Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet die wenner van Toekenning vir Voortreflike Onderrig: Juan Ontong
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Sandra Mulder]
Gepubliseer: 22/02/2021

​Die feit dat hy 'n Toekenning vir Voortreflike Onderrig vir 2020 van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het, getuig van mnr Juan Ontong se harde werk en passie vir onderrig en leer.

Ontong, 'n dosent by die Skool van Rekeningkunde in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, sê om hierdie toekenning in die ontluikende dosent-kategorie te ontvang, dien as 'n bevestiging dat hy op die regte pad is en dat sy doel in die lewe is om tot die opvoeding van die jeug by te dra.

Die US het die jaarlikse stelsel van institusionele toekennings vir voortreflike onderrig in 2017 ingestel om op institusionele vlak erkenning aan uitnemende onderrig te gee. Dit bestaan uit twee kategorieë, 'Uitgelese dosent' en 'Ontluikende dosent', gegrond op hul ondervinding en leierskap in die vakkundigheid van onderrig en leer.

Ontong se uitstekende onderrigvaardighede is deels die afgelope vier jaar gevorm as modulehoof van die van die Finansiële Rekeningkunde 188-module, 'n inleidende module wat 'n voorvereiste vir alle eerstejaar BCom-studente is. Nagenoeg 1 200 studente skryf jaarliks vir hierdie module in, wat dit die grootste klas ten opsigte van inskrywings in die Skool vir Rekeningkunde maak.

Sy taak is om aan studente 'n stewige en duidelike begrip van die basiese finansiële inligting te gee.

“Ek bied vier lesings per week aan en help ook met tutoriale en beginnersklasse. Die belangrikheid om finansiële inligting te verstaan en te kan interpreteer, is een van die belangrikste uitkomste van hierdie module," sê Ontong.

Wat dit nog ingewikkelder maak om hierdie klas aan te bied, is die feit dat baie van die studente dikwels nie in finansiële rekeningkunde belangstel nie, sê Ontong.

“My rol behels dus die skepping van inhoud wat met die werklike sakewêreld verband hou, wat verseker dat die studente geïnteresseerd bly en dat die inhoud 'n sin van weetgierigheid oor die belangrikheid van hierdie module by hulle sal laat vlamvat. 

“Ek erken dat onderrig as 'n belangrike instrument gebruik kan word om studente te bemagtig. Ek geniet dit regtig om met studente te werk en om klasse op 'n geselstrant aan te bied. Ek probeer om die tipe dosent te wees wat nie net kennis 'oordra' nie, maar wat ook 'n belangstelling by studente oor die onderwerp te ontlok," sê hy.

Aangesien Ontong besef wat dit verg om 'n goeie dosent te wees, is hy voortdurend besig om sy onderrigvaardighede verder te ontwikkel.

“'n Goeie dosent moet voortdurend aanpas om tred te hou met die nuwe geslag studente se veranderinge en hul manier van dink. Onderrig is 'n spanpoging tussen kollegas en studente; ons leer ook uit mekaar se ondervindings.

“My boodskap aan nuwe dosente is om altyd die aanvanklike rede waarom hulle by die US aangesluit het, te onthou. Die harde werk en toegewydheid tot onderrig van 'n hoë gehalte sal 'n baie groot uitwerking op jou studente se lewens hê. Ek wil nuwe dosente aanmoedig om die US se hulpbronne te benut en by projekte betrokke te raak wat hulle sal help om hul onderrigvaardighede te ontwikkel. Die vermoë om te hervorm en by te dra tot studente se ontwikkeling kan 'n baie vervullende werk wees."