Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SharkSafe BarrierTM deurstaan twee jaar lange toets by Réunion-eiland
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 07/04/2021

Die SharkSafe BarrierTM, 'n ekovriendelike alternatief vir die tradisionele haaibeheerprogramme, het twee jaar se toetsing in Réunion se baai van St Paul deurstaan. Dít is deel van die volgehoue pogings van die Centre Sécurité Requin (CSR) - die eiland se haairisikobestuursentrum - om 'n werkbare en ekovriendelike oplossing vir die eiland se haaikrisis te vind.

Die SharkSafe BarrierTM-tegnologie wat oorspronklik in Suid-Afrika ontwikkel is, boots 'n welige seewierwoud na in kombinasie met haai-afwerende magnete om haaie verder af te skrik. Hierdie innoverende tegnologie het sedert 2012 strawwe toetsing in Suid-Afrika en die Bahamas ondergaan en die toetsresultate hiervan is in verskeie eweknie beoordeelde vaktydskrifte gepubliseer.

By Réunion is 'n toetsversperring bestaande uit 200 pype in Februarie 2019 opgerig om 'n vierkant van 10m x 10m te vorm ten einde voorheen gepubliseerde eksperimente te dupliseer, maar nou in 'n ander omgewing. Die doel hiermee was om die doeltreffendheid van die SharkSafe BarrierTM te toets - of dit bull sharks (in Suid-Afrika bekend as Zambezi-haaie) kon keer om by 'n voedselbron uit te kom.

Volgens die CSR se bedryfsdirekteur Michael Hoarau, kon die versperring se doeltreffendheid om bull sharks en tierhaaie uit die afgesperde gebied te hou nie vasgestel word nie, aangesien die onderwater kameras en die sonar nie die teenwoordigheid van enige bull sharks en tierhaaie waargeneem het wat die versperring gedurende die toetstydperk genader het nie. Die ontwikkelaars is egter bemoedig deur die feit dat die struktuur, bestaande uit vertikale pype wat in die seebodem geanker is, twee seisoene se winterdeinings deurstaan het met die minimum instandhouding.

“Dit beteken dat die instandhouding van hierdie tegnologie gedurende die afgelope twee jaar drie keer goedkoper was as wat dit sou wees indien haai-uitsluitingsnette gebruik is," verduidelik Dr Sara Andreotti, hoof- uitvoerende beampte van SharkSafe Barrier Pty.

Voortgesette navorsing en produkontwikkeling

In parallel met die St Paul-eksperiment, is eenhede wat van ontwerp verskil, in Etang-Salé getoets, om deel te vorm van 'n voortgesette navorsings- en ontwikkelingspoging in die hoë-energiestrook (loodreg tot die kuslyn). Hierdie navorsing was daarop gemik om die huidige ontwerp aan te pas ten einde meer veelsydige installasies wêreldwyd moontlik te maak. Hierdie ontwerpe is by verskillende waterdieptes en oor verskillende substrate heen geïnstalleer, op soek na koste-effektiewe robuuste oplossings. Die Etang-Salé-eksperiment wat tussen Januarie 2019 en Junie 2020 uitgevoer is, is in sy geheel deur die SharkSafe Barrier Pty aanvangsonderneming gefinansier. Drie rondtes van toenemend duurder en robuuster ontwerpe is gedurende hierdie toetstydperk geïnstalleer, maar geen een was sterk genoeg om die uiterste toestande by Etang-Salé te kon deurstaan nie. Die koste verbonde aan hierdie eksperiment in Etang-Salé het aanleiding gegee tot die besluit om die navorsing en ontwikkeling in Réunion op te skort, en eerder produkontwikkelingstoetse in Suid-Afrika voort te sit. Die toetsing van die verskillende ontwerpe is in Glencairn (Suid-Afrika) voortgesit en die resultate lyk belowend.

Oplossing om wêreldwyd tradisionele haaibeheerprogramme te vervang

Volgens Dr Sara Andreotti, een van die mede-uitvinders van die SharkSafe BarrierTM-tegnologie, is daar wêreldwyd 'n dringende behoefte om 'n alternatief te vind  vir tradisionele haaibeheerprogramme: “Die SharkSafe BarrierTM is tans die enigste beskikbare ekovriendelike en haaispesifieke metode om konflik tussen haaie en mense te verminder."

“Op Réunion, byvoorbeeld, sal 'n ingreepsvrye haaiversperring 'n positiewe uitwerking op die plaaslike ekologie hê deurdat dit toppredatore en die belangrike rol wat hulle in die mariene ekosisteem speel, beskerm. Terselfdertyd sal dit ook 'n positiewe uitwerking op die plaaslike ekonomie hê - strandgangers word beskerm wat dus potensieel toerisme-inkomste bevorder. Laastens kan dit bydra tot die gemeenskap se vermoë om te herstel van die historiese trauma van verskeie haai-ongelukke sedert 2011.

“Onverantwoordelike en onvolhoubare visserybedrywighede is ongetwyfeld steeds wêreldwyd die grootste bedreiging vir haaie. Die sosio-ekonomiese en ekologiese impak van 'n oplossing soos die SharkSafe BarrierTM, is 'n tree in die regte rigting. Vir lande soos Frankryk wat deur 'blou ekonomie' geïnspireer word, kan dit dalk die sleutel tot die vreedsame saambestaan van mens en haai op die lang duur wees, terwyl oseaanvolhoubaarheid en kus-ekotoerisme terselfdertyd bevorder word," sluit sy af.

Vir die redakteurs

  • Die SharkSafe BarrierTM wat in Suid-Afrika ontwikkel is, is die enigste haaibeheermaatreël ter wêreld wat bionabootsing en magnetisme kombineer ten einde konflik tussen mens en haai te verminder deurdat dit haaie en branderplankryers fisies van mekaar skei. Die SharkSafe BarrierTM wat deur SharkSafe Barrier Pty Ltd, 'n spinout-aanvangsonderneming van die Universiteit Stellenbosch versprei word, is ontwerp om as visuele haai-afskrikmiddel te dien deurdat dit 'n welige seewierwoud naboots. Bogenoemde bestaan uit vertikale herwinde plastiek pype, gekoppel aan 'n sterk magneetveld, wat ook 'n bewese invloed op die swemgedrag van groot haaie het.
  • Réunion se Shark Security Centre (CSR) en die SharkSafe Barrier Pty Ltd het onderskeidelik 66% en 34% bygedra tot die oprigting en installering van die toetsversperring by St Paul. Die pype is in Suid-Afrika aan mekaar gesit en teen die einde van 2018 na Réunion verskeep. Die oprigting van die 40 meter lange versperring by St Paul het nege dae geneem om te voltooi en is gedoen in samewerking met plaaslike subkontrakteurs TSMOI, asook met behulp van 'n hyskraanboot en vier duikers.   
  • Om hulle in staat te stel om data oor die bull shark se gedrag in te win, het die CSR-operateurs onderwater kameras en sonar aangewend, en 'n houer met vis in die middel van die uitsluitingsvierkant geposisioneer. Hierdie aktiwiteit is drie-en-sestig keer oor 'n tydperk van twee jaar uitgevoer. Ongelukkig is geen bull sharks en tierhaaie gedurende die data-insamelingsperiode gewaar nie, ondanks die feit dat nabygeleë akoestiese waarnemings die sporadiese teenwoordigheid van bull sharks in die baai aangedui het. Dit het daartoe gelei dat die eksperiment nie as afdoende beskou word nie.
  • Die CSR se navorsingspermitvoorwaardes vereis dat die installasie in St Paul nou uit die baai verwyder moet word.
  • Die SharkSafe BarrierTM het ook in 2020 erkenning gekry as 'n Solar Impulse Efficient Solution, het die Oceanhub Africa business accelerator program voltooi, en was die ontvanger van die gesogte NWTF-Lewis Stigting Groen Ekonomie Toekenning by die Nasional Wetenskaps- en Tegnologieforum en was een van die finaliste in die kategorie vir Slim Ekoverantwoordelike Toerisme in die Franse Tech4Island Award. Meer onlangs is die maatskappy deur UpLink, die digitale platform van die Wêreld Ekonomiese Forum, aangewys as een van die top oseaan-uitvindings.

Kontakbesonderhede

Dr Sara Andreotti

E-pos: andreottisara@gmail.com

Sel: 072 3219198

Webwerf en Sosiale mediaskakels: