Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-graduata wil haar passie vir wetenskap met ander deel
Outeur: Corporate Communication and Marketing - Rozanne Engel/ Photographer Stefan Els
Gepubliseer: 01/04/2021

Felecia Wells was as vyfjarige versot daarop om deur haar pa se reusagtige biologieboek te blaai om na 'n ander wêreld weggevoer te word. Hoewel sy nog nie vlot kon lees nie, het hierdie deurblaai van haar pa se boek haar belangstelling geprikkel wat haar laat besluit het om die wetenskappe haar loopbaan te maak. 

Wells het Donderdag (1 April 2021) haar meestersgraad in Biochemie by 'n aanlyn gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Natuurwetenskappe ontvang.

Weens die COVID-19-pandemie het die US 'n hibridiese gradeplegtigheidweek aangebied. Dit het nege klein fisieke (in persoon) plegtighede vir doktorale graduandi, eredoktorsgrade en die ontvangers van Kanselierstoekennings in die Endlersaal en virtuele fakulteitspesifieke gradeplegtighede behels.

Wells is 'n voormalige student van die Wetenskap- en Wiskunde by die Universiteit Stellenbosch-program (of te wel SciMathUS). Sy sê die SciMathUS-program het nie net aan haar 'n tweede kans gebied om 'n loopbaan in die wetenskappe te volg nie, maar het haar ook laat besef dat sy 'n aanleg vir wetenskap het.

“Hoewel daar van my verwag is om die volgende mediese dokter in die gesin te word, het die vyfjaaroue Felicia reeds geweet sy gaan 'n wetenskaplike word. Ek het met die verloop van tyd besef daar is nie 'n regte of verkeerde pad nie, net jou eie pad. Ek moes gedurende my meestersgraadstudies, wat vyf jaar geneem het om te voltooi, hard werk om my studies te voltooi omdat ek verantwoordbaar was vir wat ek in my lewe wou hê. Ek het in hierdie tyd ook meer geleer oor waartoe ek in staat is en wat dit regtig verg om 'n wetenskaplike te wees – jy moet hare op jou tande hê."

Was dit nie vir prof Dirk Bellstedt van haar fakulteit wat haar gedruk het om haar studies voor te sit nie, sou sy dalk nooit haar meestersgraad aangedurf het nie, sê die Noord-Kaapse boorling.

“Ek was op my gewone rondtes tussen ons laboratorium en hulle s'n toe ek prof Bellstedt hoor sê het dat jy net regtig weet hoe om wetenskap te beoefen as jy ten minste jou meestersgraad het. Gedurende jou MSc leer jy hoe om soos 'n wetenskaplike te dink en te skryf, en jy moet jou eie proefnemings beplan. Hy was nie verkeerd nie. Nog iemand wat my koelkop gehou het gedurende my nagraadse studies, wat my ma, Niekie Wells. Sonder haar aanmoediging sou ek net voor die wenstreep moed opgegee het."

Wells se navorsing vir haar meesters het gefokus op die identifisering van die bakteriese populasies wat in die ingewande van volstruiskuikens voorkom wat deur hul ouers grootgemaak is, en hoe hierdie populasies tussen die verskillende dele van die ingewande verander. Die rede vir hierdie studies was omdat volstruiskuikens wat sonder hul ouers grootgemaak is, 'n hoë sterftesyfer getoon het gedurende die eerste drie maande nadat hulle uitgebroei het. Dit is aan infeksies in die ingewande gekoppel. Haar studie wou dus 'n basis vasstel oor hoe 'n gesonde volstruiskuiken se ingewande lyk.

Wells hoop om in die toekoms ook tot baanbrekersnavorsing op die gebiede van natuurlike en mediese wetenskappe by te dra. Sy wil eendag skole landwyd besoek om leerders aan te moedig en in te lig oor die omvang van die wetenskappe.

Meer oor SciMathUS

Die SciMathUS-program vorm deel van 'n verskeidenheid eenhede binne die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde, spesifiek die US Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP). Dié program bied jaarliks aan honderd leerders, wat reeds Graad 12 geslaag, maar nie vir hoër onderwys gekwalifiseer het nie, 'n tweede geleentheid om hulle NSS-uitslae in spesifieke vakke te verbeter wat hulle in staat sal stel om vir universiteitsprogramme heraansoek te doen, veral daardie programme wat op STEM-vakgebiede fokus.

Sedert die totstandkoming van die SciMathUS-program in 2001, het meer as 1 000 studente dit reeds suksesvol voltooi. Die program fokus hoofsaaklik daarop om matrieks te help om hul Nasionale Senior Sertifikaat-punte in Wiskunde en Natuurwetenskap te verbeter. Die program bied ook Rekeningkunde en Inleidende Ekonomie aan.

SciMathUS vier vanjaar ook 20 jaar van lewens wat verander is. Die 20-jaar vieringe sal onder meer die vorm aanneem van 'n aanlyn veldtog, genaamd #ChangingLives. Die doel van die veldtog is om te verseker dat die program oor die volgende 20 jaar, met die ondersteuning van alle belanghebbendes, steeds meer geleenthede skep vir studente om hulle volle akademiese potensiaal te bereik.

Volg gerus SciMathUS se sosialemedia-bladsye oor die volgende paar maande, waar die kollig sal val op die program asook alumni wat sedertdien gegradueer en wonderlike vordering in hul onderskeie velde gemaak het.

SciMathUS kan op die volgende platforms gevolg word:

  • Facebook – Stellenbosch Alumni / SciMathUS
  • Instagram – @MatiesAlumni / @scimathus
  • Twitter – @SU_Alumni / @SUNCEP
  • Sluit aan by Maties Connect https://matiesconnect.com/groups/53/feed

    Matrikulante wat belangstel in SciMathUS, kan Adele Poole by 021 808 3032 skakel, of stuur 'n e-pos aan apoole@sun.ac.za vir verdere inligting oor die program.