Dr Marieke van der Zalm was onlangs die ontvanger van drie internasionale toekennings met 'n gesamentlike waarde van meer as R44 miljoen om navorsing te doen oor verskeie aspekte van tuberkulose (TB) en gesondheid van die longe in kinders.
Twee van die toekennings is van die National Institutes of Health (NIH) in die Verenigde State en die ander een is van die European & Developing Countries Clinical Trials Partnership (EDCTP). Elkeen van die toekennings strek oor 'n periode van vyf jaar.
Van der Zalm, wat werksaam is by die Desmond Tutu TB-Sentrum, wat gesetel is in die Departement Pediatrie en Kindergesondheid, is die hoofnavorser van ʼn groot prospektiewe waarnemende studie-kohort wat daarop gemik is om die diagnose van TB in kinders te verbeter, en ook navorsing te doen oor die langtermyn-gevolge van TB en ander respiratoriese patogene in jong kinders. Die drie toekennings is almal verbonde aan hierdie kohort wat in 2017 op die been gebring is deur drs Van der Zalm en Liz Walters.
Die NIH-R01-toekenning, ter waarde van $1 455 808 (meer as R22 miljoen) is toegeken vir die navorsingstudie getiteld Multiplexed Antigen-Specific Antibody Fc Profiling on a Chip for Point-of-Care Diagnosis of TB in HIV-infected Children, wat gedoen word in samewerking met professor Galit Alter en kollegas by die Universiteit van Harvard. Van der Zalm sal die plaaslike hoofnavorser wees, en sal 'n addisionele groep van 300 Suid-Afrikaanse kinders wat vermoedelik TB het, by die studie betrek. Die doel van die studie is om 'n bloedgebaseerde versorgingspunttoets te ontwikkel om TB te diagnoseer, veral in jonger kinders wat blootstelling aan MIV gehad het, of positief getoets het daarvoor, deur die Mycobacterium tuberculosis teenliggaamresponse te toets.
Verder het Van der Zalm ook die NIH K43 'Emerging Global Leader'-toekenning ontvang, wat op $565 867 (R8.5 miljoen) gewaardeer word, vir navorsing met die titel The long-term consequences of pulmonary tuberculosis and respiratory viruses on lung health in young South African children.
“Daar is meer en meer bewyse dat volwassenes, ten spyte daarvan dat hulle genees is op 'n mikrobiologiese vlak van TB, langtermyn-gevolge ervaar, en dit sluit pulmonêre beskadiging in. Daar is egter geen data met betrekking tot kinders nie. Dit is baie belangrik om hierdie toestand in kinders na te vors, aangesien hulle longe steeds ontwikkel, en daarom kan TB-insidente vroeg in hulle lewens langtermyn-gevolge op die gesondheid van hulle longe hê," het Van der Zalm gesê.
Laastens, het hulle ook die EDCTP Senior Fellowship Plus ontvang, wat sal strek van 2021 tot 2026 en wat 'n waarde van €750 000 (oor die R13 miljoen) het, om kapasiteit te bou vir navorsing oor die gesondheid van kinders se longe in Suid-Afrika en Mosambiek. Hierdie toekenning bou voort op dieselfde kohort wat deels daargestel is deur haar vorige EDCTP loopbaan-genootskap (2017-2020).
Van der Zalm, wat as 'n pediater in Nederland opleiding ondergaan het, waar sy ook 'n PhD voltooi het oor respiratoriese virusse, het in 2013 na Suid-Afrika gekom, en in 2014 begin werk by die Desmond Tutu TB-Sentrum. Sy het toe betrokke geraak by 'n verskeidenheid van verskillende TB-studies en het ook haar eie belangstellingsgebiede ontwikkel, wat die ondersoek na die langtermyn-gevolge van TB en ander respiratoriese siektes in kinders ingesluit het.
Saam met kollegas by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, was sy ook betrokke by die Covid-Kids-studie, wat daarop gemik was om die kliniese voordoening, immuunrespons, en langtermyn-gevolge van virusinfeksies (insluitende SARS-CoV-2) in kinders wat gedurende die pandemie by die Tygerberg-hospitaal aangemeld het, te definieer.
Daar is 'n gebrek aan betroubare maniere om TB te diagnoseer in jong kinders, veral diegene wat MIV-positief is.
"In ons navorsing sal ons kyk na bloedgebaseerde merkers wat ons sou kon help om te onderskei tussen kinders wat TB het, en kinders wat dit nie het nie, om ons sodoende te help om onnodige sterftes te vermy onder kinders wat nie betyds met TB gediagnoseer is nie. Ons glo dat die suksesvolle uitkomste van hierdie navorsing dinge heeltemal sou kon verander," het Van der Zalm gesê.
Sy het bygevoeg dat die navorsing ook die ontwikkeling van 'n versorgingspunttoets insluit – die toets behels die invoer van 'n druppel bloed in 'n masjien langs die pasiënt se bed, met die doel om vinnig te bepaal of die persoon TB het, al dan nie.
“Dit was 'n besonder moeilike jaar vir almal as gevolg van die Covid-19-pandemie. Hierdie toekennings is 'n erkenning van die belangrikheid van die werk wat ons doen, en sal aan ons die geleentheid verskaf om belangrike pediatriese data te versamel om die diagnose en die langtermyn-impak van TB in die komende vyf jaar te verbeter," het Van der Zalm gesê. Sy het ook blydskap uitgespreek oor die drie toekennings, wat hierdie navorsing moontlik sal maak.