Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Trauernicht geëer vir die bevordering van mediese fisika in Afrika
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 04/03/2021

Dr Chris Trauernicht, hoof van die Afdeling Mediese Fisika by die Universiteit Stellenbosch (US), het die luisterryke toekenning van die 2020 Internasionale Dag vir Mediese Fisika (IDMF) ontvang vir die beduidende bydrae wat hy wêreldwyd tot mediese fisika gemaak het. 

Hierdie jaarlikse toekenning, wat deur die Internasionale Organisasie vir Mediese Fisika (IOMP) uitgegee word, gee erkenning aan uitnemendheid in mediese fisika “met ʼn besondere oog daarop om mediese fisika by groter gehore te bevorder en die beklemtoning van die bydrae wat mediese fisika maak tot pasiënte sorg". 

Die sitasie het veral klem gelê op Trauernicht se deurslaggewende rol in die Federasie vir Afrika Mediese Fisika-organisasies (FAMPO). 

Mediese fisika is die aanwending van fisika in geneeskunde, hoofsaaklik in radioterapie, radiodiagnose of kerngeneeskunde. Die IDMF-toekenning is gekoppel aan die Internasionale Dag vir Mediese Fisika waar die naam ook vandaan kom. 

In ʼn onderhoud het Trauernicht gesê dat dit ʼn eer is om erken te word vir sy bydrae. Hy het benadruk dat mediese fisika onderverteenwoordig in Afrika is en dat daar net meer as 1000 mediese fisikusse vir die kontinent met ʼn bevolking van meer as 1.3 miljard mense is.

“Om dit in perspektief te plaas, die Amerikaanse Vereniging vir Mediese Fisikusse het ongeveer 8500 lede, vir sowat ʼn kwart van die bevolking. In Afrika het slegs ses van die 54 land wetgewende erkenning vir mediese fisikusse, slegs 11 lande het ʼn nasionale vereniging, net 10 lande bied akademiese opleiding in mediese fisika, en slegs sewe bied kliniese mediese fisika opleiding wat na akademiese opleiding volg. ʼn Artikel wat in 2015 in die Lancet Oncology gepubliseer is beraam dat daar teen 2035 sowat 22 000 mediese fisikusse benodig sal word in lae-en middelinkomste lande oor die wêreld, waarvan baie in Afrika is. Dit is net om die behoefte vir radioterapie te dek en neem nie beeldingsmodaliteite, soos radiodiagnose en kerngeneeskunde of regulatoriese aspekte in ag nie. Daar is ʼn massiewe gaping," het Trauernicht gesê. 

Hy het bygevoeg dat daar in Suid-Afrika net ongeveer 140 mediese fisikusse is, waarvan die meeste in radioterapie werk. 

“Ons is een van die ses lande wat registrasie vereis, in ons geval by die Raad vir Gesondheidsorg-beroepslui in Suid-Afrika. Ons vereniging was in 1960 gevestig en is een van die oudstes ter wêreld. In Suid-Afrika is ons redelik wel af in vergelyking met die res van Afrika." 

Trauernicht het gesê dat FAMPO, wat in 2010 gestig is, se doelwitte insluit die bevordering van mediese fisika as ʼn beroep, asook die opleiding van mediese fisikusse en die geskikte gebruik van tegnologie. 

Trauernicht, is in Kaapstad gebore en het in Namibië skoolgegaan, en het deur middel van ʼn beurs fisika by die Universiteit van Kaapstad gestudeer. Hy het nie geneeskunde geswot nie, maar wel teoretiese fisika. “Ek moes al die mediese fisiologie vakke opvang en het sedertdien ʼn MSc en ʼn PhD in geneeskundige fisiologie voltooi." 

Hy was ʼn voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Fisikusse in Geneeskunde en Biologie, en het sedert hy in 2017 by die Tygerberg-hospitaal begin werk het, die afdeling geherstruktureer om meer kernpersoneel, soos mediese fisikusse aan te stel, en het ook kapasiteit gebou vir die kliniese opleiding van interns, insluitende interns van ander Afrika-lande.

Tygerberg-hospitaal is deur die Internasionale Atomiese Energie-agentskap aangewys as ʼn streeks opleidingsentrum vir mediese fisikusse, en befonds ook vennote vanuit Afrika. In sy kapasiteit as ondervoorsitter van FAMPO het hy die akkreditasie van mediese fisika opleidingsprogramme in die streek begin bevorder, en beoog om uiteindelik mediese fisikusse by FAMPO te registreer waar daar tans geen plaaslike registrasie is nie. 

“Die hele idee van akkreditasie van opleidingsprogramme en registrasie van mediese fisikusse in Afrika was nie my idee nie, en was ʼn spanpoging binne FAMPO. 

“Ons hoop dit sal die status van mediese fisikusse verhoog in hulle onderskeidelike lande en sal help om plaaslik erkenning te gee en geregisteer te word by hulle nasionale gesondheidsberoepe rade."​​