Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kom ons vier daardie eerste een
Outeur: Susan Lotz, Kim Wallmach & Zandile Kondowe
Gepubliseer: 19/02/2021

Dis waarskynlik die taal waarin jy iets minder mooi sal sê as jy groot skrik. Die kans is groot dat jy ook in hierdie taal droom. As jy gelukkig is, sal jy kleuterversies daarin ken, en dalk selfs ʼn paar argaïese uitdrukkings en opgemaakte woorde...

ʼn Mens se moedertaal is ʼn soort instinktiewe taal – diep ingebedde kennis wat vir jou as volwassene voel asof dit eenvoudig nog altyd daar was, en iets wat op die vreemdste tye na vore kan kom. Dit is gepas om ʼn internasionale dag te hê om erkenning te gee aan hierdie baie persoonlike en kosbare hulpbron wat ons help om sin van die wêreld te maak. ʼn Mens se moedertaal of eerste taal dien ook as wegspringplek om meer tale te leer – soms met soveel sukses dat dit vir party mense later moeilik is om te onderskei tussen hul eerste en tweede taal.

Internasionale Moedertaaldag word elke jaar op 21 Februarie gevier. Vir ons by die Taalsentrum verskaf dit groot vreugde om erkenning aan hierdie dag te gee, en dit bevestig ook ons bestaansrede op ʼn baie diep vlak. Taal begin by die eerste taal wat jy aanleer, en die wonder van daardie eerste taal leef voort en verder deur al die ander tale waarvoor jy jouself oopstel. Wanneer jy leer skryf en praat in ʼn ander taal as jou moedertaal, stimuleer en verbreed dit interkulturele ervarings en dialoog tussen mense. Ons glo heelhartig dat kennis van en liefde vir verskillende tale kan bydra tot sterker verhoudings tussen mense, kulture en organisasies. Wanneer ons taalvaardigheid by die Taalsentrum aanmoedig en aankweek, moedig ons ons studente en kliënte aan om alles te gee wanneer hulle nuwe tale saam met ons aanleer – of dit nou Xhosa, Afrikaans of Engels is.

Internasionale Moedertaaldag nooi elkeen van ons uit om vir ʼn oomblik stil te staan en na te dink; om te onthou hoe dit vir elkeen van ons op ʼn talige manier begin het. Wat is jou verhouding met die taal waarmee jy jou wêreld die heel eerste keer kon benoem? Hierdie dag gee ons ʼn kans om daardie persoonlike en individuele beginpunt te waardeer en te erken. Die viering van hierdie dag help om ons onderskeie erfenisse te bewaar en moedig ons aan om deel te word van ʼn meertalige, kultuurryke samelewing wat ʼn tuiste is vir ʼn verskeidenheid tale. Maar dit begin alles met daardie baie belangrike eerste een: die moeder van alle tale.​