Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing verbeter die lewens van MIV-blootgestelde, maar onbesmette kinders
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 19/02/2021

​Professor Amy Slogrove, ʼn pediater en epidemioloog by die Departement Pediatrie en Kindergesondheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), het onlangs ʼn toekenning ter waarde van $2 225 382 (meer as R33 miljoen) ontvang van die Nasionale Institute van Gesondheid (NIH) in Amerika, vir wat sy as ʼn “hoogs relevante" studie vir Suid-Afrika, en veral die Wes-Kaap, beskryf. 

Die toekenning sal aangewend word om die impak te bestudeer ​van blootstelling aan MIV en antiretrovirale behandeling op die oorlewing en morbiditeit van kinders wat aan MIV blootgestel is, maar nie besmet is nie. Dié kinders sal vergelyk word met ander wat geen blootstelling aan MIV gehad het nie, onbesmet is, en aan soortgelyke sosio-ekonomiese, voedings- en omgewingsbeperkinge tot gesondheid blootgestel is in ʼn omgewing waar daar ʼn hoë voorkoms van MIV is. 

Die studie, genaamd CHERISH staan vir Children HIV Exposed Uninfected Research to Inform Survival and Health. 

Die NIH, wat verbonde is aan die Amerikaanse Gesondheidsdepartement, is een van die wêreld se voorste mediese navorsingsentra. Slogrove, wat by die US se Worcester-kampus is, beskryf die toekenning as ʼn “groot stap vorentoe." 

Sy het gesê dat die toekenning gebaseer was op ʼn unieke versoek van die NIH vir projekte wat nuwe maniere sal vind om die lang-termyn uitkomste te evalueer van kinders wat aan MIV blootgestel is, maar onbesmet is, m.a.w. MIV-negatiewe kinders wie se moeders MIV-positief is. 

“Dit is een van vyf toekennings wat gemaak is vir projekte om die lang-termyn uitkomste te ondersoek in hierdie spesifieke groep kinders in suidelike en oostelike Afrika. 

“Dit is baie opwindend aangesien hierdie kinderbevolking vir baie jare lank nie op die globale radar was nie. 

“Mense was verlig toe MIV-oordrag van moeders na kinders verminder het en 95% van kinders wie se moeders MIV het, nie self ook met MIV besmet word nie. Dit was die oorspronklike goeie nuus aangesien dit baie belangrik is om te voorkom dat kinders besmet word. Nieteenstaande was daar ʼn stadige realisasie en aanvaarding deur die MIV-gemeenskap dat baie van hierdie kinders nie so goed vaar nie, selfs al is hulle MIV-negatief." 

Sy het verduidelik hoekom dit relevant is tot Suid-Afrika en die Wes-Kaap: “In Suid-Afrika word ten minste en in elke vier kinders gebore by moeders met MIV, en in die Wes-Kaap is dit een in vyf. Ons sien dat ofskoon die moeders antiretrovirale terapie ontvang en self oorleef, daar geen verbetering is in die uitkomste van MIV-blootgestelde, maar onbesmette kinders nie. Hulle is meer geneig om te sterf tydens die eerste twee jaar van lewe en hulle word meer gehospitaliseer, veral vir meer ernstige algemene infeksies soos longontsteking en diarree. Daar is ook kommer oor hulle groei en tot watter mate hulle die mylpale en ontwikkelingsdoelwitte van kinderjare bereik. 

“Sommige kinders wat gebore is by moeders met MIV doen goed – maar daar is steeds ʼn groep kinders wat nie floreer nie. Dit is waaroor CHERISH gaan – om beter te verstaan wie die kinders in hierdie groep is wat nie goed doen nie, en wat kan gedoen word om vroeë uitkomste in kinderdae te verbeter."

Slogrove het gesê dat sy “ongelooflik trots en dankbaar" is dat die CHERISH-projek byeen gekom het. “Dit is ʼn projek waarop ek alreeds baie trots is, en die span – wat gelei word deur Suid-Afrikaanse navorsers en ondersteun word deur Harvard – is ʼn goeie kombinasie van akademiese en ander vennote. 

“Dit is sulke belangrike navorsing vir Suid-Afrika aangesien ons so ʼn hoë voorkoms het van swanger vroue met MIV – amper 30%. Ons het ook die grootste bevolking in die wêreld van kinders wat gebore word by moeders met MIV. Ongeveer 25% van al hierdie kinders in die wêreld is in Suid-Afrika. Dit is Suid-Afrikaanse wetenskaplikes wat moet uitvind hoe om hierdie kinders, moeders en families wat deur MIV geraak word, beter te ondersteun."


Foto-erkenning: Damien Schumann