Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer wêreldbekende wiskundige
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 01/04/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) het op Donderdag (1 April 2021) ʼn eredoktorsgraad aan die wêreldbekende wiskundige Prof Batmanathan Dayanand Reddy toegeken by die US se Maart-gradeplegtigheid. Reddy het die graad Doktor in die Natuurwetenskappe, honoris causa, ontvang tydens 'n klein fisiese gradeplegtigheidseremonie vir doktorale gegradueerdes van die Fakulteit Natuurwetenskappe wat in die Endlersaal in die Konservatorium op die Stellenbosch-kampus gehou is.

Reddy is vereer vir sy navorsingsleierskap en wetenskaplike deurbrake; vir sy buitengewone bydraes om wetenskap nasionaal en internasionaal uit te bou en te bevorder; en vir sy bereidwilligheid om sy kennis en kundigheid te deel om studente op die gebied van rekenaardenke en toegepaste meganika te ontwikkel.

 
  • Selfoongebruikers klik hier vir video.

In sy aanvaardingstoespraak het Reddy gesê die US het hom 'n groot eer bewys deur aan hom die graad toe te ken.

“Dit is dubbele eer om die toekenning te ontvang van 'n instelling met ʼn onbetwiste statuur op vakkundige gebied en elders."

Reddy het die belangrikheid van die wetenskap beklemtoon en gesê dit moet 'n integrale deel wees van ons pogings om die sosiale- en omgewingsuitdagings van ons tyd aan te pak.

“Die wetenskap is absoluut noodsaaklik om die eksistensiële uitdagings van die COVID-pandemie aan te spreek. Ons het gesien watter rol gesondheidswetenskaplikes, maar ook wiskundiges, statistici, demograwe, chemici, sosiale wetenskaplikes en sielkundiges speel soos hulle oor verskillende vakgebiede heen saamwerk.

Die wetenskaplike gemeenskap het deur sy samewerkende benadering 'n voorbeeld gestel vir regerings en ander sektore, 'n voorbeeld wat deurslaggewend sal wees in die mate waartoe ons pogings om 'n volhoubare en veerkragtige toekoms te bou suksesvol sal wees."

Reddy het gesê wetenskaplikes moet eties optree en met integriteit werk sodat mense vertroue in die wetenskap kan hê, veral in die lig van valse inligting en pseudowetenskap wat 'n wesenlike bedreiging vir wetenskaplike waardes inhou.

Hy het die doktorandi aangemoedig om waaksaam te wees en hulle sterk en openlik vir wetenskaplike waardes en -metodes te beywer.

MEER OOR PROF BATMANATHAN DAYANAND REDDY

Reddy spog met 'n merkwaardige loopbaan in volhoubare aktiwiteite om die wetenskaplike projek te versterk.

As 'n A-gegradeerde wetenskaplike van die Nasionale Navorsingsinstituut, het sy wetenskapsreis in 1973 begin toe hy sy BSc in Siviele Ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad (UK) voltooi het, gevolg deur 'n PhD aan die Universiteit van Cambridge in die Verenigde Koninkryk.

Reddy het 'n reusebydrae tot die ontleding van probleme in die meganika van vaste stowwe, veral in plastisiteit, gelewer. Hy geniet ook groot aansien wêreldwyd vir die ontwikkeling en ontleding van gemengde en verwante eindige-elementmetodes. Buiten dit, het hy ook baie bygedra tot aspekte van biomediese meganika.

Hy is 'n stigterslid van die Afrika-instituut vir Wiskundige Wetenskappe, was voorsitter van 'n beheergroep van akademici wat die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Hoëverrigting Rekenaarswetenskap gestig het en is 'n stigtingsgenoot van die Akademie vir Ingenieurswese en Tegnologie in die Ontwikkelende Wêreld.

Reddy was vir sewe jaar die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die UK, waar hy ook die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Rekenaarsmeganika in die departement Wiskunde en Toegepaste Wiskunde beklee het. Hy het aan die einde van 2020 by die UK afgetree.

  • Foto: Prof Batmanathan Dayanand Reddy by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els