Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektor toets positief vir COVID-19, vra US-gemeenskap om veilig te bly
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 08/04/2021

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het weer 'n beroep op die publiek en Universiteit Stellenbosch-gemeenskap gedoen om nie hul waaksaamheid teen COVID-19 te verslap nie. Dit volg nadat hy gister (7 April 2021) positief getoets het vir COVID-19. 

Prof De Villiers is tans in self-afsondering vir tien dae.  “Ek ervaar geringe tot matige simptome, maar ek waag geen kanse nie en sal my gesondheid fyn dophou," sê hy. 

“Ek weet nie waar ek die siekte opgedoen het nie, maar ek het opnuut besef dat die pandemie 'n ernstige saak is. Daarom moedig ek steeds ons studente en personeel, maar ook die breër publiek, aan om 'n masker behoorlik te dra, 'n veilige afstand van ander te handhaaf en gereeld jou hande te was of met 'n handreiniger te ontsmet. 

“Indien jy in nabye kontak was met iemand wat positief getoets het vir COVID-19, sonder jouself asseblief af. Indien jy enige van die kenmerkende simptome van die siekte toon, kontak jou dokter onmiddellik om reëlings te tref om getoets te word.  Volg asseblief al die nodige protokols om die verspreiding van die virus te beperk. Dit is ongelukkig 'n realiteit van die tye waarin ons leef. Hou ook jou familie en diegene met wie jy in kontak was se gesondheid dop." 

Studente of personeellede wat vermoed dat hulle COVID-19 opgedoen het, kan hierdie skakel volg vir meer inligting oor wat hulle te doen staan. Vir meer inligting besoek ook die US se COVID-19-webblad. 

Prof De Villiers gaan waar moontlik tuis aanlyn voort met sy werk, maar het gevra dat sy afsprake gekanselleer word sodat hy genoeg rus kan kry. ​