Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aflandige windenergie kan SA se elektrisiteitskorte help verlig
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 10/03/2021

Ons maak steeds baie swaar staat op steenkool om elektrisiteit op te wek. Met ons verouderde aantal steenkoolaangedrewe kragstasies moet ons dalk ons oorvloedige windenergiebronne begin benut om te help om toekomstige tekorte in elektrisiteitsvoorsiening aan te spreek.

“Indien ons windturbines op verskillende dieptes langs die kus van KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap sou installeer, sal hulle moontlik in 15% en 800% van Suid-Afrika se jaarlikse elektrisiteitbehoefte voorsien," sê Gordon Rae en dr Gareth Erfort van die departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.

Hulle het geografiese inligtingstelselmetodes gebruik om die eerste omvattende assessering van Suid-Afrika se aflandige windenergiebronne te doen en om die geskikste streke vir die ontwikkeling van windplase te identifiseer. Hul assessering het beskermde marinegebiede ingesluit wat van die Wêrelddatabasis vir Beskermde Gebiede bekom is. Dit is waarskynlik die mees omvattende databasis oor beskermde land- en marinegebiede. Die navorsers sê hulle het beskermde marinegebiede by die studie ingesluit om wat hulle “geen-toegang sones" noem te skep. “Dit was belangrik om hierdie geen-toegang sones in te sluit, want hulle het vir ons geïllustreer watter deel van die eksklusiewe ekonomiese sone uit 'n omgewingsperspektief toegangklik sou wees vir aflandige windenergie."

Die bevindings van hul navorsingstudie het onlangs in die Journal of Energy in Southern Africa verskyn.

Volgens die navorsers het hul assessering getoon dat volgende die geskikste streke vir die ontwikkeling van aflandige windenergie is: Richardsbaai (binne die 10 km kusbuffersone & ongeveer 15 km aflandig suid van Richardsbaai), Durban (binne die 10 km kusbuffersone & ongeveer 25 km aflandig suid van KwaDukuza) en Struisbaai (binne die 10 km kusbuffersone & ongeveer 15 km aflandig).Windenergie_Donkerder-Infografika.jpg

“Ons studie het getoon dat Suid-Afrika 'n jaarlikse produksiepotensiaal vir aflandige windenergie van 44,52 terawatt-ure (TWh) elektrisiteit het as windturbines in vlak waters (dieptes minder as 50 m)  geinstalleer sou word en 2 387,08 TWh met windturbines in dieper waters (dieptes minder as 1 000 m).

Volgens Eskom gebruik 'n tipiese Suid-Afrikaanse huishouding sowat 30 kilowatt-ure (KWh) per dag of 10 950 KWh per jaar. Dit beteken 44,52 TWh kan tegnies elektrisiteit aan ongeveer vier miljoen gemiddelde huishoudings per jaar verskaf. Net so kan 2 387,08 TWh rofweg 218 miljoen gemiddelde huishoudings per jaar van elektrisiteit voorsien.

“As 'n mens in ag neem dat Suid-Afrika se jaarlikse elektrisiteitsverbruik sowat 297,8 TWh is, toon ons berekeninge dat die geskatte jaarlikse energieproduksie (JEP) wat deur 44,52 TWh beskikbaar is, teoreties gesproke in 14,9% van ons nasionale elektrisiteitbehoefte kan voorsien. Net so kan die geskatte JEP wat 2 387,08 THw beskikbaar stel, teoreties agt keer in die land se jaarlikse elektrisiteitsbehoefte voorsien."

Hierdie syfers dui daarop dat ons nie die groot potensiaal wat aflandige windenergie inhou, moet ignoreer nie – veral indien ons die Internasionale Energie-agentskap se voorspelling in ag neem dat die wêreldwye vraag na elektrisiteit teen 2050 met ongeveer 56% gaan styg, sê die navorsers.

Volgens hulle is dit assessering van aflandige windenergiebronne noodsaaklik vir ontwikkeling van plaaslike aflandige windindustrieë.

“Die kwantifisering van die omvang van hierdie bronne is 'n belangrike eerste stap in die ontwikkeling van markte vir aflandige windenergie. Dit bied waardevolle insigte in die beplanning van energiesekerheid op nasionale vlak en vir die private sektor se belegging.

Suid-Afrika is verouderende steenkoolenergievloot sal oor die verloop van die volgende 30 jaar uit diens gestel word. Dit skep 'n geleentheid vir die oorskakeling na aflandige windtegnologie wat 'n skoon alternatief vir elektrisiteitsopwekking wat groot kragsekerheid en 'n geleentheid vir ontkoling vir Suid-Afrika bied."

Die navorsers noem ook dat hoewel die ontwikkeling van aflandige windenergie 'n groeiende bedryf wêreldwyd is met aansienlike groei in veral Europa en Asië, is Suid-Afrika steeds agter in die ontwikkeling hiervan.

“Hoewel die Hernubare Energie Onafhanklike Kragprodusent Verkrygingsprogram in 2011 bekendgestel is om hernubare energieprojekte te verkry, het dit nog nie die oorvloed van aflandige windenergiebronne wat beskikbaar is, ondersoek en oorweeg nie."

Deur hierdie bronne te ontgin, kan Suid-Afrika ook sy koolstofvrystelling aansienlik verminder, voeg die navorsers by.

Foto: Windturbines in die Ierse See. Krediet: Wikimedia Commons

Infografika: Geola Bergman


SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Gordon Rae

Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese

Fakulteit Ingenieurswese

Universiteit Stellenbosch

E-pos: gordonrae95@gmail.com


Dr Gareth Erfort

Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese

Fakulteit Ingenieurswese

Universiteit Stellenbosch

E-pos: erfort@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za