Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US toon steeds opwaartse kurwe; onder beste universiteite in ontluikende ekonomieë
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 10/03/2021

Die Covid-19-pandemie mag wel groot ontwrigting in hoër onderwys veroorsaak het, maar dit kon nie die Universiteit Stellenbosch (US) se reputasie as een van die beste tersiêre instellings ter wêreld nadeling beïnvloed nie. Dit is bevestig deur die 2021 Times Higher Education (THE) Emerging Economies Universities Rankings wat Dinsdag (9 Maart) bekend gemaak is.

Die US bekleë die 23ste plek (van no. 42 in 2017) onder die 606 hoër-onderwysinstellings uit lande of streke wêreldwyd wat as 'gevorderd ontluikend', 'sekondêr ontluikend' of 'grensend aan' geklassifiseer word. Ses van Suid-Afrika se instellings is onder die top 100.

ʼn Rekordgetal instansies verskyn op die 2021-ranglys wat deur Phil Baty, hoofkennisbeampte van die THE, as “die mees mededingende ranglys van opkomende universiteite tot dusver" beskryf word. Die 606 universiteite verteenwoordig 'n 14% toename vanaf 2020 (533).

Volgens die THE word navorsingsintensiewe universiteite gemeet aan hul kernmissies van onderrig (die leeromgewing), navorsing (volume, inkomste en reputasie), kennisoordrag (bedryfsinkomste) en internasionale uitkyk (personeel, studente en navorsing) om die mees omvattende en gebalanseerde vergelykings te verskaf. Wat navorsing betref, bekleë die US die 3de posisie onder Suid-Afrikaanse universiteite.

Luidens ʼn verklaring wat deur die THE uitgereik is, toon die 2021-ranglys dat universiteite in ontluikende ekonomieë vinniger verbeter as in ontwikkelde lande of streke in die res van die wêreld.

Prof Hester Klopper, Viserektor vir Strategie en Internasionalisering aan die US, het in reaksie op die US se mees onlangse prestasie gesê die Universiteit is algaande besig op sy posisie op verskillende wêreldranglyste te verbeter. “Dit beklemtoon een van ons kernstrategiese temas, naamlik 'Navorsing vir impak'. Die feit dat Stellenbosch in staat is om gedurende die Covid-19-pandemie sy posisie op ranglyste te verbeter, is op sigself nogal 'n prestasie."

Sy voeg by dat dit 'n bewys is van die US se navorsingsimpak regoor die wêreld en die erkenning wat sy navorsers se kaliber en statuur geniet.

“Hoewel ons kennis neem van die belangrikheid van ranglyste in die algehele persepsie van 'n instelling se (wêreldwye) akademiese- en navorsingsposisie, fokus ons op akademiese- en navorsingsuitnemendheid wat 'n beter wêreld vir almal sal skep," beklemtoon sy. “Dit is egter baie verblydend as ons internasionale erkenning kry in ons strewe om deur middel van wêreldgehalte navorsing en wetenskaplike programme oplossings vir maatskaplike probleme te bied."

In 2020 het die US sy posisie onder die top 1% van universiteite wêreldwyd verstewig toe dit op drie belangrike wêreldranglyste vir universiteite verskyn het, te wete die Academic Ranking of World Universities (ook bekend as die Shanghai Rankings), die THE World University Rankings, en die US News & World Report Best Global Universities Ranking.