Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
AgriWetenskappe-student ontvang drie toekennings
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 09/04/2021

​Die permanente boodskap op landboustudent Cecile Bester se Whatsapp-status som die doelgerigtheid en ingesteldheid waarmee sy haar studies aanpak goed op: “The world is divided between the people who will start tomorrow and the people who have already started today."

Bester het pas drie van die akademiese toekennings wat jaarliks binne die Fakulteit AgriWetenskappe aan topstudente oorhandig word, ontvang. Dit gebeur nie sommer elke dag nie, sê fakulteitspersoneel wat weet.

Bester het in Desember 2020 haar BScAgric-graad met Genetika en Plantpatologie as hoofrigtings cum laude en 'n gemiddeld van 86,7% voltooi.

Sy het daarom die AI Perold-medalje as een van die fakulteit se twee topstudente ontvang. Daarby het sy ook die Hofmeyr-Van Schaik-medalje as die beste vierdejaarstudent in Genetika aan die US ingepalm, asook 'n toekenning as beste student in Planteteelt. Dié toekennings word onderskeidelik deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Genetika en die Suider-Afrikaanse Plantetelersassosiasie geborg.

Die Planteteelt-toekenning word nie sommer net elke jaar gemaak nie, vertel Willem Botes, voorsitter van die Departement Genetika, en word slegs toegeken vir werklik uitsonderlike prestasie.

Die oorhandigingseremonie het saamgeval met die Maart 2021-gradeplegtigheidsgeleentheid.

Oor die ervaring om verlede jaar haar voorgraadse studies onder Covid-regulasies te moes voltooi, sê sy: “Dit was 'n aanpassing om tydens COVID te studeer, alhoewel mens se studies nooit sonder verskeie aanpassings is nie. Ek was wel in die bevoorregte posisie om terug te kon kom Stellenbosch toe vir van my modules. Die moeilikste vir my was die wete dat ek wel baie praktiese kennis verloor het, omdat van die modules heeltemal aanlyn aangebied is."

Op skool aan Hoërskool Ficksburg in die Vrystaat het sy medies oorweeg, maar na 'n besoek aan die Kleingraaninstituut op naburige Bethlehem het sy besluit om eerder BScAgric te studeer. Dis 'n besluit waaroor sy nog nooit spyt was nie, alhoewel sy erken dat sy destyds nie regtig seker was wat dit alles behels nie.

Sy was egter nog nie een oomblik spyt nie, en het reeds in haar eerste jaar besef dat sy haar nis gevind het. Bester is 'n wetenskaplike in murg en been, en geniet die geleentheid om op 'n praktiese wyse te kan bydrae tot die uitbou van die landbousektor.

“Kleintyd het ek altyd universiteit-universiteit gespeel, soos ander kinders dalk skool-skool sou speel," vertel sy. “Ek't met 'n boekie in die tuin rondgeloop en soos 'n ware klein wetenskaplike my waarnemings oor voëls en insekte daarin aangeteken. Ek het allerlei konkoksies gemaak en dit aan bome gesmeer, om te kyk of dit bye lok."

“Dit is wonderlik om op 'n wetenskaplike vlak by landbou betrokke te kan wees," sê Bester, wat in 2016 as onderhoofdogter van Hoërskool Ficksburg gematrikuleer het.

Gedurende haar voorgraadse jare was sy onder meer hoofmentor van Serruria Koshuis, en klasverteenwoordiger vir Genetika en Plantpatologie. Sy is 'n ywerige stapper en tennisspeler.

Bester het vanjaar by die Planteteeltnavorsingsgroep van Willem Botes aangesluit om 'n MScAgric in Genetika aan te pak. Daardeur kan sy haar voorliefde vir beide Genetika en Planteteelt uitleef.

Sy gaan saad uit die Fakulteit se wildekoring-versameling plant en bestudeer, om te kyk of daar nog enige waardevolle gene in hierdie spesies opgesluit is wat moontlik gebruik sou kon word om weldra meer siekteweerstandige koringkultivars te teel.

“Ek is passievol oor navorsing en ontwikkeling en sal graag altyd daarby betrokke wil wees," vertel Bester.

Die Besters geniet sterk bande met die US. Pa Nico, wat deesdae onder meer 'n mentor vir opkomende boere in die Vrystaat is, het 'n graad in Landbou-Ekonomie in die 1990's aan die US behaal. Ma Aninne het weer as wiskunde-onderwyseres aan die US gekwalifiseer. Cecile se suster, Marelie, het pas as eerstejaarstudent in fisika aan die US geregistreer, terwyl haar broer, Hendrik, ook in die landbourigting studeer. Hy is tans 'n derdejaar BScAgric-student in Agronomie en Grondkunde. In 2018 het hy Suid-Afrika by die Afrikakampioenskappe in Egipte in bergfietsry verteenwoordig.