Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Minister Nzimande verwelkom bekendstelling van Skool vir Klimaatstudie by US
Outeur: Media Release
Gepubliseer: 29/04/2021

Die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, dr Blade Nzimande, het die bekendstelling van die Skool vir Klimaatstudie by die Universiteit Stellenbosch verwelkom. Die Universiteit het vroeër vandeesmaand aangekondig dat hy op die punt staan om die nuwe skool tot stand te bring. Die amptelike opening vind in Junie 2021 plaas.

 

Uittreksels uit die mediaverklaring wat uitgereik is deur die Ministerie van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie:

Die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, dr Blade Nzimande, verwelkom die bekendstelling van die Skool vir Klimaatstudie by die Universiteit Stellenbosch, wat in Junie 2021 amptelik geopen sal word.

Die vestiging van 'n akademiese skool wat op klimaatsverandering konsentreer, is 'n potensieel belowende stap om ons akademici en studente in staat te stel om 'n afgeronde stel wetenskaplike kennis en vaardighede op te bou sodat hulle 'n beter begrip kan vorm van die probleme, maar ook van volhoubare reaksies op die nuwe uitdagings waarvoor die mensdom te staan kom.

Mense wêreldwyd het tans te kampe met die viervoudige krisis van COVID-19; al hoe moeiliker ekonomiese omstandighede; gesinne, huishoudings en gemeenskappe wat sukkel om kop bo water te hou, sowel as klimaatsverandering, sê minister Nzimande.

“Ek hoop die Skool vir Klimaatstudie sal die toon aangee vir ons ander universiteite en tegniese ambagsonderwys-en-opleidingskolleges om ook soortgelyke inisiatiewe tot stand te bring wat kan aandag skenk aan die multisektor- en multidimensionele uitdagings en geleenthede verbonde aan klimaatsverandering, en die onderlinge verband met ander maatskaplike en natuurverskynsels," sê minister Nzimande.

Minister Nzimande glo alle Suid-Afrikaanse universiteite en TBOO-kolleges moet dringend hul gedifferensieerde en kollektiewe bydraes beplan. Dit sal ons nie net help om die dinamika van klimaatsverandering beter te verstaan nie, maar ook om die wêreld ten goede te verander om die mensdom beter en meer gelyk te maak.

Klik hier vir verdere inligting oor die Skool vir Klimaatstudie.