Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente keer terug na baie beter Stellenbosch-kampus
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 18/02/2021

Ondanks die vele uitdagings wat die COVID-19-pandemie en inperkingsregulasies ingehou het, kan studente van die Universiteit Stellenbosch (US) uitsien daarna om na 'n kampus terug te keer wat nie net beter as ooit lyk nie, maar wat ook met uitstaande nuwe geriewe spog.

Die US sal in die komende akademiese jaar, wat op 15 Maart 2021 afskop, studente op kampus verwelkom vir hibridiese hoër onderrig wat uit 'n mengsel van kontak- en aanlyn sessies bestaan.

In ooreenstemming met die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024, kon die Universiteit werk aan sy kampusvernuwingsproses en ander infrastruktuurprojekte suksesvol voortsit. Die doelwit is om die standaard van die Universiteit se fisieke geriewe op te gradeer tot dié van 'n navorsingsintensiewe universiteit van wêreldgehalte. 

Volgens prof Stan du Plessis, die US se uitvoerende bedryfshoof, het die uitdagings wat 2020 gebied het, nie kampuswerksaamhede tot stilstand gebring nie. “Ons fasiliteitsbestuurspan het alles in die stryd gewerp om te verseker dat ons talle kapitaalprojekte sonder enige groot vertragings voortgaan. Danksy hierdie span se toewyding kan ons uitsien na die ingebruikneming van die indrukwekkende Jan Mouton-leersentrum oor 'n paar maande. Dit is een van 'n aantal voltooide projekte op ons kampusse."

Nicolette van den Eijkel, Hoofdirekteur: Fasiliteitsbestuur, sê haar afdeling het 'n kritieke rol daarin gespeel om die Universiteit se werksaamhede op dreef te hou deur al die vlakke van inperking, ten einde studente en personeel se veilige terugkeer na ons kampusse te verseker.

“Daar was verskeie hoogtepunte soos toe personeel verlede jaar November die nuwe Biomediese Navorsingsinstituut op die Tygerberg-kampus kon betrek, asook die voltooiing van 13 projekte in die laaste twee maande van 2020 en die begin van bouwerk aan 'n verdere 13 projekte voor die einde van die jaar," sê Van den Eijkel.

Met meer as dertig kampusvernuwingsprojekte wat tans onder toesig van die US se Fasiliteitsbestuur aan die gang is, kan studente en personeel uitsien na die volgende opwindende en voltooide ontwikkelings.

Victoria Nie-gemotoriseerde Vervoer (NMV)

Die Victoriastraat nie-gemotoriseerde vervoerprojek (NMV), wat die eerste van sy soort op die Stellenbosch-kampus is, sal voetgangerpaadjies, tasbare plaveisel vir mense met gesiggestremdhede en fietsrylane alles in een verskaf. 

Die NMV-projek, waarvan die konstruksiefase op 3 Junie 2020 begin het, behels ook nuwe hoofwatertoevoerpype, nuwe IT-hulsels, mangate en gedetailleerde plaveisel insluit.

Die nuwe watertoevoerpype sal die ouer pype in ooreenstemming met die US se watermeesterplan vervang. Dit maak vir pype met 'n groter deursnee voorsiening, ten einde verhoogde en meer betroubare hidroliese kapasiteit aan gebiede op die sentrale kampus te verskaf.

Jan Mouton-leersentrum

Die nuwe Jan Mouton-leersentrum, 'n gebou wat aan die spits staan van nuwe tegnologie, is in die kern van die Stellenbosch-kampus geleë en is tot die beskikking van alle fakulteite. Dit sal oop wees vir alle US-studente wanneer hulle na die kampus terugkeer op 15 Maart 2021.

Die sentrum beskik oor twee 260-sitplek veeldoelige lesingsale, twee 135-sitplek werkstasie-elektroniese klaskamers en twee 350-sitplek konferensie-ouditoriums. Dit maak dit uiters geskik vir die uitbreiding van hibridiese leer by die US.

Die sentrum het ook 'n baie klein koolstof-voetspoor, wat 'n gryswaterstelsel insluit wat die ablusiegeriewe bedien. Klaskamers vir groepswerk wat onderskeidelik 350, 270 en 150 sitplekke het, sal aan dosente en studente buigbaarheid verskaf omhul omgewing aan te pas om besprekings en spanwerk te fasiliteer.

Nog 'n groot voordeel is dat die Jan Mouton-sentrum op grond van die beginsels van universele toegang ontwerp is. Dit verseker dat mense met gestremdhede die hele fasiliteit, sy ruskamers, ouditorium en klaskamers met gemak kan gebruik.

Huis ten Bosch

Huis ten Bosch (HtB), wat in 2019 erg beskadig is in 'n brand, is in 'n moderne, doelgepaste koshuis omskep. Die koshuis sal weer oop wees vir studente wat in Maart 2021 terugkeer.

Die herstel en bouwerk het aan die begin van September 2019 'n aanvang geneem. Huis ten Bosch sal nie net aan die jongste munisipale en brandregulasies voldoen nie, maar sal ook op elke verdieping met moderne kombuisies vir studente toegerus wees en oor opgegradeerde elektriese en elektroniese toerusting beskik. 'n Nuwe IT-veselroete en sy eie wateraansluiting is ook van die talle verbeterings.

Meganiese en Megatroniese gebou

Opknappingswerk aan die Meganiese en Megatroniese gebou is op 9 September 2020 voltooi en die departement het op 5 Oktober sy intrek in die nuut-opgeknapte gebou geneem.

Die gebou sal as 'n katalisator vir die komende fases van die Ingenieurskampusvernuwingsprojek dien. Die nuwe Meganiese en Megatroniese gebou beslaan ses vlakke en sluit 'n nuwe 311-sitplek rekenaargebruiksentrum vir studente op die grondvlak in, asook drie nuwe elektroniese klaskamers op vlak 2 en vlak 3 sal 469 sitplekke verskaf.

Die nuwe Megatroniese laboratorium sal 51 nuwe werkstasies verskaf en kantore en oopplanareas vir nagraadse studente op vlak 4, 5 en 6 is ook opgegradeer en verdig.

Ou Hoofgebou

Die US het onlangs 'n nuwe kunswerk onthul voor die 134-jaaroue Ou Hoofgebou, wat die tuiste van die Fakulteit Regsgeleerdheid in Ryneveldstraat is.

Die kunswerk, wat as die “Aanhef-kunsinstallasie" bekendstaan, bestaan uit drie afsonderlike metaalplate wat die aanhef tot die Grondwet in drie tale (Afrikaans, Engels en isiXhosa) uitbeeld.

Die bekende landskapsargitek, Strijdom van der Merwe, het die kunswerk ontwerp. Hy het watersnytegnologie gebruik om die aanhef op die plate uit te sny.

Die kunsinstallasie beeld die US se verbintenis tot eenheid en nasiebou uit en is een van 'n reeks visuele vernuwingsprojekte wat tans op die US se kampusse aan die gang is.

Oorloopgebou

Personeel en studente van die Fakulteit Ingenieurswese het reeds hulself in die nuwe oorloopgebou in Hammanshandweg ingeburger. Hierdie gebou, wat met 'n unieke ontwerp spog, bestaan uit twee identiese gebou wat aan personeel en studente 'n ten volle funksionele werksruimte bied terwyl hul oorspronklike ruimtes opgegradeer word.

Vir meer inligting oor die US se deurlopende kampusvernuwingsprojekte, besoek www.sun.ac.za.