Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US wil vanjaar voortbou op 2020 se suksesse
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 19/02/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) se oorkoepelende prioriteite vir 2021 bly dieselfde as verlede jaar: om die akademiese projek suksesvol te laat verloop, en om volhoubaar te bly as een van die voorste hoëronderwysinrigtings.

Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het in sy toespraak by die eerste virtuele personeelbyeenkoms van die jaar gesê die Universiteit sal vanjaar hierdie prioriteite nastrewe terwyl die gesondheid en veiligheid van alle studente en personeel eerste gestel word.

“Die US sal nie mense se gesondheid en veiligheid in gevaar stel nie. Bewusmakingsveldtogte om die kernboodskappe – dra jou masker, ontsmet gereeld jou hande en vermy fisieke kontak – word op ons kampusse en op sosiale media onderneem. Ek dink ons het verlede jaar goed gevaar en ek twyfel geensins daaraan dat ons dit vanjaar weer sal doen nie," het De Villiers gesê.

Hy het ook van die US se suksesse in 2020 uitgelig en het die pad vorentoe vir US-personeel en -studente geskets. Van die 2020-hoogtepunte wat hy genoem het, was:

  • Die geskiedkundige Desember-gradeplegtighede, met meer as 5 000 studente wat hul diplomas, sertifikate en grade ontvang het;
  • 'n Toename in navorsingsproduktiwiteit met die grootste bydrae ten opsigte van publikasies en doktorsgrade;
  • Die Universiteit was deel van die stigting van Stellenbosch Unite, 'n samewerkende beweging wat voedsel aan kwesbare huishoudings regdeur die pandemie versprei het;
  • Die Kampusgesondheidsdiens wat die Stellenbosse dorp en die Wes-Kaap gehelp het met sifting, beplanning en protokols; en
  • Die US wat daarin geslaag het om sy diensvoorwaardes te handhaaf en die meeste van sy werknemers te behou.

De Villiers het ook na die “opwindende ontwikkelinge" op die US se kampusse verwys. Baie van die Universiteit se kampusvernuwingsprojekte is voltooi. Van hierdie projekte waarna personeel en studente kan uitsien, sluit in die Jan Mouton-leersentrum langs die Neelsie, die Victoriastraat nie-gemotoriseerde vervoerprojek (NMV), opknappings en verbeterings aan die Meganiese en Megatroniese Ingenieursgebou en die unieke kunsinstallasie voor die Ou Hoofgebou.

Twee ander baie groot projekte wat vanjaar 'n werklikheid word, is die SUNFin- en SUNStudent-projekte. Die SUNFin-projek behels 'n opgradering van die US se finansiële stelsels deur die berugte “swart skerm" met 'n gebruikersvriendelike, weggebaseerde koppelvlak te vervang.

Die SUNStudent-projek het die bou van 'n splinternuwe studente-inligtingstelsel met moderne koppelvlakke behels wat 'n beter gebruikerservaring oor die algemeen sal bied. Die nuwe stelsel sal op nuwe en vinnigveranderende behoeftes kan reageer en word op Dinsdag, 6 April 2021 lewendig. 

Die US se nuwe Viserektor: Leer en Onderrig, prof Deresh Ramjugernath, het in sy spreekbeurt oor die planne vir die nuwe akademiese jaar gepraat. Hy het genoem dat die US se heel eerste aanlyn aanboordprogram op 1 Februarie 2021 aan alle eerstejaars wat voorlopig aanvaar is, bekendgestel is en amper 20% van die studente het reeds toegang daartoe verkry.

“Dit is 'n fantastiese inisiatief. Alles wat hulle oor die US behoort te weet, is net 'n paar muisklikke ver! Dit sal op SUNLearn beskikbaar wees waar hulle baie tyd as studente sal spandeer, so dit is 'n goeie manier om die platform te leer ken," het Ramjugernath gesê.

Die aanboordprogram sluit onderwerpe oor die universiteitslewe, tydsbestuur, streshantering, eksamen- en studievaardighede en finansiële geletterdheid in. Dit bevat ook 'n omvattende vraag-en-antwoord-afdeling, video's van studente wat maniere deel oor hoe om die universiteitslewe baas te raak en 'n virtuele kampustoer, terwyl dit ook maklike toegang bied tot inligting oor beskikbare ondersteuning.

Ramjugernath het ook die US se Uitgebreide Leerruimtes-projek genoem wat die Universiteit in November verlede jaar bekendgestel het. Hierdie ambisieuse en ingewikkelde inisiatief is daarop gemik om die installering van gevorderde toerusting in meer as 180 lesingslokale te versnel. Dit sal dosente in staat stel om stroomuitsendings van lesings te doen en om die lesings op te neem, asook om met studente te kommunikeer wat nie in persoon teenwoordig is nie.

Volgens Ramjugernath sal hierdie projek die US aan die “voorpunt ten opsigte van hibridiese leer" plaas en dit sal aan studente 'n hoë gehalte-ervaring bied wat soortgelyk is aan die werklike ervaring in die klas.

Die US se huidige Taalbeleid (wat in 2016 deur die US Raad goedgekeur is) verval vanjaar en dit sal gedurende 2021, die vyfde jaar wat dit in gebruik is, hersien word. 'n Taakspan is saamgestel en 'n finale konsep sal in Desember vanjaar aan die Raad voorgelê word.

Die US se Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, prof Nico Koopman, het by die byeenkoms aangekondig dat die US se omvattende Personeelgesondheid- en Welstandsplan goedgekeur is. Die plan is daarop gemik om US-personeel se gesondheid- en welstandstatus te verbeter, terwyl enige risiko's wat die welstand en gesondheid van werknemers mag bedreig, bekamp kan word.

“Ons sien uit na hierdie belangrike werk waarby alle omgewings betrokke sal wees. Ons verbind onsself daartoe om te sê personeel se gesondheid en welstand is beide 'n institusionele en individuele verantwoordelikheid," het Koopman gesê.

Hy het ook personeel aan die US se Personeelwelweeskantoor se vennootskap met die eksterne diensverskaf, Life Employee Health Solutions, herinner. Hierdie hulpbron se doel is om personeel en hul gesinne met 'n verskeidenheid persoonlike en professionele kwessies binne 'n algehele vertroulike omgewing by te staan. Die diens is 24 uur per dag, sewe dae per week, elke dag van die jaar beskikbaar.

Die US se personeel word aangemoedig om die Menslike Hulpbronne-blaaie op die US se webwerf te besoek vir meer inligting oor hierdie dienste, asook vir die nuutste inligting oor die prosedures en protokols vir die terugkeer na die kantoor vanjaar.

Klik hier, om die volledige personeelbyeenkoms te kyk. 

Staff Assembly 2021-02-18.pdf