Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ubuntu Dialoë-program kry nuwe bestuurder
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 03/03/2021

“Hierdie aanstelling as bestuurder van die Ubuntu Dialoloë-program is 'n geleentheid om skeppend te dink oor maniere waarop institusionele ruimtes soos museums en universiteite gebruik kan word om gesprekke oor die betekenis van Ubuntu te fasiliteer en te bemiddel. Ek is ook optimisties oor die implikasies daarvan vir die hervorming van maniere waarop ons in 'n diverse samelewing saamleef, maar met groter begrip van ons plek in verhouding tot mekaar."

Dit is die visie van die nuutaangestelde programbestuurder van die Ubuntu Dialoë-projek by die Universiteit Stellenbosch (US) se Museum, dr Marietjie Oelofsen, wat aan die begin van Januarie 2021 in haar nuwe pos begin werk het.

Die US het in 2019 saam met die Michigan State-universiteit (MSU) geskiedenis gemaak toe die twee instellings 'n memorandum van verstandhouding (MvV) onderteken het waarin hulle ooreengekom het om internasionale samewerking op die gebiede van opvoeding, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid by albei universiteite te bevorder.

Die ooreenkoms spruit uit 'n versoek vir ondersteuning wat die twee universiteite aan die Mellon-stigting gerig het vir sodat hulle 'n bestaande inisiatief, die Ubuntu-dialoëprojek, oor 'n tydperk van drie jaar kan uitbou; sodat hulle 'n raamwerk vir universiteitmuseums kan ontwikkel wat deur ander in Afrika en elders gevolg kan word; en sodat hulle kan saamwerk om dinamiese ruimtes te vestig vir die medeskepping en verspreiding van kennis en praktiese toepassing deur middel van plaaslike en internasionale dialoë.

Oelofsen is aangestel om te help voortbou op die bestaande werk wat sover deur haar kollegas gedoen is en om beide die US en MSU se visie, soos uiteengesit in die MvV, 'n werklikheid te maak.

“Dit is vir my 'n prioriteit om te verstaan hoe die projek ontwikkel het, wat die lesse is waarop ons kan voortbou en ons kan saamwerk om kreatiewe en produktiewe projekruimtes te skep – fisiek, virtueel en digitaal – wat opbouend en krities op die waardes wat inherent aan die idee van Ubuntu is. Ek wil in my rol as bestuurder saam met ander nadink oor hoe die Ubuntu Dialoë-program 'n transformatiewe reaksie op sommige van die mees tersaaklike vrae kan wees wat tans uit die geskiedenis van kolonialisasie en institusionalisasie, sistemiese ongelykheid, opklink," sê Oelofsen.

Die kern van die Ubuntu-projek is om geleenthede te skep vir die uitruil van idees tussen studente, akademici en praktisyns van die US en MSU rakende die konsep en betekenis van Ubuntu. Weens die voortslepende pandemie moet die projek aanpas by 'n 'nuwe normaal', sê Oelofsen, aangesien baie van die dialoë en seminare nie in hul gewone formaat sal kan plaasvind nie.

“Die COVID-19-pandemie het ons ruimtelike konsep in die wiele gery. Nou het ons 'n geleentheid om van voor af te besin oor wie anders in die program betrokke kan wees, op watter ander platforms kan die gesprekke plaasvind en hoe hierdie deelname in die toekoms kan voortgaan. Indien ons onsself sou toelaat om al die moontlikhede van die 'nuwe normaal' behoorlik te deurdink, sal ons met interessante verbintenisse dwarsoor dissiplines en oor akademiese en praktiese grense heen vorendag kan kom. Ek beskou my rol hoofsaaklik as 'n fasiliteerder van kreatiewe en produktiewe ruimtes waar gesprekke wat regtig interessant, divers en weldeurdag is, kan plaasvind wat nuwe verbintenisse tussen mense en instellings dwarsoor verskillende platforms sal skep," sê Oelofsen.

Oelofsen is 'n alumna van die US en het in 2010 'n MPhil-graad in die Joernalistiek cum laude verwerf. Sy het ook 'n doktorsgraad in Joernalistiek en Mediastudies by Rhodes-universiteit voltooi. Voordat sy die pos by die US-museum aanvaar het, was 'n postdoktorale genoot by die US se Eenheid vir Studies in Historiese Trauma en Transformasie. Haar verantwoordelikhede sluit in dat sy die hoofkurator van die digitale platform, Through the Eyes of Survivors of Apartheid: Life despite Pain and Suffering is. Sy was ook mederedakteur en bestuurder van die boek, These Are the Things that Sit with Us, wat gegrond is op die intergeslagtelike uitwerkings van apartheid op die inwoners van drie gemeenskappe in die Wes-Kaap.