Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldwildlewedag: Kartering van uitheemse bome om ons woude te beskerm
Outeur: Alanna Rebelo & Nicholas Coertze
Gepubliseer: 03/03/2021

​Woensdag (3 Maart) is Wêreldwildlewedag. In ʼn meningsartikel vir News24 voer dr Alanna Rebelo en mnr Nicholas Coertze (Bewaringsekologie en Entomologie) aan dat ons uitheemse bome moet karteer om ons woude te beskerm.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Dr Alanna Rebelo & Nicholas Coertze*

Die tema van Wêreldwildlewedag (3 Maart) is vanjaar “Woude en Voortbestaan: Hoe om Mens en Planeet te Onderhou". Inheemse woude word in Suid-Afrika erken as een van 'n paar ekosisteme waarvan die voordele vir die samelewing buite verhouding groot is in vergelyking met die grootte van die sisteem self. Hierdie voordele sluit voedselproduksie, medikasie, ontspanning, watersuiwering en koolstofreserwes in.

Suid-Afrika se gematigde woude, wat Afro-gematigde woude genoem word, is onder dié ter wêreld wat die grootste getal spesies huisves. Daar is talle verskillende soorte woude oor die land heen: Die nasionale plantegroeikaart onderskei tussen 12 woudgroepe, wat op hulle beurt in 26 soorte onderverdeel is.

Nietemin beslaan inheemse woude minder as 0,56% van die land se oppervlakte. Dit wissel van klein lappies bome (1 ha) tot 'n paar wat meer as 1 km² beslaan, terwyl groter woude slegs langs die Tuinroete en op die Laeveldse platorand voorkom.

Daar is 'n wanopvatting in Suid-Afrika dat woude een van ons mees bedreigde ekosisteme is, en baie mense “plant bome om die aarde te red". Hierdie dikwels misleide inisiatiewe kan sake erg bemoeilik. Die nagevolge van wat soms “die lang skadu van koloniale bosbou" genoem word, verteenwoordig 'n werklike bedreiging vir sommige ander ekosisteme in Suid-Afrika, soos savanna, fynbos en grasveld.

Nietemin beteken dit nie dat ons inheemse woude nie óók beduidende bedreigings in die gesig staar nie. In die verlede is sommige woude uitgeroei sodat eksotiese plantasies daar gevestig kon word. Ons woude word ook erg afgetakel deurdat hout vir brandstof en boumateriaal geoes word, bas vir medisinale gebruik geoes word, en habitat weens haweontwikkeling en wateronttrekking verlore gaan.

Indringing deur uitheemse plante

'n Verdere ernstige bedreiging vir inheemse woude is indringing deur uitheemse plante. Onder die vernaamste indringers in woude tel stinkboom (Acacia melanoxylon), luisboom (Solanum mauritianum) en lantana (Lantana camara).

Indringerplante veroorsaak elke jaar verliese van dosyne biljoen rand vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit is veral uitheemse bome wat enorme skade aanrig. Hierdie indringers is al as 'vuuraanstekers', 'vyande van biodiversiteit' en 'water-opslurpers' beskryf.

Brande ontstaan selde in inheemse woude in Suid-Afrika. Dieselfde kan egter nie gesê word van ander, brand-aangepaste plaaslike ekosisteme nie, soos fynbos, savanna en grasveld. In sommige gevalle is bome beter beskerm weens klimaatsomstandighede (hoë humiditeit), maar dikwels is dit omdat woude tot brandbestande habitats – soos klowe, steiltes en klipperige hellings – beperk is. Uitheemse spesies kan tot by of verby die rand van 'n woud indring, wat hierdie beskermende buffer teen brande aftakel en brande deurlaat om ouwoudsisteme binne te dring en te beskadig.

Uitheemse bome is geensins bevorderlik vir biodiversiteit nie. Baie studies het al bevind dat aanplanting van of indringing deur uitheemse bome aftakelend inwerk op klein soogdiere, ongewerweldes en plantspesies. Laastens slurp uitheemse bome groot hoeveelhede water op. Volgens een navorsingstudie verminder uitheemse bome die gemiddelde jaarlikse afvloeiwater in Suid-Afrika met 1,4 miljard m3 (3%). 'n Mens kan jou dit alte duidelik voorstel as jy besef dat dit uitgedruk kan word as die ekwivalent van 577 600 swembaddens van Olimpiese afmetings.

Gevolglik is dit noodsaaklik dat ons uitheemse bome moet uithaal om biodiversiteit en ons waterbronne te beskerm, asook om die gevaar en verwoesting van brande te beperk. Een van die vernaamste struikelblokke in die bestuur van indringerbome in Suid-Afrika is die gebrek aan behoorlike, bygewerkte kaarte van sulke boomspesies. Sodanige kartering is nodig om die skoonmaakwerk te kan prioritiseer en die koste daarvan te bereken.

Dít is juis die gestelde oogmerk van 'n navorsingsprojek in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch. Ons weet dat ons indringerspesies in die fynbos- en grasveldbiome kan karteer, maar wat gemaak met die Afro-gematigde woude? Is dit moontlik om inheemsewoudbome en uitheemse indringers in hierdie soort woude van mekaar te onderskei?

Die projek het 'n versmelting van 10 stroke optiese Sentinel-2-satellietbeelde en 39 aanwysers gebruik, en ook versmelting met radar (Sentinel-1) ondersoek om indringerbome in die fynbos en woude in die Tuinroete-opvanggebied by George te karteer. Die opvanggebied is gekies weens die ernstige impak wat indringerbome daar het, wat die omstandighede geskep het vir die uiters gevaarlike wegholbrande in 2018. Ons het ook hommel-beeldmateriaal op velduitstappies in die berge ingesamel om opleidingsdata te help bekom waarvolgens die klassifikasie gedoen kon word.

Ons wou 'n kaart van die uitheemse bome in die George-opvanggebied opstel wat die jongste situasie so akkuraat moontlik uitbeeld. Dit moes geskied volgens 'n proses wat herhaalbaar is en vrylik aan belanghebbendes beskikbaar gestel kan word. Ons het 'n transdissiplinêre benadering gevolg sodat ons die tersaaklike belanghebbers kon betrek by die prioritisering van kategorieë uitheemse bome wat gekarteer moet word, die insameling van opleidingsdata en die validering van die bevindings.

'n Opname onder belanghebbendes het bevestig dat 'n kaart dringend noodsaaklik is, aangesien die jongste bygewerkte kaart van die gebied 12 jaar oud was. Belanghebbendes het die kernbelangrike boomsoorte uitgewys wat gekarteer moes word: wattelboom, gombome en denne.

Ons het verwag dat dit moeilik sou wees om tussen indringerbome en inheemse woude in die woudbioom te onderskei. Ons het egter ondervind dat hierdie uitheemse boomsoorte 89% akkuraat van inheemse plantegroei (wat inheemse woude insluit) onderskei kon word. Ons kon selfs uitheemse boomsoorte 87% akkuraat van mekaar uitken. Dit is nuttig, want dit help ons om indringerspesies doeltreffender uit te roei.

Wat kan ons dus op Wêreldwildlewedag, en daarna, oor indringerplante doen? Die publiek het 'n baie belangrike rol te vervul. Miskien moet ons in Suid-Afrika nie die Europese doelwit oorneem om bome aan te plant nie, maar eerder ons Afrika-ekosisteme beskerm deur uitheemse bome uit te haal.

*Dr Alanna Rebelo is nadoktorale navorser in die departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch. Nicholas Coertze het sy honneursgraad in 2020 by dieselfde departement afgehandel.​