare (en somtyds selfs vermaaklike) verhale oor geskiedkundige gebeurtenisse en neigings een van die vernaamste vrae in die ekonomie te beantwoord: Waarom is sommige lande ryk, terwyl ander stadiger inhaal.

Hy sê die boek bespreek ook nuwe vakkundige benaderings wat meer aandag aan Afrika se ekonomiese geskiedenis begin gee.

“Afrika se ekonomiese geskiedenis is altyd binne die wêreldwye ekonomiese geskiedenis gemarginaliseer. Daar is twee redes hiervoor: Eerstens beskou baie mense Afrika as 'n gebied wat altyd arm was en dus nie die moeite werd is om te bestudeer nie. Dit is eenvoudig net swak geskiedenis.

“Nog 'n rede is dat historici van Afrika in baie gevalle gedwing is om bronne en metodes te gebruik wat ekonome moeilik vind om mee te werk. Daarom het hulle daardie bronne grotendeels geïgnoreer. Dit het meer onlangs begin verander, wat tot 'n baie vrugbaarder vakgebied lei."

Fourie wys daarop dat verskeie hoofstukke in Our Long Walk to Economic Freedom oor Suid-Afrikaanse geskiedenis handel – asook oor die lesse wat ons moet leer oor wat aanleiding gegee het tot 'n beter lewe vir almal (of dit voorkom het).

“Natuurlik moet ons nie net uit ons eie geskiedenis leer nie, maar miskien sal hierdie lesse ons ook help om te verstaan waar ons as 'n land staan – en dit mag selfs vir ons rigting gee oor waarheen ons moet beweeg."

“Ek dink die mensdom het tot die volgende twee gevolgtrekkings gekom: Ons kan ons kennis van die natuur gebruik om meer en beter goed te produseer, en tweedens dat hierdie goed wat ons produseer, nie tot 'n uitgelese groep beperk is nie," voeg Fourie by.

Hy meen dat ons nou baie meer produktief is as wat ons slegs 'n eeu gelede was en baie meer mense as vantevore baat by hierdie produktiwiteit.

“Ja, nie almal doen dit eweveel nie, en ja, ons moet bekommerd wees oor hoe ons dade die natuurlike omgewing beïnvloed, maar die feit dat ons langer en gesonder lewe en hoër inkomstes verdien, stel ons ook in staat om in dít waaraan ons waarde heg, insluitende die omgewing, te belê."

Fourie beklemtoon dat ons nog 'n pad het om te stap alvorens ons ekonomiese vryheid sal bereik.

“So lank as wat daar nog mense is wat nie uit strukturele armoede kan ontsnap nie, wat nie die werk kan vind wat hulle wil hê nie, wat nie volgens hul vermoëns onderrig kan word nie, en wat nie die lewe kan lei wat hulle wil lei nie, het ons nog nie die eindstreep bereik nie. Ons vorder beslis, maar ons is nog nie daar nie."

Volgens Fourie sal Our Long Walk to Economic Freedom tot 'n wye gehoor spreek.

“Ek het gepoog om die akademiese publikasie van ekonomiese geskiedenis-vaktydskrifte vir so 'n wye gehoor as moontlik toeganklik te maak. Ek het ook die meer kwantitatiewe bewyse met staaltjies uit die geskiedenis vermeng. Ek dink lesers sal die nuwe invalshoeke op geskiedenisse wat hulle gedink het hulle ken, geniet."

  • Our Long Walk to Economic Freedom is by toonaangewende boekwinkels, Takealot, Loot en Amazon Kindle beskikbaar.