Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Korrupsie verhinder sosiale geregtigheid
Outeur: Chris Jones
Gepubliseer: 18/02/2021

​Saterdag (20 Februarie) word Wêrelddag vir Sosiale Geregtigheid gevier. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (17 Februarie), skryf dr Chris Jones (Eenheid vir Morele Leierskap) dat ons korrupsie met wortel en tak moet uitroei ten einde sosiale geregtigheid  ̶  die onderliggende beginsel vir die vreedsame en voorspoedige medebestaan van ons mense  ̶  te laat geskied.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Chris Jones*

William Davis maak in sy boek, Peace and Prosperity in an Age of Incivility (2006), die punt dat die balansering van die waardes van vryheid, orde en gelykheid help om vrede en voorspoed in 'n ingewikkelde en geglobaliseerde wêreld te maksimaliseer. Die bevordering van sosiale geregtigheid is net so belangrik. Volgens die Verenigde Nasies (VN) is dit “'n onderliggende beginsel vir vreedsame en voorspoedige medebestaan binne en tussen volkere". Ons gaan vanjaar onder meer hieroor nadink wanneer ons Wêrelddag vir Sosiale Geregtigheid op 20 Februarie gedenk.

Ek het onlangs 'n kollega gevra wat sy dink tans die ontwrigtendste faktor vir vreedsame en voorspoedige medebestaan onder Suid-Afrikaners is. Sy het sonder huiwering korrupsie genoem. Haar antwoord het my ietwat verbaas, aangesien ek gemeen het sy gaan as 'n uiters deernisvolle persoon sê COVID-19. Ons is bewus van die vernietiging wat hierdie pandemie gesaai het, hoeveel ontwrigting dit veroorsaak het en dat daar steeds groot onsekerheid heers, veral in 'n ontwikkelende land soos ons s'n.

Terwyl ek oor haar antwoord nagedink het, het ek op 'n baie interessante opname afgekom wat aan die einde van 2020 gedoen is en waaraan meer as 22 000 mense [ouderdom tussen 16 en 74] deelgeneem het. Dit was 'n opname oor “die openbare mening oor die belangrikste maatskaplike en politieke kwessies in 27 lande … waarvoor tien jaar se data gebruik is om die jongste tellings in konteks te plaas … [Dit] bied die grootste wêreldwye kwelpunte aan saam met of mense dink dinge in hul land is op die regte of die verkeerde pad".

Die opname het gevind dat 78% Suid-Afrikaners dink ons “land is [tans] op die verkeerde pad", in vergeleke met die wêreldwye gemiddeld van 62%. En terwyl die huidige pandemie die wêreld se grootste bekommernis bly, bekommer Suid-Afrikaners hulle meer oor werkloosheid en korrupsie. Altesame 62% van die respondente het (soos in Italië) werksverliese as hulle vernaamste bron van kommer in 2021 aangedui, en nog 62% het (soos in Hongarye) korrupsie as 'n kommerwekkende kwessie beskou. Op 'n wêreldwye skaal het egter slegs 37% van die respondente werkloosheid as hul vernaamste bekommernis aangedui, terwyl slegs 27% oor korrupsie bekommerd is.

As 'n mens die vernietigende uitwerking van COVID-19 op ons land se reeds beleerde ekonomie in ag neem, is hierdie uitslag dalk nie 'n verrassing nie. Die pandemie het twee miljoen werksverliese gedurende die eerste vlakke van algehele inperking tot gevolg gehad – met 'n werkloosheidskoers wat bo 30% gestyg het – en het nog meer korrupsie tot gevolg gehad, met hooggeplaasde regeringsamptenare wat in sameswering en omkopery in die aankoop van persoonlike beskermende toerusting (PPE) geïmpliseer is.

Volgens die opname is Suid-Afrikaners een van die bekommerste bevolkings in die wêreld. Ons sombere uitkyk is die tweede ergste. Slegs respondente in Peru is meer pessimisties.

Wanneer 'n mens na die vyf grootste bekommernisse wêreldwyd kyk, naamlik COVID-19, werkloosheid, armoede en maatskaplike ongelykheid, finansiële en politieke korrupsie en gesondheidsorg – wat almal met sosiale geregtigheid te doen het – het Suid-Afrika ongelukkig nie 'n goeie prestasierekord in hierdie verband nie.

Hoewel al vyf hierdie kwessies uiters belangrik is vir ons land, bly ek dink aan wat my hooggeagte kollega oor korrupsie gesê het. Omdat korrupsie nie net gesondheidsorg nadelig beïnvloed nie, het sy geantwoord, kan miljarde korrupte rande op arm en werklose mense gespandeer word, op die aankoop van meer dosisse entstof vir die amper 60 miljoen Suid-Afrikaners wat die reuse-ongelykheid tussen privaat en openbare gesondheid sal aanspreek, en op die bekamping van misdaad en geweld.

Hierdie gedagtes het my laat terugdink aan wat die STIAS-genoot (die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing), Tukumbi Lumumba-Kasongo van die departemente Politieke Wetenskap en Internasionale Studie aan die Wells-kollege in sy aanbieding by 'n seminaar in Augustus 2018 gesê het. Hy het opgemerk dat “korrupsie nie ten volle as 'n enkele kwessie verstaan kan word nie. Dit is deel van die geheel. Baie Afrikalande bevind hulself in die posisie dat hulle iets beveg wat hulle nie werklik kan definieer nie, wat groter is as hulleself en waarmee die stelsel saamwerk".

Wat vir Lumumba-Kasongo duidelik is, is dat Afrika jaarliks miljarde verloor in sogenaamde “onwettige finansiële vloei" wat inderwaarheid baie van die ontwikkelingshulp wat die vasteland ontvang, tot niet laat gaan. “Stappe om korrupsie uit te roei, was tot op hede te niksseggend en te effens". Hy glo egter verandering in hierdie verband is moontlik. Baie Afrikalande is besig om hulself te hervorm deur “geregtelike aktivisme" wat aan die opkom is en deur “saam te staan deur die opkoms van maatskaplike bewegings".

Maar dit is nie genoeg nie. Ons het ook onder meer wette, 'n onafhanklike wetgewer en regbank, professionele etiek, nuwe gedragskodes en sterk demokratiese instellings nodig.

Lumumba-Kasongo het toe die baie belangrike en geldige punt gemaak dat “die samelewing op korrupsie as 'n maatskaplike ontwikkelingskwessie moet reageer. Sosiale geregtigheid is van sleutelbelang. Teenkorrupsiepogings moet sosiale geregtigheid aanspreek".

Hoewel Suid-Afrikaners volgens bogenoemde opname die tweede pessimistiese land uit 27 lande is, is alles nie wanhopig nie. Pogings word aangewend om korrupsie te beveg, soos die afdanking van die Gautengse LUR vir gesondheid, dr Bandile Masuku, en die skorsing van die presidensiële woordvoerder, Khusela Diko. Maar talle ander beweerde misdadigers moet nog vasgekeer word, en indien hulle skuldig bevind word, moet hulle die geld terugbetaal en tronk toe gestuur word.

Dit is egter belangrik om Lumumba-Kasongo se woorde te onthou dat ons baie meer as net die skorsing of selfs die afdanking van amptenare nodig het, want dit behandel slegs die simptome en nie die oorsaak nie. Sy gedagtes en voorstelle soos hierbo genoem, kan as 'n doeltreffende entstof teen die sielsvernietigende pandemie van korrupsie, bedrog en diefstal in Suid-Afrika en talle ander lande op die vasteland dien.

Dit is duidelik dat ons 'n sterk politieke wil asook 'n openbare en private onderneming nodig het om korrupsie met wortel en tak uit te roei, ten einde sosiale geregtigheid – die onderliggende beginsel vir die vreedsame en voorspoedige medebestaan van ons mense – te laat geskied.  

*Dr Chris Jones staan aan die hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.​